Die selfoonsage

So breek my selfoon nou die dag. Totaal uit die bloute. Totaal sonder rede.

Ek het ‘n Apple selfoon. My tweede Apple. Die eerste Apple het ek ‘n hele klompie jare gelede oornag gekoop nadat die ander maak wat ek gebruik het, elke keer een of ander pyn gehad het en ek net eenvoudig moedeloos was.

Apple nommer een het 5 jaar gehou. Toe was daar probleme en ek dink toe dat daar met my foon fout was en kry ‘n nuwe een. Die fout was toe nie met my foon nie, en ek het sowaar R3000 daarvoor gekry by die Applewinkel. Ek het vir my weer ‘n Apple gekoop, sommer ‘n kleintjie. Hy is nou al amper 3 jaar oud.

Verlede Donderdag sit ek en stiltetyd hou. Behoorlike stiltetyd noem ek dit, wanneer ek regtig lank stil word by die Here. Bid. Bybel lees. Die Woord oordink. Skryf in my bidboek. Iewers loor ek op my foon.

Nou, dis al jare lank ‘n stryd. Hoekom het ek nodig om op my foon te loer terwyl ek stiltetyd hou? Die meeste van die tyd sit ek hom sommer in ‘n ander vertrek sulke tye. Ek gaan tog nie as iemand by my kuier die hele tyd met my een oog op die foon loer nie! Dis mos swak maniere! En dit wat op die foon is gaan nie skielik wegraak nie, dit kan wag tot ek weer tyd het om daarna te kyk. en hier is ek nou met die heel belangrikste Persoon in my lewe besig en ek loer op my foon!

Toe ek uiteindelik Amen sê en my Boeke wegpak, is foon dood. Morsdood. Totaal dood. Nee, daar kom nie eers ‘n batterytjie te voorskyn as ek dit probeer aansit nie. Ook nie ná 24 uur op die laaier nie. My gewete kla my aan. Ek weet mos wat die fout is.

Neem die foon na Vodacom, ná nog ‘n paar uur skud hulle net kop. Foon sal vervang moet word. Daar is in elk geval nie Apple fone onmiddellik beskikbaar nie, daar is ‘n waglys.

Gelukkig het my man kort gelede sy foon laat opgradeer en sy vorige foon is beskikbaar. Die hele naweek sukkel ek en die nie-Apple om mekaar te vind. My en my man se kontakte is deurmekaar. Alles is deurmekaar. Die foon het ‘n heerlike groot skerm! Ons twee vind mekaar wel …

Gister kry ek skielik hierdie lawwe gedagte: Kyk gou of Appeltjie nie werk nie. Wat jy waar kry? Hoekom sal hy nou skielik wil werk? Sit hom aan … daar gebeur iets … my foon werk asof hy nog nooit ‘n probleem gehad het nie!

Die les? Soos ‘n wonderlike pappa het my Here vir my op ‘n liefdevolle manier gewys: My tyd met Hom is kosbaar. Dán wil Hy my volle aandag hê. Vir die Hele Tyd. En dat ek nooit iets belangriker as Hy kan stel nie.En dat ‘n mens iets wat vir jou SO belangrik is in ‘n oogwink kan verloor.

Ja, ek het gehoor. Ek het my speelding teruggekry, maar ek het gehoor.

Toortsie

11 thoughts on “Die selfoonsage

  1. Ai Toortsie, so praat die Here met ons … mens kan amper se, Hy’t met jou gepraat deur jou selfoon! Dit laat my dink – Berto se Apple selfoon (dit was nog ‘n weergawe 5), het ook op ‘n dag net gedood. Niks kon hom aan die gang kry nie. Toe sit hy dit in die spesery kas (van alle plekke) en los dit daar vir ‘n hele jaar (hierdie tyd was hy sonder ‘n selfoon – hy het dit sy “sabbatical from technology” genoem). En toe hy die foon weer na ‘n jaar uit die spesery kas haal, werk dit wraggies weer … dit het bietjie na kaneel en naeltjies geruik, maar dit het gewerk 😁.

    Liked by 1 person

  2. Ek gebruik nou my selfoon om te journal….maar ek is baie soet. Lees geen iets anders tussendeur nie. Totdat ek amen sê….so ek hoop maar my foon hou! SO bly jou Appel is nou weer reg!

    Liked by 1 person

  3. Ek ken daai ding, Toortsie. My kop wat so kan loop terwyl ek met die Here moet gesels. Soms maak ek net iewers ‘n nota as iets in my kop opkom, dat Satan my nie heeltyd daarmee pes en my aandag aftrek nie. As dit geskryf is… is dit uit my kop. Ek’s bly jou foontjie werk weer. Nou moes jy alles weer terug migreer. Wat ‘n pyn!

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s