Oop

Oop

Hier is sy nou op pad. Terug. Haar goed is ingepak. Haar huis verkoop. Sy kan nie glo dat alles so vinnig gebeur het nie, sy staan eintlik verstom. Amper net so vinnig soos destyds, maar hierdie keer asof in tru-rat. 

Daardie dag het sy gedink: nooit weer nie. Nooit weer sal sy haar voete op ‘n plaas sit nie. Nooit weer sal sy die platteland besoek nie. Sy het die stof letterlik van haar skoene afgeskud, haar hart finaal gesluit vir alles wat die platteland verteenwoordig. Veral vir die mense. Die plattelandse mense wat nie hulle neuse uit ander se sake kan hou nie. Mense wat beter as jyself weet wat met jou aangaan. Bemoeisieke mense. Wat graag ‘n storietjie oorvertel en stertjies aanlas.

Hoe lank het almal al geweet dat Koos haar verkul terwyl sy onbewus was daarvan? Dit, terwyl hulle op troue gestaan het? Hoe het hulle haar nie agter die hand beskinder, maar kamtig vriendelik voor haar gewees nie? Haar vernedering was hulle plesier. Nee, sy wou nooit, ooit weer iets met enige van hulle te doen hê nie. 

Hoe goed het alles nie toe uitgewerk nie. Jaap du Randt, die buurman, het haar erfgrond behoorlik opgeraap toe hy hoor dat sy dit wou verkoop. Hy kon sy geluk nie glo nie. Sy kon vir haar ‘n pragtige huis in ‘n luukse kompleks in die stad koop. Daar was nog genoeg fondse oor wat sy kon belê ook. Hoe gelukkig was sy nie om dadelik ‘n goeie pos by ‘n ouditeursfirma te kry nie. In hierdie afgelope agt jaar het sy haarself oor en oor bewys en is sy bevorder tot ‘n senior rekenmeester in die maatskappy. 

Sy verdien ‘n goeie salaris. ‘n Baie goeie een om die waarheid te sê, en sy kan al die luukshede bekostig waarvoor daar nooit op die plaas geld was nie. Elke moontlike sent is deur die plaas opgeslurp. Hulle het nie armoedig geleef nie, inteendeel. Tog moes hulle maar altyd versigtig met hulle geld omgaan, want hulle was afhanklik van die natuur. Geld oorlos vir die maer jare wanneer die droogte ongenadiglik kom en alles wat voorkom verslind. Uitmergelend. Jou stroop totdat daar niks oor is nie. 

Sy het vir haar ‘n goeie lewe in die stad gebou. Sy het haar totaal verdrink in haar werk sodat sy so min as moontlik met ander mense te doen kon kry. Sy het geen vriende gehad nie – nie by die werk nie, ook nie in haar vrye tyd nie. Sy sou haarself nie weer blootstel aan mense wat haar verneder, manipuleer of belieg nie. Wat voorgee dat hulle haar liefhet terwyl dit eintlik net haar besittings is wat hulle begeer nie.

Sy het graag in die luuksste winkelsentrums rondgeloop. Haar klere in boetieks gekoop. Hare en naels deur kundiges laat doen. Haar huis was met net die beste gemeubeleer en toegerus. Kristal. Silwer. Persiese matte. Sy het onthou wat haar ma haar geleer het en haar studies herbevestig het: Tien persent moes sy spaar vir die wis en die onwis. ‘n Verdere tien persent moes belê word in die buiteland of in aandele. Soos die ou man op die plaas gesê het, lammerooie wat jy nooit slag nie. Beleggings wat moes groei oor jare waaraan jy nie raak nie. En hèt haar beleggings nie gegroei oor hierdie tyd nie! Eksponensieel gegroei. Sy kan met trots sê dat sy ‘n vermoënde vrou is. Eerstens danksy haar erfporsie, maar ook omdat sy self mooi gekyk het na haar geld. Slim gewerk het daarmee. Tog was daar genoeg oor wat sy voluit kon geniet.

Haar ma het egter ook altyd gepraat van die derde tiende. Die tiende vir die kerk. Sy moet erken dat sy dít totaal afgeskeep het. Om die waarheid te sê het sy nooit ‘n kerk besoek in hierdie hele tyd wat sy in die stad gewoon het nie. Sy het haar eenvoudig totaal afgesluit van enige iemand, amper ook van God.

