Terwyl ek nou laatoggend my bed opmaak nadat ek eers my episode in die Goue Vroue se laaste avontuur geskryf het, hardloop die gedagtes in my kop. Dis darem wonderlik hoeveel ‘n mens groei in jou lewe as jy dit toelaat!
Ek sou NOOIT in my wildste drome dink dat ek deel van ‘n groep vroue sou wees wat saam die lafste, die avontuurlikste, die verbeeldingrykste stories skryf nie. Dat ek dit enigsins sou waag nie. Want ek kan nie skryf nie. Ek kan nie opstelle skryf nie. Ek het nie verbeelding nie. Wat sal die ander mense dink?
Totdat ek dit een dag gewaag het om te begin gesels op ‘n blog. Nadat ek Julie Julia gesien het en ek op daardie stadium so vereensaam het op die plaas. My kinders was almal iewers in ‘n koshuis en ek vasgevang in my rekenaarwerk op die plaas. My beste vriendin het dorp toe getrek. Ek het nie meer by mense uitgekom nie.
Maar ek het in my bidboek geskryf. En ek het ingeskryf vir kursusse waar die dosent telkens op my werkstukke positief melding gemaak het van my taalgebruik. En iewers het ‘n saadjie begin groei.
Nou skryf ek nie meer so baie nie, en dís waaroor my gedagtes hardloop. Ek lees ook nie meer so baie blogs nie en dis ‘n fout. Want ek kan ‘n vaardigheid wat ek aangeleer het, weer verloor as ek dit nie gebruik nie. En as ek nie blogs lees nie kan ek dalk later die pot heeltemal mis sit.
Ek sal nooit ‘n Deon Meyer of ‘n Chanette Paul wees nie. Dis okay. Want ek is Madelé Burger. Netso kan ek ook nie ‘n Zorada Temmingh word wat my orrelspel aanbetref nie of ‘n Martjie nie en dis ook okay. Ook nie ‘n Erna Visser wat my borduurwerk aanbetref nie. Of my ma wat statigheid en goeie smaak aanbetref nie. Of my pa in sy goedheid nie.
En dis my punt. Ek sal dalk nooit ‘n Billy Graham wees nie. Of ‘n Broer Andrew nie. En dis juis dít wat my vir baie jare gekniehalter het. Want dit maak nie saak hoe goed ek ‘n ding doen nie, daar is altyd iemand wat beter is in daardie spesifieke ding. Of dit naaldwerk is, of musiek of geloof of skryf of of of of … En solank jy na daardie stemmetjie luister wat jou dit vertel, is jy gedoem. Want jy kan jou bes probeer en hard werk en jou alles insit en jou totaal uitbrand en uitmergel en dalk nooit daardie punt bereik nie.
Of jy kan besluit om die beste jy te word. Om dit wat jy doen met oorgawe en passie te doen. Om JOU beste te gee en te wees. En dit te geniet. Jou roeping uit te leef en die beste JY te kan word. Want as jy baie mooi dink, is daar net een Toortsie in die wêreld. En net een Una. En een Woordnoot. En een Kameel. En een Bondelsgedagtes. Een Seegogga. Een Appeltjie. So kan ek aangaan. En ons is bedoel om net een te wees. Uniek. Goed genoeg.
Hoe lekker is dit nou!
Toortsie
En nêrens gaan jy n beter Toortsie kry nie! Maar weet jy, ek is ok daarmee om nie die beste te wees nie, solank ek my bes probeer het. Solank mens vrede maak met jou eie deugde en tekortkominge, kan jy jouself aanvaar. En dan daaraan werk om te verbeter.
LikeLiked by 2 people
Praat jy! En dieselfde met Seegogga! Die beste en enigste een in die hele wye wêreld.
LikeLiked by 2 people
Toortsie, dis wonderlik geskryf en so belangrike les om te leer. Daar is sowaar net een van jou en ons is deel van jou wonderlike lewe! Dankie vir die mooi skrywe wat jy deel, les vir ons almal🤗🌻🌻
LikeLiked by 1 person
En een van jou! So bly ons ken jou!
LikeLiked by 1 person
Toortsie, sowaar, die fliek Julie en Julia is ook wat my geinspireer het om te begin blog! Dis ñ wyse skrywe hierdie van jou.
LikeLiked by 1 person
😀❤️
LikeLiked by 1 person
Voor dit het my kind my vam blogging vertel en ek het nie verstaan waarvan hy praat nie. Ek wonder hoeveel mense het danksy daardie fliek begin blog.
LikeLiked by 1 person
Welkom terug Toorts!! Jy is n goue vrou. En dis genoeg!
LikeLiked by 1 person
Dankie dierbaar!
LikeLiked by 1 person
Jy is genoeg is ‘n gewilde gesegde en baie waar. Daar is egter niks mee verkeerd om jouself uit te daag en te verbeter nie. Jy is ‘n inspirasie vir my.
LikeLiked by 1 person
Dankie! Jy is ook genoeg! 😀
LikeLike
So is elkeen uniek en spesiaal, solank as wat mens opreg en eerlik is (meeste met jouself) is jy genoeg. Ek leer so baie op die blogs, seker een van die wonderlikste goed waaraan jy my bekendgestel het, is Libby, danke weer-eens
LikeLike
Ag, maar ek is bly dat jy Libby geniet. Dit lyk my hier by ons gaan Libby maar stadig. Iets met die Admin te doen. Ek het ‘n dag gesukkel om aanvanklik aan te teken en hier is van my pelle wat net nie regkom nie.
LikeLiked by 1 person
Dit was maar ‘n stryd aan die begin hier ook, maar ek het eindelik darem ‘n nommer gekry. Nou geniet ek dit allervreeslik
LikeLiked by 1 person
Doen jy e-boek of oudioboeke?
LikeLike
Eboek
LikeLike
HIer praat jy nou eenhonderd persent die waarheid. Mens moet ophou om mens met ander mense te vergelyk en tevrede wees met dit wat jy bereik. Dit is beslis talente wat jy gekry het (al moes jy ook kursusse daaroor doen) en niemand kan dit van jou wegneem nie. Jy bereik die beste vlak daarin wat jy kan en dit is goed genoeg. Jy doen beslis nie niks nie.
LikeLike
Dankie, en ek weet dat jy ook woeker met joune, wat hulle ookal is. 🙂
LikeLiked by 1 person
Ek doen, beslis, ek doen. Dankie.
LikeLiked by 1 person
In Boekklub, toe die polisiemannetjie op die punt was om selfmoord te pleeg en ń vriend net betyds opgedaag het, het jy 8n sy gesprek vir hom hierdie een ding gesê, wat my by gebly het, “jy is genoeg”. Hoe waar is dit nie en hoe sukkel ons soms om ons self te aanvaar as “genoeg”. Dankie vir die skrywe, dit was nodig om te hoor.
LikeLiked by 1 person
Jy is genoeg, liefste Trommeltjies! 🙂
LikeLike
My hele kommentaar het verdwyn
LikeLike
Ek het hom by spam gaan uitgrawe!
LikeLike