Net nog ‘n bedelaar

Elsabe, jy moes gister skryf wat jy geskryf het. Want ék moes lees. En luister. En hoor wat God wou hê ek moes hoor. Wat maak ons met die bedelaars wat by ons huis kom klop? Dis so maklik om net nee te sê en tot my skaamte moet ek erken: Ek doen dit. Want ek wil nie ‘n toestroming van bedelaars by my huis hê nie. Ek sal baie eerder die leë joghurtbakkies vol eetgoed pak en dit die dorp vol uitdeel, maar net nie by my huis nie.

Hier in ons dorp loop so ‘n baie vriendelike swartman met ‘n oop gesig. Oe, maar kan hy bedel! Toe ons nog op die plaas gewoon het, sou ek middagete vir my ietsie by Checkers koop en dan in die kar gaan sit en eet. Net sodat hy aan die venster klop. Dan gee ek hom maar ‘n bietjie van my kos en eet verder, maar nie vir lank nie, dan klop hy vir NOG! Gendade! Hy ken my gesig en weet waar ek woon. Ag, dalk ken hy die hele dorp se gesigte. Hy is ‘n gereelde klopper. Dan sê ek nee, maar ek gee vir hom as ek hom in die straat raakloop en ek deel bakkies uit.

Iewers is iets groots fout! Ek dink ek verwar die man!

‘n Ander een kom ook klop, maar hy vra vir tuinwerk. Of as ‘n kar buite staan, om dit te was. Ek bied vir hom kos aan, maar hy vra ‘n geldjie. Sal die kos ook vat, dankie. Dit laat my aan tannie Mags dink wat langs die bottelstoor gewoon het. Baie mense het by haar kom bedel. Dan gee sy kos. Ek sê: “Tannie, dis gevaarlik.” Sy sê: “Madelé as hulle honger is, sal hulle die kos eet. As hulle net drankgeld wil hê, sal hulle nie weer klop nie.”

Nadat ek Saterdag weer nee gesê het, refrein tannie Mags se woorde in my kop. My Christelike plig is seker om kos te gee. Sjoe, hier ís mos kos in die huis om te gee. Op die plaas was dit anders. As daar iemand aangeklop het, gewoonlik werksoekers wat vir dae aaneen op die pad is, het ek vir hom ‘n goeie bord kos gemaak. Waar moet hy dan anders kos kry?

Vanoggend klop die tuinwerkman weer. Hy is nogal dringend. Ek vra of hy kos wil hê en bak vir hom drie eiers. En nee, ek het nie geld om te gee nie en nee, jy kan nie die kar was nie en nee, daar is klaar iemand in die tuin, dankie. Hy gaan sit net daar op die sypaadjie en eet die eiers. Intussen kom die eienaar van die kar verby en gesels met hom. Net daarna roep die man my weer. Ek is sommer geïrriteerd, maar luister tog wat hy sê:

“Mevrou! Daardie man in die wit kar het gesê as hy nou terugkom, kan ek sy kar was! Mevrou, hy gaan vir my R100 gee daarvoor.” (Die vreugde straal uit hom uit.)

Hoe skaam is ek nou! Dalk raak dit tyd vir sop kook en in bakkies vries vir wanneer daar nood is by my deur.

Toortsie

12 thoughts on “Net nog ‘n bedelaar

  1. Ai Toortsie…eintlik wil ons almal help en voed maar dis nie moontlik nie. Maar kyk nou net hoe word daar gesorg…iemand anders se kar moet gewas word.

    Liked by 2 people

  2. Ek moet my ervaring deel: te veel mense word besteel en gemoor. ‘n Maatskaplike werker het gesê moenie geld gee nie, hulle kry staatspensioen en hulle gebruik die geld vir drank en dwelms. So bemagtig ons eintlik die “tikkoppe” soos hulle hier in Grabouw bekend staan. En ek kry eerder die bedelaar om 1X per week in my tuin te werk en dan betaal ek hom ‘n dag se loon met ‘n ontbyt en middagete, wat eintlik meer werd is vir hulle. En dit werk vir my. Maar bedelaars net so help? nee, en ek voel nie sleg daaroor nie, want ek weet ek doen wat ek moet doen aan iemand wat hulp nodig het. Ek wil ook nie bekend staan in die dorp as die plek waar kos en geld gekry word nie. Dit word die samedromming plek en dis erg onveilig, want dan weet hulle wanneer mens nie tuis is nie. , So nee, Toortsie, ek voel nie skuldig nie en jy moet ook nie.

    Liked by 2 people

  3. Ag Toortsie, dis ‘n moeilike ding die 😌. Ek se nee as hulle klop en dan voel ek vir ure daarna sleg (dit voel amper of daardie R10 noot in my beursie my aankla van onmenslikheid). Maar ai, ek het al duur lesse geleer deur te probeer om ander te help – het my verloofring op so ‘n “barmhartige tog” verloor … dis nie dat ek nie wil help nie …
    Maar soos Appeltjie se, ons word ook ontmoedig deur die Maatskaplike werkers hier om geld te gee (sy se dit maak net hulle werk moeiliker).

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap na Toortsie Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s