Toe hou ons konsert

Ek het mos vir my ‘n elektroniese kerkorrel gekoop. Sewe maande vir hom gewag, maar uiteindelik, op 30 Augustus het hy hier aangekom. Die hele jaar lank al leer ek orrel speel, oefen ek hard. En so tussendeur probeer ek weer die ou klassieke drade op my klavier ook bymekaartrek. Ek het mos omtrent tien jaar gelede besluit dat ek nie meer klassieke musiek gaan probeer speel nie. Ek het net eenvoudig te min gespeel en dit was net ‘n frustrasie. Tot Aalsie my verlede jaar na hulle verjaarsdag nooi met die opdrag dat ons elkeen ‘n stukkie klavier gaan speel.

Die heel tyd wat ek vir die orrel wag, het ek in my agterkop: Hier sal konsert gehou moet word. Een dag gesels ek en my orrelmeester en ek vertel hom wat ek wil doen: Ek wil sommer op ‘n dag die ouetehuis of die dienssentrum bel en sê: Stuur ‘n bussie met so 10 tot 15 mense dan speel ek vir hulle klavier en orrel vir ‘n uur. Enige iets van ‘Bring my die ou-ou tyding’ af tot hoog klassiek. Alles wat ek kan speel. Orrelmeester is dadelik lus vir saamdoen.

Net daar besluit ek op ‘n datum: Saterdag wat verby is. In my musiekkamer wat maar nie baie groot is nie. Twee konserte – die oggend een en die aand een. My dogter val dadelik in. Sy sal kom saamspeel: Klavier, blokfluit en dwarsfluit. Orrelmeester kan klavier en orrel speel en natuurlik sing ook. Ek bel ‘n ou vriendin wat altyd soos ‘n engel gesing het. Sy sing nie meer nie, maar het darem nou ook lus om die stem weer aan die gang te kry. Sy en orrelmeester oefen en oefen en ek en sy gaan ‘n duet speel op die klavier. Ek sal ook ‘n stukkie op die orrel probeer, al gaan dit maar nog mogge troffe en klavier speel. My orrelisvriendin van ‘n ander dorp belowe om ook te kom speel. Ek is in ekstase! Hier kom ‘n ding. Seegogga hoor hiervan en begin ook net daar hard oefen aan Die meisie met die vlasblonde hare.

Ek stuur ‘n advertensie uit. Die konsert is gratis, maar mense moet bespreek. Een dag vat ek stoele en kyk hoeveel mense ons gaan inpas en ek sit die hele trap vol om ook daar die sitplekke te tel. Die mense bel en bespreek. Ons oefen vir ‘n vale, elke oomblik van die dag.

Saterdagoggend half 11 kom die karre in ‘n stroom. Ons kinders help die verkeer reël. Die deelnemers is die ‘ushers’ wat help dat die mense op die regte plek kom. Ons pak die mense soos sardiens in, die hele musiekkamertjie vol en nog sommer die trap ook! En ons maak musiek! Ons is in die wolke! Die konsertgangers geniet die knusheid en daar is sommer net ‘n heerlike atmosfeer. Orrelmeester gee vir my dogter ‘n stuk manuskrippapier. Sy moet ‘n frase musieknote skryf en daar voor die mense, sonder dat hulle dit bespreek of geoefen het, skep hulle ‘n lieflike stuk musiek tot vermaak van almal.

Dit was ‘n fees. ‘n Behoorlike fees. Ons het gekonsert dat die biesies bewe en elke sekond daarvan geniet. As die Here ons spaar gaan ons dit weer doen! Ons daag die gehoor uit: Ons het ons talente met julle gedeel, gaan julle nou weer en deel julle s’n met ander. Op watter manier ookal vir julle werk. Pay it Forward!

Toortsie

19 thoughts on “Toe hou ons konsert

    1. Seegogga! Ek is steeds in die wolke. Ek sweef! Intussen het my meisiekind besluit om van daai goed wat sy met die fluit en blokfluit gespeel het en orrelmeester begelei het, Maandag op haar konsert wil speel en ek moet haar begelei. My neus is in die klavier. Ek oefen my kapot! Die klomp woel met my! 🙈

      Liked by 1 person

    1. En die volgende oomblik bars ek en Meusiekind in ‘n totale giggelaanval uit. In die middel van die stuk, met geen rede nie!
      Ons speel soms duette en dis gewoonlik chaos, want ons bladlees en mors en lag dan verskriklik.
      Dis eintlik ‘n duet wat ek en iemand anders gespeel en geoefen het. Sy het egter erg verkoue gehad, eintlik ‘n sangeres. Haar stem gee in en 4 nm onttrek sy van die aand se konsert. In die uur voor die konsert moet begin en die gaste opdaag, word daar planne gemaak. Ons oefen stukke in om die plekke op die program te vul. Bladleesvaardighede word tot in die uiterste beproef. So Meisiekind klim in Sangeres se plek in by die duet. Ek dink terwyl ons speel, sjoe dis darem net verskriklik lekker so saam met my kind. Ek loer vir haar en sy vir my en die volgende oomblik breek ons ons en lag so dat ons eers moet stop en beheer terugkry voor ons verder kan speel. 😂

      Like

  1. Klink inderdaad soos ‘n fees … en so ‘n gemaklike samesyn, dit gee gewoonlik ‘n groot lekkerte af! En ek het die woorde “mogge troffe” nog net by my man gehoor en hier gebruik jy dit wraggies ook … dis so ‘n mooi beskrywing!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord