Die boete

Om in Italië met ‘n kar te ry is geen grap nie. So sê my man. Alhoewel, hierdie Suid-Afrikaanse boer het gery asof hy in Italië gebore en getoë is. Tien sterre vir hom!

Om in Italië te parkeer – dáár lê die éíntlike uitdaging. En dis dúúr en hulle kan vra nét wat hulle wil. Jy weet, die ekonomiese wet van vraag en aanbod?

So kry ons toe ‘n parkeerkaartjie. Om onkunde te pleit, help niks. Ignorance is no excuse. Ook nie dat jy nie Italiaans verstaan nie en Engels in Italië ‘n totaal vreemde taal is. Afrikaans nóg meer.

Ek wil dadelik die kaartjie iewers loop betaal, my reisgenote is die kalmte vanself. ‘Man, ontspan!’ Dis in elk geval naweek, waar gaan ek dit betaal kry?

Al wat enigsins op die lang getikte kaartjie verstaanbaar is, is die kar se registrasienommer, die bedrag en ‘n QR-kode. Op pad weg van dié dorpie af haal ek kaartjie uit om te betaal. Kliek op QR-kode, net ‘n telefoonnommer kom te voorskyn.

Wat nou? Die karhuurplek! Húlle gaan mos die moeilikheid optel as die boete nie betaal is nie. Maar nee, hulle kan dit nie betaal en ons gee die geld vir hulle nie. Hy wys my die maklike uitweg: betaal dit op die webblad aangedui. Hoe moeilik kan dit nou wees? Maar webblad is in Italiaans. 🥸

Ek stuur weer ‘n e-pos aan die karhuurplek. Hulle pleit onskuldig. Kaartjie net opfrommel? Daar’s nie ‘n manier nie! There’s a Father up above looking down in tender love.

Ek kontak my vriendin wat woon in Italië. Sy beveel ‘n plek met ‘n groot T aan: Tabbachi. By húlle kan jy die boete betaal!

Op ons laaste oggend soek ons ‘n T. Die man verduidelik in sy beste Italiaans dat ons dit beslis nie by hom kan betaal nie. Wel by ‘n ander T. Toevallig is sy bord grys en die ander een blou. Stap na volgende T. Nee, ook nie by hulle nie, by die poskantoor.

Vra op 2 plekke met handgebare hulp en uiteindelik kom ons by die Posta Italiano aan. Maar dis ‘n moderne poskantoor. Jy moet by ‘n masjien inklok en ‘n nommer kry. Ja, ‘n Italiaanse masjien. Ek gooi my hande in die lug. ‘n Vriendelike Engelssprekende jongman kom bied hulp aan, druk die regte knoppie en nr 52 spring uit.

Toe begin die laaaang wag. Uiteindelik is dit nr 52 se beurt. Italiaanse vrou lees kaartjie, skud haar kop heen en weer. My moed val in my skoene. Dan knik sy haar kop, kliek op die QR-kode, wys vriendelik na die kredietkaartmasjien en ‘n Engelsmagtige man links van my gee raad.

Lang storie wat my ‘n paar dae ‘n knop op die maag gegee het, maar …

Die boete is betaal! ‘n Hele oggend in sy kanon, maar ek kan met ‘n skoon gewete die land verlaat. Huis toe ná ‘n wonderlike tyd.

Chio!

Toortsie

10 thoughts on “Die boete

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s