Kom ons praat slaaie

Ek hou daarvan om kos vooruit te maak. Dit is my reddingsboei, veral as ek weet dat daar ‘n woeste tyd aankom en ek so besig gaan wees en moeg gaan word en dan na enige verkeerde ding gaan gryp.
So tans, met die oog op vakansie wat voorlê en daar gepizza, gehamburger, gebrood en gehotdog word en allerhande ander verkeerde kos gegryp word, moet daar genoeg gaar kos in die vrieskas wees vir my om te eet. Daarom maak ek heelwat vleisgeregte vooruit. Die Kersfeeskos is reeds gaargemaak in die sonoond, veral noudat die son so skyn en ons nie altyd verseker is van ons elektrisiteit nie. Maar ek maak ook ander vleiskosse gaar, soos Frikkadelle.

Ek maak selfs slaaie in grootmaat, maar darem nie noual nie. Ek sal bv ‘n groot Kool- en appelslaai (Toortsie 1) maak wat ‘n paar dae hou. Of die blomkoolslaai (Toortsie 1) wat net soos aartappelslaai smaak. Ek het lank laas die wortelstolslaai (Toortsie 1) gemaak, maar stolslaaie werk fantasties. Dit lyk mooi en hou ‘n hele paar dae. 

Die Kool en Tunaslaai (Toortsie 1) is net so lekker en vars om sommer gou vinnig te maak en almal dan heerlik kan eet aan iets vars en gesonds. Dieselfde met die Tunaslaai vir een persoon (Toortsie 1).

Toortsie 2 het net sulke lekker slaaie. Dis nou appelkoostyd. Maak die soetsuur appelosies. Dis heerlik. Die marmerstolslaai is ook lekker. Die eierslaai (T2) is ook heerlik en tipies banting. Die kool en wortelslaai (T2) is ook lekker en hou ‘n paar dae, dus een keer se moeite vir baie keer se eet en iets wat reg staan in die yskas as die honger skielik knaag. Die peerslaai (T2), is baie lekker, maar ek dink nie dit sal ‘n paar dae hou nie. As mens die lagieslaai maak (T2) sonder die tamatie behoort dit ook 2 dae te hou. Die botterskorsieslaai (T2) is iets besonders vir saam met ‘n braaivleis.En die bessieslaai (T2) smaak soos poeding.

Ek hou natuurlik baie daarvan om slaaie in te lê en reg te hê vir enige oomblik se gebruik, veral as daar skielik gaste opdaag. Die Ingelegde kerrieboontjies en die Ingemaakte uieslaai (Toortsie 3) is absolute wenners in enige koskas. Daar is nog ‘n koolslaai in T3 en ‘n lieflike aarbeislaai, beslis iets anders as die normale mengelslaai. En as jy regtig iets anders wil maak, probeer gerus die gevulde avoslaai in Toortsie 3. 

En broccolislaai gee aan broccoli ‘n heel nuwe baadjie. Daar is ‘n baie lekker een in Toortsie 1, en in T3 ‘n kerriebroccolislaai wat net so lekker is. En natuurlik het Toortsie se vars slaai (T3) ook ‘n kinkel in. 

Sjoe! Dit was goed om self ‘n bietjie deur my boeke te blaai. Ek gebruik my boeke regtig daagliks, maar blaai so maklik na dieselfde reseppies wat ek altyd gebruik. Ek dink ek moet sommer NOU Checkers toe ry en gaan uie koop om in te lê!

Praat met my as jy belangstel in van die boeke of graag wil deel wees van ons Bantinggroep wat mekaar opbou en ondersteun. 

Toortsie

3 thoughts on “Kom ons praat slaaie

  1. Lekker slaaie! Noudat dit so warm is (want dit is WARM hier in Oos-London), maak ek sommer gou jou heerlike tuna slaai vir middagete (dit kortwiek sommer vir Eskom ook). Ons gaan binnekort so bietjie kamp, dan gaan ek daai bottels kerrieboontjie slaai van jou saamvat! Ek geniet jou boeke baie – dankie Toortsie!

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s