Covid Toets

Gaan mense nog vir ‘n Covid toets? Regtig? Is Covid se angel nie al uitgetrek nie? Covid is só 2021!

Ek hét mos Covid gehad daar in die begintye. Verlede jaar Januarie. Toe die Wes-Kaap behoorlik deurgeloop het. Beta-variant. Toe die hospitale tjokkenblok vol was. Baie mense gesterf het, sommer rondom ons.

Tóé het ek die hele vakansie met asma geloop wat net nie wou gaan lê nie. Soos dit soms maak. En dit erger en erger raak totdat ek op die ou end in ‘n dokter se spreekkamer beland en die asma en al sy maatjies net ‘n slag weer behoorlik op hulle plek sit. Die hele vakansie was dit Natal-weer op Struisbaai. Het die mis gehang. Was die benoudheid daar. Ek vergelyk die Covid simptome met myne – nee, dit stem glad nie ooreen nie.

Tot ek een aand laat besef: Hoor hier, ek is regtig siek. Ek moet by ‘n dokter uitkom. Dokters is vol, maar na baie oortuiging is daar tog ‘n plekkie vir my. Genadiglik. Want toe was dit lankal nie meer asma wat ek het nie. Dit was Covid. Longontsteking in ‘n erge graad. Die Here en liefdevolle dokters trek my deur. My man kapkapkap met bakkieshande op my rug. Vriende dra kos aan.

Intussen hét ek my laat inspuit al het ek gevoel dat die Covid-bul dit reeds gedoen het. Ek het ook daarná met elke variant te doen gekry. My weerstand-rekenaar opdateer.

Ek was vandag vir ‘n Covid toets. Nie regtig gedink dat dit nodig is nie, maar die dokter het gevoel dat dit beter is dat ons dit doen. Want ek voel presies net soos daardie dag. Dalk nog nie heeltemal so erg nie, maar wel. Behoorlik siek. Weer eens asma en sy maatjies wat hulle hand oorspeel vir te lank, dis noual amper drie weke! En ek wás gesond tussenin, maar toe waai die koel luggie in die kerk weer my bors toe en my stem weg.

Al wat ek kan sê: Daar is min dinge so allerheerliks as ‘n NEGATIEWE Covid toets! Sjoe! Ek het NIE COVID NIE! En dat ek reeds op die herstelpad is. En dat ek nie náástenby so siek is as verlede jaar met Covid nie. En dat die Here se genade groot is. Wonderlik groot is. En dat ek ‘n uitstekende dokter het.

Baie stof tot dankbaarheid.

Toortsie

30 thoughts on “Covid Toets

  1. Dis nou goeie nuus. Ek moes ook nou die dag toets om seker te maak dat dit nie Covid is nie. Dit maak dat mens sommer beter voel as dit negatief is. Die asma is maar n probleem as mens dit gereeld kry. Gelukkig weet jy al wat dit is en dat jy n groeie dr het wat jou ook help. Hoor nounet oor nuus daar is n hospitaal wat gesluit is omdat daar covid besmette mense ingekom het sonder toetse vooraf dat hul siek is.

    Liked by 2 people

    1. Sjoe dis jammer oor die hospitaal!! Jy sal nou lag, maar ek besef nie altyd dat dit asma is nie! Maar my dierbare dokter het my nou mooi geleer waarna om te kyk, om sekere medikasie altyd in voorraad te hou en as een nie genoeg is nie, wat nog, ens. Dalk in die toekoms werk dit beter. Maar daar kan nou jare omgaan voor dit weer so erg kom. Genadiglik. En dan het ek al weer vergeet hoe dit werk. Ek dinkek moet ‘n notatjie in my kas plak.

      Liked by 1 person

      1. Die nota klink na ‘n goeie idee. Ek is eintlik baie soos jy. Jare gaan verby sonder werklike reaksie en dan skielik eendag is daar net iets wat dit trigger en dit slaan toe soos n klei-os se g..! Het al drie keer by hospitaal gedraai. Nou is ek redelik bedag op hoe dit begin en kan ek dit behandel. Dis belangrik om medikasie by jou te hê. Twee jaar terug moes ek dr toe gaan en hy het vir my weer n nuwe pompie gegee net om dadelik verligting te kry en dit te onderdruk vir n dag of wat. Ek bly maar steeds skrikkerig vir al die medikasies wat hul so gereeld ekstra uittoets.

        Liked by 1 person

  2. ek moet nog gaan vir my booster. En my boetie het net ‘n effense loopneus en ligte kopseer. Hy gaan maak seker, net vir ingeval, en daar is dit positief. Kan jy glo. Gelukkig is die erge covid se kiestande getrek en die kleinnefie laat veral die ouer mense net effens sleg voel. maar die jonges? hulle word nou platgetrek. So bly dat jou bors net die “gewone” siekwees is. Kyk maar mooi na jouself.

    Liked by 2 people

  3. Baie bly jy is positief omdat jy negatief is. Ek is saam met jou positief. Ek dink daardie “jy is positief” het al ‘n sielkundige uitwerking op mense. Ek’s dankbaar dat ek dit nog nie gehad het nie, en bid regtig dat dit my steeds verby sal gaan. Ons dorp is weer vrot met Covid.

    Liked by 3 people

  4. Bly jy is negatief. Ai, wens ek ons kan ook net dan en wat toets, ek sweer ek hou my neus as jy my 2:30 in oggend wakker maak. Ons was so amper op net elke maand toets, maar is terug elke 2 weke toe. Darem beter as elke 72 uur. En in Dubbels, geen sulke goed nie. Nog net 25 dae totaal en net 19 werksdae….🥳🥳🥳. Maar beste nuus is jy is negatief🥳🥳🥳🥳🥳🥳🥳🥳🥳

    Liked by 1 person

      1. Beter in keel. Begin Mullein drink vir longe, as nie kry nie, coconut olie, 1 eetlepel in oggend, 1 eetlepel in die aand. Het Lauric acid in en maak selle as Mullein.😉🌻( En is baie goed vir mens se brein)

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!