Ontworteldes

Dis of ek tans net ekstra bewus is van ontworteldes wêreldwyd. Ja, dis sekerlik te verstand, daar heers ‘n oorlog. Maar ek kyk nie nuus nie en hoor net soms die radio. Tog pla dit my.

Die ding is, die oorlog is mos daar ver. Hoe kan dit my raak? Ja, die brandstofpryse skiet die hoogtes in. Dit veroorsaak kosinflasie en mens hoor van sekere produkte wat eenvoudig gaan opraak, want … En kyk ek dan toevallig tog ‘n stukkie TV-nuus dan sien ek ontwortelde Ukraïeners wat te voet vlug. Ek sien ‘n video van ‘n absoluut briljante pianis wat vir oulaas op haar lieflike vleuelklavier speel terwyl iemand anders haar stukkendgeskiete huis afneem. Ek sien ‘n goed opgevoede vrou met haar wieletjiestas te voet oor die grens kom. Ek sien vroue en kinders net soos ons.

In die week was ek toevallig in ‘n winkelsentrum en hoor die gesprek toe ‘n skoonmaker haar ma bel. “Mammie, ek weet nie hoe ek vanmiddag by die huis kan kom nie.” Taxi’s en busse word geblok of sommer afgebrand in die Kaap. Hulle moes werk toe stap. Ek sien die angs op die drie gesiggies en sê dat ek die gesprek gehoor het en dat ek bid dat hulle veilig sal wees. “Mevrou, dis erg.” Die gedagte bly my heeltyd by dat ons nie altyd besef watter opofferings sommige mense moet maak om vir my tot diens te wees nie, om ‘n lewe te maak nie.

Die ontworteldes. Soos wat ek nou hier sit en tik is hier sommer baie naby aan my rye en rye uitlanders wat ontwortel is. Wat uit hulle huise verdryf is. Vyf minute se ry van my af. Dis hartverskeurend.

Almal mense. Gewone mense soos ek en jy. Party van diegene wat ek hier noem, gegoede, opgevoede, opgeleides. Ander dalk minder gelukkig. Maar almal is mense en as jy nie vandag in een van daardie rye staan nie, is jy een van die gelukkiges. Daar is geen waarborge nie. Vir niemand nie.

Mag ons en hulle in die lang rye veilig wees. Mag ons met sagte oë na hulle kyk. Mag dit ons gespaar bly.

Toortsie

17 thoughts on “Ontworteldes

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s