Die Goue Vroue is ‘n paar besonderse vroue wat allerhande wonderlike avonture saam beleef. Hulle het hulle eie dorpie, Rebusfontein, hier êrens in Suid-Afrika. Daar word ontspan, Franjeliko gedrink en dis altyd mooiweer. Hulle het pas teruggekeer van ‘n rit op ‘n luukse seiljag (waar hulle ‘n ongelooflike avontuur in die diepsee beleef het), en almal is op pad terug na Rebusfontein toe. Maar ‘n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie, want waar die Goue Vroue is, gebeur altyd iets!
Hierdie is Hoofstuk agt van ons nuwe avontuur. As jy hierna verder wil lees, klik hier: https://fresh.inlinkz.com/party/5ccd555160b847968834e2d35fc2042c

Versteen van die skrik sit die Goue Vroue in hulle deftige hommeltuigsitplekke, wat nog sagweg op en af sweef van die momentum van hulle onstuimige rit. Vasgevang in ‘n 1984-tydborrel in die mag van ‘n waansinnige Rus wat sy Roebels en sirkustrok by die Goue Vroue eis. ‘n Rus wat vlot Afrikaans praat omdat hy in Johannesburgse agterstrate grootgeword het.
“Alexi…” noem Una sy naam saggies. “Ja! Alexi! Jy is Alexi! Ek onthou!”
“Wat onthou jy?”, vra Alexi nors. “Daar is niks om te onthou nie, behalwe waar my geld en my trok is.”
“Nee man!, ek ken vir jou! Ons was saam op skool in Brakpan!”
“Nee, jy vat ‘n kans! Jy wil nou net met ‘n slim manier hier uitkom. Ek was nooit in Brakpan op skool nie”, brom hy.
“Mmmmm… en dan is hierdie mos jóú hond. Ja, dis jou hond! Kira! En jy is net so min ‘n Rus as wat ek een is.”
Skielik is daar ‘n harde knal, die hommeltuig gee ‘n ruk en val met ‘n slag grond toe. Gelukkig was die hommeltuig nie ver bo die grond nie, anders sou almal baie seergekry het. Terwyl die Goue Vroue nog verward rondkyk, sien jy net ‘n stofstreep soos Alexi teen die spoed van wit lig weghardloop, met sy hond agterna.
“Una? Hoe het jy geweet?” (Christa)
“Daar was altyd van die stadskinders by ons in die skool. Hul het in die koshuis gebly. Alexi was een van hulle. Hy het in ‘n droomwêreld van sy eie geleef en altyd vertel van sy hond wat hy eendag gaan hê. Kira, want sy moet kan heers. Hy het op ‘n stadium hipnose toegepas op mense, maar het die pad byster geraak en al ‘n paar keer met die gereg gebots. Die oomblik toe hy ontmasker was, is die spel wat hy oor ons gehad het, verbreek.”
“Julle, maar dit nou daar gelaat. Hier sit ons nou tussen niks en nêrens sonder vervoer. Om die waarheid te sê het ek nie eers ‘n idee waar ons is nie. Hoe op aarde gaan ons by Rebusfontein uitkom?”, vra WoordNoot.
“Ja, sies tog, Scrapy, wat jy nou nie al alles moes deurmaak om terug te kom op Rebusfontein nie en hier sit ons nou in die stof. Dors, sonder water ook nog.” (Appeltjie)
“Het iemand darem al gekyk of daar selfoonsein is? Dan kan ons mos darem iemand probeer bel.” (Sonell)
“Wat gaan ons maak?” Frannie is sommer ná aan trane.
“Luister! Ek hoor iets!” (Lolla)
“Dis ‘n helikopter! Julle, waai dat hy ons sien! Hy kom ons soek!” (Seegogga)

Statig hang die helikopter ‘n rukkie bokant die Goue Vroue voordat hy rustig afsak. Die deur gaan oop en ‘n pragtige vrou klim daaruit. Nog ‘n keer staan die Goue Vroue verstom, want Seegogga stap nader om haar te omhels.
“Julle, ontmoet vir Tharina. Sy is my beste vriendin al van skooljare af. Ek is so trots op haar, sy is ‘n uithaler boer wat haar plek volstaan in die mannewêreld. Ek het ons pin location vir haar gestuur in die hoop dat sy ons kan help, want ek weet dat sy ‘n helikopter het. En hier is sy om ons veilig in Rebusfontein te besorg!”
“Hoog tyd, sê VirgoC. Regtig, nou kan ons darem ‘n slag by Rebusfontein uitkom! Hierdie trippie raak nou lank en ons is al moeg. Baie, baie dankie Tharina. Baie dankie.”
Een vir een klim die Goue Vroue in die helikopter om die laaste skof te neem Rebusfontein toe.
Daar aangekom, moet Scrapy eers agterbly in die helikopter terwyl die res van die Goue Vroue vir haar ‘n prettige erewag vorm. Vandag gaan hier fees gevier word. Positief het sommer gou-gou vir elkeen ‘n helderkleurige lint in die hand gestop om te swaai. Aalsie het gesorg vir vrolike musiek. Waar hulle dit so vinnig in die hande gekry het, weet ons nie, maar voor jy kon sê, ‘mes!’, het Trommeltjie en Ekmyselff vir elkeen ‘n regte eilandrompie omgebind en ‘n string blomme om die nek gehang.
