Die hekkies in ons pad

Kyk, ek praat glad nie hierdie kragkrisis waarin ons land tans verkeer, goed nie. Glad nie! En ek raak ook, nes al die ander mense gefrustreerd. Waar, wanneer dit ons ‘beurt’ was wanneer die krag af was, dink ek, moet ons nou begin kyk na wanneer die krag wel aan is. Dán is dit ons beurt.

Sulke hekkies in ons pad kan ons totaal verlam. Soos wat dit doen. Maar, as ons gelukkig is, kan dit ook lei tot nuwe idees. Soos wat die mislike Covid ook soveel mense verlam het, maar vir soveel mense die begin was tot nuwe dinge en nuwe denke.

In plaas daarvan dat ons heeldag sit en kla en mor en por en onsself in depressie in verknies, sal dit dalk tog help as ons buite die boks begin dink. Miskien is daar dinge wat ons nou anders moet doen? En ja, ons hét reeds al so baie toegegee! En ja, ons kan níé nóg toegee nie. Of kan ons?

Hierdie paar ure wat ons in ‘n dag wel ‘n bietjie elektrisiteit tot ons beskikking het, moet goed benut en bestuur word. Dit verg beplanning dat ons die dinge wat elektrisiteit vra, in daardie tyd doen. En terloops, ek wil graag glo dat die meeste besighede darem al teen hierdie tyd alternatiewe begin oorweeg het? So ek skrywe hierdie met die doel op huishoudings. Ek kan glad nie dink wat ‘n besigheid maak as hy nie sy volle tyd krag het nie.

Toortsie moet nog leer om haar ver ente se stap in die berg nou eerder te doen wanneer die elektrisiteit AF is, sodat sy tuis is, die paar ure kragtig kan gebruik. Sy moet ook haar somtydse middagslapies skeduleer vir die ‘af’tye.

Dalk is dit nou ‘n goeie tyd om ‘n nuwe ding aan te pak. Iets waarvoor jy nog nooit tyd gehad het nie. Soos ‘n handwerkie. Houtwerkie. Naaldwerkie. Of dalk weer begin regte boeke lees? Of die tyd gebruik en die buurman wat jy nog nooit ontmoet het nie, te gaan opsoek en sodoende sommer nuwe verhoudings bou. Of kerk toe gaan. Tyd met God spandeer. Bybelstudie hou. Nuwe idees met kos kry. In die ‘aan’ tye groter hoeveelhede kos gaarmaak, sommer genoeg vir ‘n paar dae. Dit spaar natuurlik ook baie krag. Maak sommer twee of drie hoenders op ‘n slag gaar. Of twee of drie kilogram se frikkadelle. Dieselfde moeite, dieselfde elektrisiteit, maar heerlik om uit te haal in daardie ‘af’tye. Die rok wat jy wil maak, knip terwyl die krag af is sodat jy kan stik wanneer die krag aangaan.

Kom ons raak kreatief, ook in ons denke. Ons fokus daarop om positief te bly te midde van al hierdie chaos. Want DAN het ONS gewen … en vorentoe beweeg.

Hoe bad jy ‘n padda in kookwater? Deur die water stelselmatig warmer te maak en die padda gewoond te maak daaraan. Ja, ons ís ‘n klomp paddas wat al jollie oulik is in hierdie warm water! As ons tot hier toe innoverend kon wees en dit kon maak, hoekom nie vorentoe ook nie?

Toortsie

19 thoughts on “Die hekkies in ons pad

  1. Gelukkig is mense nogal aanpasbaar maar dis steeds ‘n hele omwenteling om so sonder krag te wees. Klein insedentjie naweek gehad. My seun het vergeet om gas vir warm water te bestel. Staan die uwe in stort en skielik YSKOUE water oor my ou gebeentes. Gelukkig het hy nog klein gasbottel van braaier gehad anders het hul hele naweek sonder warm water gesit, haha. Dis maar ‘n klein storietjie.

    Liked by 2 people

  2. Beurtkrag is erg, maar dis selfs erger as dit nog aanhoudend reen ook 😬.
    Jy’s reg Toortsie, beplanning is beslis nou aan die orde van die dag – en gelukkig is ek tuis, so ek het tyd om etes uit te werk (ek dink dis beslis ‘n uitdaging wanneer beide ouers werk en daar is nog klein kindertjies ook).
    Ek het ‘n rugsak vol boeke terug gebring van Langebaan af … nou lees ek ‘n storie, raak honger terwyl ek deur (jou) resepte boekies blaai 😁 en doen bybelstudie … en as ek my kom kry, is die 3-4 ure beurtkrag verby (net sodat dit weer ‘n uur later vir nog 3-4 kan afgaan) … goeiste, ons is ‘n sterk nasie!

    Liked by 2 people

  3. Genade tog, ek is besig met konsert kostuums maak, ek beplan die stikkery en vas stekery so rondom beurt krag. Vanoggend letterlik uit die bed voor die masjien, sodat ek die krag kan benut. Ons brazi ook nou meer kere en kuier dan baie lekker.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!