Wanneer ander beter weet

Ek is sekerlik die laaste persoon wat hieroor mag skryf, want ek weet ook soms té beter.

In TPM is ek geleer dat die brein presies onthou wanneer jy vorige kere in jou lewe gevoel het presies soos nou. En dan natuurlik ook waar daardie gevoel se oorsprong is.

Ek is gefrustreerd met ‘n diensverskaffer wat in die verlede vir my uitstekende diens gelewer het. In Januarie 2021 moes hier ‘n klein verstellingkie kom en sedertdien is dít wat eintlik verbeter moes word, swakker. Ag, dan werk dit beter, dan swakker. Ek het hulle ‘n paar keer gebel en gevra dat iemand hiernatoe sal uitkom, maar hulle kom nie sommer net uit na enige kliënt en hier is eers ‘n paar toetse wat ek moet doen voor hulle kan uitkom. Elke keer is daar ‘n redelike aanvaarbare rede gegee hoekom dit nie werk soos dit moet nie, maar steeds werk dit nie.

Totdat ek gister my speelgoed nog nie so behoorlik nie, uitgooi. Hulle kom uit, doen ‘n paar verstellings, ry weer. NIKS het verbeter nie. Ek stel iets voor, wat ek vandag hoor, hulle hoof ook voorgestel het, maar vanoggend het iemand weer eens gevoel dat dit nie nodig is nie. Ons wag eerder nog ‘n ruk.

Dis tóé wat die frustrasie opbou en meer speelgoed uit die kot gegooi word.

Wat het dit met die TPM te doen? Ek onthou toe waar ek die eerste keer so gevoel het. Presies daardie selfde frustrasie. En noudat ek groot is, die frustrasie van PRAAT en nie GEHOOR word nie. Nie gehoor WIL word nie. Want die ander persoon WEET MOS BETER.

Ek was 6 jaar oud. Erge tandpyn. Ek huil dae en nagte om. Regter boonste kiestand is verskriklik seer. Bredasdorp het nie daardie tyd ‘n tandarts nie. Dit beteken dat ons Hermanus toe moes ry. Nog nie so ‘n mooi pad soos vandag nie. Daar aangekom vra die tandarts vir my watter tand. Ek wys hom. HY besluit: Nee, ek sal nie weet watter tand in my eie mond pyn nie. Veral nie terwyl dit al ‘n hele paar dae en nagte pyn nie. Hy trek links bo. Vir jare daarná het ek geweier om my mond vir ‘n tandarts oop te maak. My tande is getrek toe ek onder narkose was vir my mangels.

Verstaan jy daardie frustrasie? Wat sal ek nou weet of die ding in my huis werk soos dit moet? Huh? Regtig? Ek is mos nie ‘n ingenieur of ‘n tegnikus nie?

So, hoe laat dit my voel?, vra ek myself in my TPM sessie. Soos ‘n NONCOMPOUP. Soos iemand waarna nie geluister hoef te word nie. Dat ek NIKS weet nie, die ander persoon wat NOG NOOIT IN MY HUIS WAS NIE, weet beter.

Toe sê God vir my (wat ek mos eintlik weet): Hy luister vir my. Hy hoor my. Wat ek sê is nie minderwaardig nie.

Mooi né? Raai, en nou is ek glad nie meer so gefrustreerd nie. Jy weet, as húlle nie wil hoor nie, is dit mos eintlik hulle probleem. Dan nie?

Toortsie

27 thoughts on “Wanneer ander beter weet

    1. Transformation Prayer Ministry waar jy konsentreer op dit wat jy voel, by die wortel van die gevoel (wat geeoonlik ‘n leuen is) uitkom, die leuen na God uithou en waarheid by Hom kry. Veral voor die ouderdom van 12 word baie leuens in ons hart gebêre omdat ons miskien iets misverstaan. Dit beïnvloed jou lewenslank, behalwe as jy dit op een of ander manier uitsorteer.

      Liked by 2 people

      1. Dankie vir die terugantwoord. Dit maak nogal sin. Ek self stooi ook maar met my eie dinge, veral my gesondheid, en einde verlede jaar het my huisdokter ernstig met my “die leuens” wat ons lewens soms dryf bespreek. Interessante konsep.

        Liked by 1 person

    2. Die probleem is- die volwasse Toortsie verstaan waaroor dit gaan, maar as die krisis kom, reageer jy soos daardie dag toe die leuen gevorm is. So due 6-jarige een moet dit in háár hartjie uitsorteer. En dis wat TPM doen.

      Liked by 2 people

  1. Dis waar, as hul nie hoor nie is dit hul probleem. Hierdie aanhoudend beter weet is vir my ook n doring in die vlees. Ek het so n familielid wat aanmekaar altyd beter en groter weet. Ek bly liewers stil en loop weg, wat seker ook nie reg is nie. Dis ook waar van sekere dinge wat in jou brein gebere is en uitkom as die omstandighede hom voor doen.

    Liked by 2 people

  2. Dis sleg as hulle nie wil hoor nie, want dan bly die probleem onopgelos en sit jy met die frustrasie dat dit nie werk nie. Ek sukkel ook met die frustrasie van om nie gehoor te word nie, dit ontstel my baie. Bly jy kon by die wortel uitkom en bevry word.

    Liked by 1 person

  3. Dis ‘n groeipad wat jy bemeester het. Die treurige is dat mens dit soms regkry, maar ‘n volgende keer weer so bietjie moet stoei om weer daaroor te kom. Die toetse wat mens dop is hartverskeurend, né

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!