Die teksielorrie ry weer

Ja! Die teksielorrie het weer gery. En net indien jy wonder, daar is ‘n baie logiese verduideliking hoekom dit ‘n teksielorrie is en nie ‘n taxibus nie, al lyk die twee op ‘n haar na mekaar. Maar ouma is ‘n bietjie voertuiggestremd en verstaan nie heeltemal so mooi nie. Maar wie is ouma in elk geval om te stry?

Die beplanning is al in Desember gedoen vir hierdie tweede rit. Verlede jaar het die hele span, dis nou oupa, ouma, al die mammas en pappas en die oom en al die kleingoed mos met die teksielorrie wildtuin toe gery. Hierdie keer was dit Tuinroete en in die Oos-Kaap tot by Addo Olifantpark. Want sien, ouma moet mos op ‘n baie erg gereelde basis die see sien en op nog amper net so ‘n gereelde basis olifante. Anders raak sy omgedollie.

Op die gegewe dag is die teksielorrie gekry, almal, tien van ons in totaal, opgepik langs die pad en was die eindpunt vir daardie dag die Bontebokpark net buite Swellendam. Natuurlik het ons gebraai, hoe dan anders? Ons het ook geslaap by Groot Brakfontein, Jeffreysbaai, Addo, Plettenbergbaai en Warmwaterberg.

Dit was heerlik. Oupa en ouma kon die kinders en kleingoed bederf soos nog nooit te vore nie. Elke dag is daar iets interessants gedoen. Daar is gezipline, gegeocache, gebungi (ouma se senuwees het maar swaaaarrrr gekry), familie opgesoek, geëet, geëet, geëet, gelag, gesels, geoe en geaa oor olifante en voëls, oor bontebokke en rooi hartebeeste en koedoes en bobbejane. Daar is boot gery, gestap by Robberg, gefliek, geswem in die warm swembad. Addo Olifantpark en Kragga Kamma verdien spesiale vermelding. Daar is ‘n groot verskeidenheid diere te sien.

Eetplekke wat uitgestaan het is Elvis Blue se plek net buite George, Elvis Brew. Ook by die Stormsrivier dorpie is daar ‘n fantastiese eetplek wat glad nie so duur is nie. Iets uit die 60’s. Marilyn’s 60’s Diners. Beslis die moeite werd om dié dorpie te besoek. Daar is sommer baie aktiwiteite vir die avontuurlustiges. En Tapas in PE en in Knysna. Wat ‘n lekkerte!

Familie (en vriende) is ‘n geskenk van God af. Dis spesiaal. Vriende kan jy nog self kies, maar nie familie nie. En ons kan maar vir God vertrou daarmee, Hy weet regtig die beste selfs al voel dit soms vir ons anders. Ek het net in hierdie tyd weer eens besef hoe waardevol tyd met jou familie is. Dis kosbaarder as goud of korale. Hierdie toer met die teksiebus was ‘n geskenk van die Here. Ek is so dankbaar daarvoor. Wonderlik.

Toortsie

26 thoughts on “Die teksielorrie ry weer

    1. Kan jy glo dat ek geen foto van die teksielorrie geneem het nie. Maar jy sal presies weet hoe dit lyk: ‘n Gewone 14 sitplek quantim bussie (soos al die taxi’s hier rond!) 🙂

      Like

  1. Dit klink mos nou na ‘n groot lekkerte Toortsie! Al die mooi plekke (en diere) … en dit alles beleef saam met familie – dit is ‘n ‘n absolute seen! Ek wonder of ons dalk nog ‘n post sal kan sien met ‘n paar van die mooi plekke wat julle besoek het …

    Liked by 1 person

    1. Nee, suster nee. Ek sou met die skywalk loop tot by hulle, maar toe ek die prentjie daarvan sien, onttrek. Ek het aan die oorkant op die wal gesit en die besigheid beskou en getjank tie my nense sprinfg. En vir hulle ná die tyd baie duidelik gesê: ‘Nooit weer nie.’ Ek vermoed hulle gaan nie almal vir my luister nie, maar dan wil ek net nie by wees nie.

      Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!