Dis tóé wat Kameel vir Scrapy geroep het om uit die helikopter te klim onder luide toejuiging van die res van die Goues.
Die langtafel in die meent is sommer gou reggetrek en met allerhande lekkernye gelaai. Toortsie het gesorg vir ‘n Banting koekstruif, net soos sy belowe het. Appeltjie se donkersjokolade met die lemoenskil in lê ook reg.
“Welkom terug, Scrapydo! Ons het jou gemis!”, roep die Goues uit.
“Sjoe, wat ‘n reis! Maar wat anders kon ek verwag? Dis mos die Goue Vroue hierdie en hulle reise is nooit net doodgewoon nie. Eers moes ek op ‘n manier by die Nieu Seelandse Antarktikaboot uitkom. Toe met ‘n bobslee tot by die Suid-Afrikaanse basis. Toe ‘n sirkuswa. Daarna ‘n hommeltuig! En ‘n helikopter om die rit mee af te sluit. Baie, baie dankie, julle. Julle is kosbaar.”
“En ons sê almal so…”, sing die Goues verder. Vanaand word daar nie geslaap op Rebusfontein nie.
Toortsie
‘n Pragtige en briljante einde. Sjoe, jy skryf so mooi. En selfs Tharina is hier!
LikeLiked by 3 people
Toe jy my van haar Lear jet vertel, toe moes sy net in. Ongelukkig was daar nie plek vir land nie, toe moes sy maar ‘n helikopter gebruik. Nogal ‘n rooi helikopter. Dit kan mos nie verkeerd wees nie.
LikeLike
Aanvanklik het ek gedink Camilla met haar rooi stiletto’s gaan daar uitklim!
LikeLiked by 2 people
🙈😎
LikeLike
Hoekom het ek nou nie daaraan gedink nie!
LikeLiked by 1 person
Ons is uiteindelik terug op Rebus, dankie Toortsie! Hierdie was regtig ñ spanningsvolle rit, maar nou kan almal ontspan en ons ons geliefde dorpie weer geniet.
LikeLiked by 3 people
Tot die rooimiere weer pla … 😁
LikeLike
Toorts!!! Jou ystervrou. Wat n heerlike einde! Welgedaan. En welgedaan aan elkeen wat geskryf het. En welkom terug Scrapy!!!
LikeLiked by 3 people
Elke storie het soveel lekkerte in. Ag ek geniet dit.
LikeLiked by 1 person
Hoeraaa! Ons is tuis! Dankie, Toortsie, dat jy ons terug op Rebus geskryf het. Ek sien Alexi en Kira (so DIS haar naam!) soos hulle oor die vlakte weghol, met die stofstreep agterna 😄
LikeLiked by 2 people
Ja, dis tyd vir terugkom. Hulle hardloop hulle beentjies behoorlik kort! Uitgevang! Die karnallies!
LikeLiked by 1 person
Lekker, lekker, lekker, Rebusfontein in al sy glorie. Pragtig afgesluit Madele en dankie dat jy ons veilig terug gebring het na ons eie oase.
LikeLiked by 2 people
Heerlik om terug te wees.
LikeLike
Heerlik, heerlik dis al wat ek kan sê. Sjoe nooit gedink dat my terugkoms sooooo dramaties kon wees nie, maar nou ja, waar die Goue Vroue saam is is niks onmootnlik nie. Dan het elkeen ook nog ‘n eie reddingsboei uitgegooi om die kinkels uit te stryk. En hier is ons nou. Baie dankie vir verwelkoming, liewe Vroue, jul is enig in jul soort. Baie bly om alger weer te sien en selfs die nuweres ook te ontmoet.
LikeLiked by 3 people
😁🎈 welkom welkom welkom terug.
LikeLike
Baie dankie, ek het nog baie afsondering en stilte nodig om te herstel.
LikeLiked by 1 person
❤️
LikeLike
So bly om jou hier EN op Rebus te sien! Jy is baie stil – is alles wel?
LikeLiked by 2 people
Ek sukkel nog om my voete te vind in my nuwe omstandighede. Gaan met stampe en stote. Kry berading om my te help fokus op myself en nie alles wat om my gebeur nie.
LikeLiked by 3 people
Ai Scrapy. Baie baie sterkte.
LikeLike
Baie dankie, ek begin nou beter voel noudat ek grense gestel het.
LikeLike
Ag dankie dat jy antwoord – dit klink vir my na goeie raad om op jouself te fokus!
LikeLiked by 1 person
Is so, my lewe is kosbaar vir my en ek moet nou na myself kyk en wegkyk van dinge wat my ontstel.
LikeLiked by 1 person
Toortsie, wonderlik geskryf en wat ‘n avontuur. Scrapy, so lekker om jou op Rebus te hê, whohooooooo🌻🥳🌻🥳🌻🥳
LikeLiked by 1 person
Dankie Toorts, wat ‘n heerlike avontuur wat afgesluit word met ‘n bietjie rus en vredigheid ala Rebus. Dankie Scrapy ook vir die inspirasie van almal om so oulik te skryf
LikeLiked by 1 person
Nie te lank rus nie…
LikeLiked by 1 person