Die Goue Vroue hou vakansie #4

Die Goue Vroue is ń groepie bloggers wat saam aan spesiale stories skryf. Indien jy mettertyd al die skrywes saam wil lees, en wil uitvind hoe die Goue Vroue beland waar hulle nou is, gaan loer in op die link:https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d

****************************************************************************

“Under the sea, under the sea. Darling it’s better, down where it’s wetter, take it from me …” sing Seegogga te lekker terwyl sy danspassies met haar hele lyf en voete maak. Appeltjie val agter haar in en sing en dans saam. Een vir een val die Goues in by hulle. Trommeltjie klap die ritme op haar been uit. Ag, dit is darem so lekker om te lewe en noudat hulle nie meer in gevaar is nie, soveel te meer. Hulle is mos saam met Lorenzo en Camilla op ‘n luukse bootvaart.

Vir ‘n oomblik het hulle groot geskrik toe hulle hele boot in ‘n swart gat ingesuig is onder die see, maar gelukkig het Poseidon gou vir hulle lig op die onderwerp gebring: Sy seun, Triton, het verlief geraak op ‘n aardse magiese figuur en Poseidon het die Goue Vroue se hulp nodig. Hulle moet hom vind. En as hulle hom betyds vind voor die sluier tussen die aarde en die ondergrondse ruimte weer teruggetrek word wag daar vir hulle ‘n groot beloning. Maar die tyd is min.

Hoe moeilik kan dit tog wees om hom te vind? Nee wat, die Goue Vroue het mos kontakte. Hulle ken die wêreldvol mense met invloed. Dit gaan tog nie oor wie jy is nie, maar wie jy ken, of hoe? Soos Christa wat hooggeplaastes ken in Kazakstan. En VirgoC wat al ál wat Arabiese koning verpleeg en gesond gedokter het. Sonell en Frannie het bande in Amerika en ek is seker dat Scrapydo ons sal help uitkyk daar in NZ ook. Was dit dan nie juis die een keer in die geskiedenis wat Biden en Trump saamgewerk het toe Frannie vasgekeer was in Amerika met die Covidkrisis en hulle haar gehelp het om terug te keer Suid-Afrika toe nie? En Silwer! Silwer wat die hele ruimte rondtoer met sy ruimtemotorfiets sal beslis sy oë oophou vir Triton, hy sal mos enige iets doen net om Frannie se guns te wen. Una weet wie is wie in Mosambiek en in Bali. Sy kan natuurlik ook sommer net in ‘n oogwink opklim tot op die maan en die hele aarde daarvandaan sit en deurkyk. Dan is daar Amoré van RSG, sy is net ‘n e-pos ver. En Toortsie se neef, Andries, ken ook die hele wêreld se mense, sy kan hom vra of hy nie iets weet nie. Sy het ook familie in Australië wat kan help soek. Dan is daar nog Elon Musk ook met wie die Goues al oor ‘n lang tyd ‘n verhouding gebou het, hy sal beslis weet wat om te doen. En ABBA! Sedert hulle laas op Rebusfontein was, toer hulle mos nou weer oral om hulle nuwe CD bekend te stel. Dis juis hulle kuier daar op Rebus wat hulle so begeester het om weer ‘n musiekvideo vry te stel. Ag, en nadat die Goue Vroue vir mnr Barnum en sy sirkus behoorlik in ‘n nuwe sfeer geplaas het en hy nou absoluut wêreldberoemd is sal tog te graag ‘n ou gunsie wil terugdoen. Dis nou nádat die sirkustent ontplof het toe iemand ‘n vuurhoutjie getrek het omdat die olifant ag jy weet wat en niemand kon asem kry nie. Aalsie kan sommer terwyl sy die nuus by Radio Overberg lees, vra of iemand daar dalk weet. Haar vriendin, Ora, kan ‘n beriggie in die Suidernuus ook plaas. Maklik was nog nooit moeilik nie.

Dadelik het die Goue Vroue aan die werk gespring, ‘n e-pos aan elke moontlike persoon wat hulle ookal ken, gestuur en gevra dat hulle hulle oë en ore moet oophou vir so ‘n liefde. Hulle het ook elkeen ‘n blog daaroor geskryf wat mos wêreldwyd deur mense gelees word. Elke moontlike sosiale media is ingespan: Whattsapp, Telegram, Signal, Linkedin, Facebook, Instagram, Twitter. Positief het dadelik ‘n TikTok video gemaak en dit is ook die wêreldvol versprei. Nou kan die Goues ‘n bietjie ontspan terwyl hulle wag vir nuus van die aarde af.

Skielik gee die boot ‘n vreemde ruk en is die krag af. Ag nee, nie al weer nie! Hulle het dan nou net die dinge begin geniet en ‘n bietjie op die dek verkeer.

“Kkkkykk dddaarrr …” stotter WoordNoot.

“Waar? Wat moet ons kyk?” vra Toortsie.

“Dddaaarrr …” wys WoordNoot met haar hand. En daar waar sy wys, is ‘n seekat se poot so om die boot se rand. Nie sommer enige seekatpoot nie, ‘n massiewe een. Lorenzo wys na die ander kant van die boot, daar is ook een. Camilla wys na nog een. En nog een. En nog een.

‘n Massiewe Seekatkop kom te voorskyn uit die water. Vreesaanjaend. Skrikwekkend. Verbysterend. Groot.

“Kyk hoe aanvallend is sy oë,” fluister Kameel.

“Kyk hoe staan die hare regop op my lyf,” fluister Sonell. “Ons is regtig nou op ‘n plek waar ons nie moet wees nie.”

“Ja,” sê Frannie. “Ek voel ook glad nie gemaklik met ons situasie nie.”

Trommeltjie sein allerhande boodskappe met haar oë. Wat probeer sy sê? Ekmyselff is spierwit in die gesig, haar oë lyk soos pierings.

Skielik begin die boot bewe en hulle hoor die vreemdste geluid. Dan begin die boot vreemd ruk en ruk en ruk. Alles dril. Glase tingel teen mekaar. Hier en daar val iets van ‘n tafel af, maar dit is nie so erg nie, eerder deurdringend. Asof die seekat vir ons iets wil sein en dit wat hy sein voel nie baie vriendskaplik nie. Ons besef dat hy die boot binne sekondes kan omdop as hy wil. Dit hou vir ‘n hele ruk aan. Die Goue Vroue sit asof versteen, niemand verroer ‘n spier nie. Niemand nie.

Die volgende oomblik is alles weer rustig asof niks gebeur het nie. Die seekat het net so sag soos wat hy verskyn het, verdwyn. Of het hy? Seegogga, jy sal moet help hier! Jy kan mos seekat praat, kan jy nie? Sal jy verder vertel asb?

Toortsie

35 thoughts on “Die Goue Vroue hou vakansie #4

  1. Toortsie, ek het al vergeet hoe
    ń wonderlike netwerk van mense die Goue Vroue het! “We are well connected!”
    Die seekat…ek vertrou die situasie net mooi niks nie! Seegogga behoort met ń oplossing te kom anders is ons moeilikheid BAIE groot. Ek wil graag nie papgedruk en opgesuig word nie! Dit klink ietwat onaangenaam.🤔🙄

    Liked by 3 people

    1. Ek voel ook nie gemaklik nie. Ek dink nie hy is daar om ‘n vriendskaplike rede nie. Hy het net ‘n bietjie van sy krag gewys. So asof hy ons iets wil sê. Hy is nie gelukig met ons nie.

      Liked by 1 person

  2. Liewe Ouers ….. ek sidder. Kom in Seegogga, kom in !!!! Klink of die Gouevroue in nood verkeer. Laat weet as Lolla hier uit haar LolliPoppaleis moet handjie bysit? (Ek moet ter eerlikheidsonthalwe byvoeg: ek weet nie of ek moet lag of huil nie… ;-))

    Liked by 2 people

    1. Jong! Wat stel jy voor? Watter raad het jy vir ons? Kan jy dslk Seekat praat? Ons sal baie verlig wees as jy enigsins kan, selfs al is dit net ‘n dialek daarvan.

      Like

      1. Toortsie, ongelukkig nie Seekat nie. Maar dolfyn, jáááá. Vlot, soos in seepglad. Ek het juis ‘n spesiale, opgeleide linie wat superskerp is met uitpluising van ondergrondse, onderseese en onderduimse goeters. Laat weet maar as ek my troepe en my ‘dolfyns’ moet inspan om te probeer hondhaaraf te maak?

        Liked by 2 people

  3. O my aarde….is daai seekat nie dalk die ene wat in daai fliek was nie? Octupus teacher? Want dan wil hy dalk vir ons iets vertel oor Triton se leifde???

    Liked by 2 people

  4. Reg so: hier volg my poging. As buitestander sit ek dalk heelemal die pot mis. Sê gerus , skrap of ignoreer indien nodig.

    Intussen het Lolla deur gespesialiseerde frekwensiekanale ingeskakel op die onderwater kommunikasienetwerk met ‘n deursnit omtrek van ongeveer 10 seemyl vanwaar die Gouevroue, nou almal yskoud geskrik, op Lorenzo se luukse boot verder die donker waters invaar. Daar is kontak gemaak met ‘n groot skool dolfyne wat bevestig het dat die reusagtige seekat nie soseer vyandig is nie. Sy is wel gestuur, deur Triton, om die vroue te waarsku dat hy nie gevind wil word nie. Triton reken dat dit tyd is dat dit wat onder die see en op land gebeur nie langer geskei behoort te word nie.

    Die dolfyne self voel bekommerd oor die nuus, wat groot verandering vir hulle voortbestaan kan beteken. Volgens hulle gons dit onnerwater oor die hangende gevaar van Triton se planne. Daar is ‘n hulproep uit die see aan die Gouevroue dat hulle moet ingryp, drasties, al hulle kontakte en kennisse inspan en vir Triton opspoor voor dit te laat is. Matriarg blouwalvis, Loki, se uitroep is (direk vertaal uit Dolfyns): “help! … anders (klik-klik tweeeeee, klik-klik) is die hele blerrie wereld onderwater glo vir my”.

    Vir nou onderneem die seekat om in die diepblou donkerte te verdwyn vir ‘n rukkie, maar sy reken die Gouevroue se tyd hardloop vinnig uit. Sy het ook genoem dat Una die Mosambiekse kanale mooi moet dophou, daar word vermoed dat Triton dalk daar erens besig is.

    Liked by 2 people

  5. Ag aarde! Seekats. Natuurlik kan Seegogga dit verstaan. Het sy dan nie troetel seekatjies nie? Die moeilikheud is nou net: seegogga is nie hier nie! Sy is natuurlik hier, maar sy issie hierie! Sy bou stort en badkamer en sy moet haar kleinkinders gaan red, want hulle ouers gaan met ‘n vliegtuig ( hoe gewoonweg!)ver oorie see vlieg en wie sal die bloedjies versorg en seegogga moet ernstig stry met ekwetiewienie voor Vrydag… En dan sal Seegogga help. Dis nou as die goue vroue nog dan met ons is… Seegogga is nou ook baie bekommerd.

    Liked by 1 person

    1. Ag dankie tog! Ek het geweet jy sal weet. Baklei nou maar eers met ek weetie wie nie en jy is nie eers ‘n bakleier nie! En pas daai kleingoed op. Ons sal vashou. Wat eet seekatte? Kan ons hom nie solank voer nie?

      Like

  6. (Dit laat my nou onwillekeurig dink aan my nuwe tjaar, my nuwer stofsuier en my kosbaarste ou Turkse mat…ek wou net histeries raak oor die wolle wat so onwillekeurig-genadeloos uitgesuig is, toe ek besef , ” maar die mat is mos nou ONDERSTEBO”)!
    Mag jy ook so ‘n kom-ons-bewys-die-teendeel-ervaring met daai slap seekat drelle ervaar en mag Meneer Krap ongeskonde van dit alles afkom.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s