Wanneer is dit genoeg?

Wanneer het jy genoeg gespaar? O nee! Ek weet nie! Want ‘n mens kan somme maak en somme maak en dit is glad nie te sê dat jou somme op die ou end gaan klop nie. Want daar kom dinge oor ons pad wat ons nie voorsien het nie. Inflasie. Die aandelebeurs val. Onverwagte siektes en ongelukke. Wat nog alles? Soos iemand jare gelede gesê het: Jy kan jou plaas vir soveel miljoene verkoop as wat jy wil, gras gaan jy een of ander tyd sny. Bedoelende dat jy iewers weer iets sal moet doen om jou inkomste aan te vul.

Die ou ekonomiese reël is mos dat ons 10% van ons inkomste moet spaar vanaf dag een wat ons begin geld verdien, maar wie doen dit? Eintlik is dit nie net 10% nie, maar 10% PLUS 10%. En dan praat ek nie van die 10% vir die kerk wat ons heel eerste gee nie. Die eerste tien persent is vir die wis en die onwis. Vir die onverwagte wat gebeur en ons skielik ‘n geldjie nodig het. Vir siekte, vir reis, vir die kar wat gekoop moet word. Vir alles wat nie regtig deel is van ons elkedagse leefkoste nie. Die ander 10% is daardie waaraan ons nooit mag raak nie. Lammerooie wat kleintjies moet kry, wat moet sorg dat ons eendag geld het om van te leef.

Want sien, ons werk dalk vandat ons 20 is tot by 60 as ons gelukkig is, dalk tot by 70. Dus, 40 of 50 jaar. Dan tree ons hopelik af en leef nog 20, 30, selfs 40 jaar. Maar waarvan leef ons dan as ons nie meer werk nie? Van die skrale pensioen? Van ons geldjies wat ons weggesit het oor jare (of nie weggesit het nie?)

Jare gelede het ek by Amway geleer, ek dink dit was Robert Kiyosaki wat dit in sy boek, Rich Dad, Poor Dad, geskryf het dat jy eers kan dink aan aftrede wanneer die OPBRENGS uit jou BELEGGINGS meer is as wat jou uitgawes in ‘n maand is. Dis ‘n massiewe mondvol. Dit beteken dat jou beleggings soveel moet wees dat die dividende of die rente wat ons daaruit verdien, ons maandelikse uitgawes moet dek. Sodat ons nooit aan ons beleggings raak nie!

Op RSG het een of ander ekonoom blykbaar gesê, ek het dit nie self gehoor nie, dat ‘n miljoen rand op belegging vir jou R4 000 leefkoste per maand gee. Ja, die inkomste uit ‘n miljoen behoort darem meer as R4 000 per maand te wees, maar die res moet jy weer eens spaar om daardie miljoen in stand te hou. En dan is daar belasting ook nog. Dus, hoeveel moet jy spaar? Die som is maklik: Vir elke R4 000 wat jy tans in ‘n maand uitgee, moet jy ‘n EKSTRA miljoen gespaar hê. Of, van elke miljoen wat jy gespaar het, mag jy slegs R4 000 per maand gebruik. En selfs dít is nie in yster gegiet nie. Skokkend! Dit laat ‘n mens dink, né? En spaar is nie spaar in ‘n bank nie, sê die ekonome, want daar vreet die muise die geld op. Nee, dit is meer riskante spaar, in aandele, sodat dit byhou by die mark. En dís nou ‘n senutergende storie!

Dit lyk my dat dit tyd raak om ernstig ons boeke nader te trek en te kyk waar ons selfs nog meer kan sny en dit eerder spaar as op onbenullighede uit te gee. Geleidelik strenger en strenger met ons geld te werk, want oudag kom!

Toortsie

4 thoughts on “Wanneer is dit genoeg?

  1. Jou wyse woorde is goed om te lees – veral omdat ek vanoggend my kruideniersware vir die week gekoop het en amper omgeval to ek sien hoe duur alles was. Geen toilet rolle beskikbaar nie; groente nog meer duur as verlede week … ek het lankal afgetree en weet hoe belnagrik dit is om te sny, en te sny, en te sny 🙂

    Liked by 2 people

  2. Dan draai mens se kop nog meer wanneer jy nie net moet spaar nie, maar ook nog moet probeer tredhou met die immer verswakkende rand, so jy moet probeer om so groot as moontlik deel van jou spaargeld in die buiteland te belê, wat jou darem so bietjie beskerm.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s