Ouderdom

Ek het nog altyd gesê dat ek my nie gaan steur daaraan as ek 60 word nie. Dat ek bejaardheid ‘n ding of twee gaan wys. Dat ek reg is daarvoor.

En ja, ek ís reg daarvoor. Tog besef ek deesdae dat ek nie meer so jonk is as wat ek dink nie. So ‘n rukkie terug was daar ‘n foto in die omtrek van ‘n jong meisie wat dans waarby geskryf staan dat dít die prentjie is wat jy in jou kop het van as jy uithaak. Maar, dat dit wat jou kinders sien, ‘n lawwe ou tannie is.

Met drie nabyvriende wat in die afgelope twee jaar oorlede is, besef ek dat God besig is om te kap in ons bos. Dat, al beplan ek om minstens honderd te word, ons nie onsterflik is nie. Selfs die koningin was nie onsterflik nie, al het dit soms so gevoel. En as ‘n mens reeds bril en gehoorapparate dra, spierwit grys is, jy pieringsvol pille drink om ewige jeug te probeer behou, moet jy besef dat die klok stadig, maar seker besig is om te tik. Nee, ek is nog lank nie oor die muur nie, maar die realiteit is daar. Van die vorige geslag in ons familiie is nog net my ma se suster en haar man oor. Ons is besig om die oues te raak.

Op hierdie toer met ons dogter en kleinkindbaba is die realiteit net al hoe duideliker. Ons ry nog met die kar in die verkeerde kant van die pad en kom goed reg, maar die jeugdige verkenner in ons midde help baie en ons steun al hoe meer op haar.

Kleinkindkind bring die besef keer op keer dat hy in ‘n heel ander wêreld as ons gaan grootword. Dat hy dalk nog weer hierdie paaie gaan loop waar ons dalk nooit weer sal kom nie. Dat die toekoms in hóm gebêre is, nie meer in ons nie.

My gevolgtrekking? Ons raak dalk oud, maar nog lank nie koud nie! Ons jare vir toer is nog glad nie verby nie. Tog sal dit goed wees om elke keer een van ons kinders saam te neem om te help dink en doen. Of toergroepe oorweeg …

Toortsie

13 thoughts on “Ouderdom

  1. Ek stem saam met jou: ons kinders en kleinkinders het ander lyfstyle aangeneem. Die sukkel en swaarkry wat ons ervaar het toe ons jonk was het ‘n ander kleur aangeneem. Onthous darem dat ons so oud is soos wat ons voel!

    Liked by 2 people

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord