Aan Bantingnuwelinge

Het jy besluit om die Banting (Keto) – leefstyl te volg? Hartlik geluk! Dit is een van die beste besluite wat jy nóg kon neem rondom jou gesondheid.

Ek wil jou sommer van die eerste oomblik af aanraai: Konsentreer op die reis. Op dit wat jy gaan leer. Op jou gesondheid wat jy gaan verbeter.  

Weeg altyd in dieselfde klere indien moontlik, in die oggend voor jy geëet het en met kaalvoete op dieselfde skaal. 

My vraag vandag aan jou: Hoe gaan dit met jou? Met jou gemoed? Hoekom wil jy graag Keto doen? Wil jy dit van dag 1 af voluit doen of wil jy dit rustiger vat en oor tyd dit infaseer?

‘n Baie oulike pediater by ons kursus het dit as volg aanbeveel vir die mense wat dit rustiger wil vat:

Stap 1: Probeer om alle koolhidrate uit jou drinkgoed te sny.

Stap 2: Haal alles ‘waarop’ jy kos sit, weg – die pasta, die rys, die brood en eet net dit wat bo-op kom.

Stap 3: Haal die suiker en stysel uit jou snacks uit. Geen tjips, tjoklits, ens meer nie. 

Stap 4: Nou geen rooilysitems meer nie – ook nie in jou kos nie.

Stap 5: Probeer om nie meer tussenin te eet nie.

Stap 6: Probeer slegs 2 keer per dag te eet.

Kom aan die beweeg.

Drink jou water. 

Neem sout in. Selfs net ‘n knippie sout op jou tong. Sout help vir die onttrekkingsimptome.

Hierdie week probeer hulle wat dalk nie nou al so alles wil uitsny nie, net met die drinkgoed. Nie meer suiker in jou koffie en tee nie. Verkieslik nie alkohol nie, maar as jy voel om steeds soms ‘n bietjie wyn te drink, nie meer as een glasie per dag nie. Koop vir jou kruietees wat jy sonder melk en suiker drink. Vervang die melk in jou koffie met room. 

Onthou dat as jy skielik alles los, jy vir ‘n paar dae baie sleg mag voel. Dit is normaal. Dis dan wat die bietjie sout baie help. 

Watter tipe oefening klink vir jou in jou lyn? En hoeveel? Jy hoef nie die dam onder die eend uit te ruk nie, net matige oefening en as jy alreeds oefen, hou net daarmee vol. 

Begin deur dit so eenvoudig as moontlik te maak: Maak ‘n vleis met groente vir etes. Eet soveel eiers soos wat jy wil met ‘n stukkie tamatie en komkommer. Begin leer solank die lyste sodat jy kan sien wat jy mag en nie mag eet nie. 

Rooi lys – glad nie; Oranje, net beperkte hoeveelhede, groen soveel soos wat jy graag wil eet. Lyste agterin my boek 3.

Eet wanneer jy honger is en hou op wanneer jy versadig is.

En onthou, vet is jou vriend! Veral dierevet.  

Hierdie is ‘n uittreksel uit die eerste boodskap wat ek vir nuwe deelnemers by ons Bantinggroep stuur. Ons groep kommunikeer in Afrikaans en per whattsapp. Ons ondersteun mekaar, gee mekaar raad, is sag met mekaar. Ons byt nie mekaar se koppe af of vergruis mekaar as ons sou struikel nie. Ons hou mekaar se hande vas en help mekaar om die nuwe leefstyl aan te leer.

Want ons verstaan wat dit beteken om te smag na suiker of stysel, na kosse wat so lekker lyk en is, maar ons siek maak. Ons leer mekaar ons kosgeheime en om ander kosse te maak wat selfs nog lekkerder is as dit wat ons nie meer wil eet nie.

Ons is tans ongeveer 50 in die groep. Nie almal is aktief nie. Soms val een dalk uit die bus uit en klim later weer op. Ons is ook daarmee gemaklik.

Nuwe lede is altyd welkom. Die koste is R750 eenmalig en dit sluit al drie die Toortsieboeke in.

Toortsie

6 thoughts on “Aan Bantingnuwelinge

Gesels saam, asseblief!