Skielik is dit oor

Ek is baie lief vir mense, maar ook vir my stiltye. Mense gee my energie. Laat my waardevol voel. Deel voel. Dat ek behoort.

Kyk, vroëer jare het ek hard gespeel en hard gewerk. Baie hard. Ek hét al rustiger geraak, glo dit as jy wil. Baie van my werk afgeskaal. Speel ook nie meer heeltemal so hard nie. Want ek kan nie meer so byhou nie. Het ook rustydjies tussenin nodig.

Hierdie afgelope paar weke was dit nou weer so, maar in middeljarige terme. Hard gewerk en hard gespeel. Heerlik. Ons gesin was mos op ‘n gesinsvakansie, maar heeltemal onverwags, onbepland was die hele lot ook die naweek vóór ons weg is, almal saam. Nie dat hierdie ouma omgee nie! Veral nie as daar nog so ‘n paar dae werkstyd tussenin is en ouma net weer haar punte bymekaar kan trek nie.

En nou, ná 2 weke se hard speel, (nee! Hard WERK!🙈) was die hele lot weer bymekaar. Met ‘n naweek wat sommer ‘n lekker langnaweek geword het vir my. Want ‘n Aussie niggie en neef en kleinding het kom kuier. My span was al huis toe, en ons kon toe lekker saamkuier met die Aussies. Sommer van die juwele in ons distrik geniet, soos die De Hoop Natuurreservaat. Ag, dis elke keer lekker om daar te kom. Die elande, die bontebokke … Hy laat my neerlê in groen weivelde, na waters waar rus is lei Hy my heen. Koppie Alleen, die seeplekkie met sy ongerepte see wat om persoonlike redes vir my baie ná aan die hart lê. Ons kon walvisse sien water spuit, maar nie een het bo die water uitgekom nie. Malgas met sy pont is altyd lekker. Selfs nou met die pont wat met diesel aangedryf word en nie meer met die hand getrek word nie.

En nou is almal weer weg. Ouma kan weer haar punte bymekaar kry. Dalk ‘n ruskansie ook …, die ouderdom is ook maar hier.

Maar my hart is vol. Ek is ryk aan liefde. My hart klop lekker. Want dit was heerlik verby. Met sommer van die niggies en nefies wat hier in my dorp woon wat ook ingeval en ingeloer het. Wat meer kan jy vra?

Mag ons nooit ophou om by mekaar te kuier nie. Selfs nie in hierdie ekstra besige wêreld waarin ons tans leef nie. Want mense is nie gemaak om alleenlopers te wees nie. En jy kan sê van familie wat jy wil, familiekuiers is net anders. Want ons wortels lê diep. Om die waarheid te sê, ons hét dieselfde wortels. En dís die verskil.

Toortsie

21 thoughts on “Skielik is dit oor

  1. Jy’s reg, dis ‘n ander lekkerte daardie! My familie is baie klein, maar my man is deel van ‘n groot (joviale) familie en ons kuier altyd hond uit ‘n bos saam! Mens is skoon pootuit na so ‘n kuier, maar my hart is altyd vol dankbaarheid. Ek’s bly jy het dit so geniet saam met jou mense – dis boeke vol herinneringe ☺️.
    Op ‘n ander noot: Ek het al gewonder oor die pont by Malgas – ek het laasjaar oor dit geblog toe ons in 2019 daardeur is (toe was dit nog met die hand getrek) … dis mooi wereld daardie Toortsie.

    Liked by 1 person

        1. Ek het by jou gaan lees. Apple werk nie lekker nie. Ek kon like by jou, maar weet nie of my kommentaar deur is nie.
          Jy het so mooi geskryf oor my grootwordwêreld. Ek kon nie sien of ek die boer in die bakkie by die skape herken nie. Jy het oor ons grootwordplaas gery! Die pont is steeds ‘n wonderlike ervaring, maar dit het nie dieselfde bekoring as die ou pont nie.

          Liked by 2 people

          1. Toortsie, jy’s baie gelukkig om in so ‘n mooi wereld te kon grootword! Daardie rit was een van ons “goed voel” oomblikke … soveel rustigheid. Kan jy nou glo dat ons oor jou grootwordplaas gery het – so mooi. Dalk kom ons eendag weer daar verby, dan laat weet ek jou 😁.

            Liked by 2 people

  2. Een mooi verhaal.
    Een mens is inderdaad niet gemaakt om alleen te zijn.
    Ik weet wat het is.
    Ik heb geen ouders, geen broers of zussen, geen partner of kinderen meer.
    Gelukkig heb ik nog mijn hond Jefke en vele vrienden die me steunen.
    Daarbuiten nog mijn Blog en mijn fotografie om mijn eenzame momenten op te vullen.
    (en niet te vergeten Mijn Geloof).
    Anders was ik reeds lang ingestort.
    Groeten Uit Vlaanderen 😀
    Theo

    Liked by 2 people

  3. Ek is ook vol van die liefde – en ‘n bietjie moeg – want ons Noorwese familie was hier vir tien dae. Hoe lekker was dit om vroeg in die oggend op te staan om seker te maak daar was kokende water (met of sonder Eskom se hulp), om kos vir hulle almal voor te berei, om saam te gesels, te lag, en saam met my kleindogters te loop of speel. Ja, die ouderdom tik ons op die skouers nadat hulle vertrek het en ‘verduidelik’ dat dit nou tyd is om ‘n bietjie te rus!

    Liked by 2 people

  4. Ja, stilte en ook lekker kuiers en spesiale tye is altwee broodnodig om mens se batterye te herlaai. As mens te lank sonder ‘n gesellige kuier is, raak jy tog eensaam en druk die mure jou vas. Dis lekker om dan te weet daar is geliefdes.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap na Trommeltjies Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s