Wat gaan aan?

Ek kom net nie by blogs uit nie. Ek kom nie by lees uit nie. Ek kom nie uit nie, wil ek amper bysê. En ek het altyd gesê dat ek nie soos een van daardie vroutjies wil word wat die hele tyd net met ‘n gemaakte sug probeer vertel hoe verskriklik besig hulle is nie. Besig wees is vir my goed. Ek funksioneer gewoonlik beter as die adrenalien pomp. Maar dan moet ek self die adrenalien laat pomp en nie deur ander gedruk word nie, want dan kook die adrenalien gewoonlik uit en is dit ‘n vreeslike gemors.

So tussen die kantoorwerk deur, waarby ek eintlik amper nie kom nie, is ek besig om my kreatiwiteit uit te leef wat vir soveel jare onderdruk was. In my besige tyd van mamma wees en die pot aan die kook hou kon ek by soveel goed net nie uitkom nie. En dit is juis in daardie tyd wat my blog ontstaan het omdat ek so ‘n behoefte gehad het om met ander mense iewers te kommunikeer. Sjoe!, en is ek dankbaar vir hierdie blog! Want dit het in vaardigheid in my ontwikkel wat ek nie eers geweet het ek het nie – dit het my geleer om my gedagtes in woorde om te sit. Dit het my leer waag op skryfgebied. Voor ek my blog gehad het, sou ek nie eers daaraan gedink het om aan skryfkompetisies deel te neem nie. En dadelik wil ek bysê: as ek aan enige kompetisie deelneem, is dit nie omdat ek so kompiterend van aard is nie, maar oor die uitdagingsfaktor daarvan. Omdat dit my dwing om my grense oor te steek. Omdat dit my dwing om iets nuuts by te leer. Want gewoonlik is ‘n kompetisie nie net gewoon en reguit en tussen die lyne nie. Daar is altyd een of ander uitdaging aan wat maak dat jy buite die boks moet dink. En is dit lekker daar buite die boks! Julle sal nooit raai nie!

Volgende Dinsdag, 7 Maart om 10 vm, is die dag wat al die VLV artikels moet inwees. En ja, ek onthou dat ek verlede jaar gesê het dat ek my nie weer so gaan druk nie. Wel, dit was verlede jaar! Genade! My oë staan stokstyf in my kop! Want ek hekel en brei en borduur vir ‘n vale om alles voor 7 Maart in te kry. En asof dit nie genoeg is nie, gaan ek vandag nog waag om die winkelsak wat gemaak word van ou dasse (!) te maak. En soos reeds hierbo gesê, is daar altyd ‘n kinkel aan. Want hierdie winkelsak moet ‘n binnesakkie hê en gevoer wees. Sommer net om snaaks te wees het ek vanjaar ook die piekeluitjies gemaak en hoop dat dit darem teen 7 Maart al ryp genoeg sal wees. Maar ek gaan nie die foccacia broodjie maak nie. Netnou verstaan ek daai woord verkeerd en noem die broodjie iets leliks!

Ag, en ek geniet my orrel! En my klavier! Ek neem les en ek oefen my dood, maar dis lekkerder as lekker. Ons beplan weer ‘n konsert in Junie, so ons wikkel!

Dankie vir die van julle wat nog altyd hier lees selfs al kom ek nie nou by julle blogs uit nie!

Dis lekker om te lewe!

Toortsie

35 thoughts on “Wat gaan aan?

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord