Iets kleins wat groot geword het

Nou die dag vra hulle op RSG, waaraan kan jy dink wat jy gedoen het wat klein en onbenullig begin het en groot geword het?

Meer as twaalf jaar gelede het ek bang en onseker my eerste bloginskrywing gedoen op Madele Oor Leef. Die man met die hoed het my vrees raakgelees en geskryf: “Welkom, ons byt nie!” Wel, daardie blog het nie oorleef nie, maar ‘n paar dae na Madele Oor Leef se skielike afvee van die web af, is Toortsie gebore. Danksy daardie bang skrywes van daardie tyd het Toortsie gemaklik begin raak met ‘n skrywery. Voor blogs het ek net in my bidboek geskryf. En werkstukke vir my kursusse. Intussen het Toortsie haar vlerke al hoe wyer gestrek en selfs aan skryfkompetisies deelgeneem en verbasend goed gedoen. Daar is van haar kortverhale en selfs gedigte toegelaat in publikasies.

In Julie 2014 het die vetsugtige, moedelose Toortsie gebid en vir God hulp gevra. Sy het nie meer raad geweet nie. Sy het elke verslankingsdieet onder die son getroef (of het hulle vir haar getroef?) Dit wou nie meer werk nie. Sy kon net eenvoudig nie meer by enige van daardie eetplanne bly nie. Sy het gehoor van Banting, maar ja, ‘n mens moet GEBALANSEERD eet, so sy kan dit nie doen nie. Om die waarheid te sê eet sy konstant gebalanseerd te veel! (Intussen het sy agter gekom dat sy regtig baie gebalanseerd eet, geen mens het stysel of suiker nodig om ‘gebalanseerd’ te eet nie!)

Op my eie het ek daardie dag, 27 Julie 2014 met Banting begin. Alleen die onttrekkingsimptome trotseer. Al plek waar ek kon deel van my ervaring was op hierdie einste blog … Ek het nie geweet waar om hulp of resepte te soek nie, behalwe in Tim Noakes se rooi boek nie. Ek moes die lyste bestudeer van wat ek mag eet en wat nie. Ek moes die eie kos wat ek eet, onder oë neem en kyk wat ek steeds kan eet en waaraan ek moes skaaf. Ek het resepteboeke gefynkam vir resepte waaraan ek kan verander sodat dit Bantingvriendelik kon raak. Sodat ek darem nie élke dag van my lewe net van eiers, vleis en mengelslaai hoef te leef nie.

Vandag, 3 resepteboeke later wat steeds al drie baie goed verkoop (terloops, boek 1 is nou amper by die 3 000-merk!), is ek steeds op die Bantingpad. Ek het omtrent 16 kg verloor wat ek behou en nie heeldag op en af wipplank ry nie. My klere pas vir jare en sit gemaklik. Ek het al heelwat kursusse gedoen by Nutrition Network in hierdie verband, veral met die oog op diabetes. My Whattsapp Bantinggroep wat ook so met verloop van tyd begin het, is lewendig en die mense help en ondersteun mekaar. Nuwe mense leer die leefstyl aan met my en ander groeplede se hulp.

Ja, daardie kleine stappies wat ek amper 13 jaar terug geneem het met my blog en 8 jaar gelede met Banting, het my grootste verwagtinge oortref. As mens het ek ontwikkel. Ek voel of ek ander tot hulp en nut kan wees. Al wat ek kan doen is om in dankbaarheid en verwondering My God te loof en te eer, want sonder Sy hulp, Sy beskerming, Sy leiding en raad, sou albei hierdie klein beginnetjies net soos mis voor die son verdwyn het. Daardie tyd al.

Toortsie

22 thoughts on “Iets kleins wat groot geword het

  1. Dis ‘n lekker storie om te lees Toortsie … daardie ou gesegde van “wie nie waag nie, wen nie”, is darem so waar!
    Toe ons ‘n paar maande gelede met net ‘n paar tasse hier in Oos-London aangekom het, was daar nie plek vir boeke nie (my hart was seer daaroor). Maar ons het pas terug gekom van ‘n heerlike week in Langebaan en raai wat: Toortsie se 3 resepteboeke het plek in my rugsak gekry en pryk nou op my kombuis toonbank … ek kan nie wag om weer my hande daarin te slaan nie!

    Liked by 1 person

    1. Ai! Wat ‘n kompliment! Dankie dat Toortsie se 3 boekies ‘n plek in jou rugsak gekry het. Sjoe, ek kom tans net nie by my blogs uit nie en dis so lekker om jou kommentaar te lees. Hoe gaan dit met julle in Oos Londen?

      Liked by 1 person

      1. My liewe Toortsie, dis leeu wereld hierdie 😉. Ek kan eintlik nie glo ons is al 4 maande hier nie. Ongelukkig was daar nog nie veel tyd vir “verkenning” nie … Berto het in die diep kant ingespring en hy moes omtrent swem om kop bo water te hou! Maar ons het goeie vriende hier gemaak (wat al jare hier bly en vir ons mooi geleer het waar ons kan en nie kan/mag gaan nie). Ek was verbaas toe ons gister op die lughawe land en ek nogal opgewonde was om weer terug te wees … dalk is dit te danke aan ons nuwe vriende of ons huisie … maar hoe dit ookal sy, ons is bly om weer “tuis” te wees.

        Liked by 1 person

  2. Dis so lekker om jou verhaal te lees… dankie dat jy dit gedeel het. Ons kan altyd van mekaar leer, en vandag leer ons van jou dapperheid. Jou hart sit reg, jy weet waar jou hulp vandaan kom… en jy skroom nie om dit met oorgawe te deel nie. 🌸

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!