Hier is sy nou sowaar op pad terug. Terug na daardie presiese wêreld waarop sy haar rug gekeer het. Wie sou dit ooit kon voorspel? Dat haar lewe in ‘n kwessie van ‘n week só kon verander!

Sy het die dag nog doodstil in haar kantoor sit en werk, besig met ‘n ingewikkelde kwessie by een van haar kliënte. Sy moes regtig konsentreer en het gesteurd opgekyk toe daar ‘n ligte klop aan haar deur was. Daar, in die deur het Jaap gestaan. Jaap du Randt. 

Toe sy hom daar voor haar sien staan, het alles verkrummel. Al die mure wat sy om haarself gebou het. Want Jaap verteenwoordig haar verlede. Haar kinderdae. Dit was soos ‘n wal wat in haar breek en die herinneringe het in haar hart ingestroom. Haar gedagtes totaal oorgeneem. Sy kon dit nie verhelp nie, dit het net gekom en gekom. 

Hier voor haar het haar eertyse vriend lewensgroot gestaan. Hy het haar so aan haar pa laat dink en hulle lewe op die plaas. In sy stil, nederige houding kon sy sekerheid sien. Rustigheid. Vrede in sy hart. Iemand wat weet wie hy is sonder enige fieterjasies. Geaard, met sy voete plat op die grond. Haar beste maat vandat sy kan onthou, totdat sy die dag van die plaas af weg is en haar rug op alles en almal gekeer het. Sedertdien het sy nie weer met hom kontak gehad nie. Eintlik het hulle alreeds van mekaar begin vervreem toe sy die dag met Koos op die plaas opgedaag het. 

Hulle was altyd saam. Saam het hulle help skape aanjaag en tussen die wolbale gespeel wanneer daar geskeer word. Saam het hulle leer ponie ry. Saans as die koeie gemelk is, het hulle saam met die plaaskinders in die koeistal gespeel. Dit was vir hulle tè lekker om met hulle kaalvoete in die warm koeimis te trap. Wegkruipertjie gespeel in haar ma se mooi tuin. Saam het hulle die skaap se pote vasgehou as dit geslag is. Hulle het meestal saam met haar pa rondgery op die plaas, nie eintlik saam met sy pa nie. Ag, en as haar pa-hulle die dag die skape in die duinegrond gaan versorg het, kon niks hulle terughou nie. Saam moes hulle gaan. Sy was altyd so angstig as hulle vasgeval het in die sand, maar Jaap het altyd haar pa gehelp om die bakkie se wiele weer los te grawe. Dan het hulle ‘n streepsak onder die wiel ingeskuif en het haar pa agteruit gery en het die bakkie los gekom. Natuurlik altyd met ‘n vreeslike stofwolk. Sy glo nou nog dat hulle soms sommer aspris vasgeval het, net om te kyk of hulle weer kan loskom! En later in hulle tienerjare, het sy en Jaap altyd saam na al die motorhuispartytjies gegaan. Nie as ‘n paartjie nie, maar eerder as twee lekker maats wat die saamwees sommer net geniet. 

Almal het altyd gedink dat hulle twee sou trou en was baie verbaas toe sy en Koos verloof geraak het. Tóé het hulle al geskinder. Maar nee, iewers het Koos haar anders laat besluit. ‘n Mens trou tog nie met jou beste maat van al die jare nie! Maar, wat ‘n dom besluit was dit nie! Sy kon haarself soveel verdriet gespaar het. Haar ma hét haar gewaarsku, maar sy was jonk en slim. Tè slim en toe vang slim sy baas voordat sy nog kon keer! En is sy kop tussen die bene daar weg. Alles het in so ‘n kort tydjie gebeur – eers haar ouers se dood in ‘n gru-ongeluk. Toe, Koos se verraad. Sy moes net daar wegkom. Hoe gouer, hoe beter. 

“Anna-Sofie,” het Jaap in sy sagte stem gesê toe hy daar in haar kantoor se deur gestaan het.

“Jaap?”, het sy geantwoord. “Wat maak jy hier?”

“Ek het jou kom haal.”

“Hoe nou? Sommer net so? Kom haal?”

“Ja, ek kom jou haal. Terug na jou plek toe.”

“Jaap?”

“Terug na my toe. Soos dit nog altyd moes gewees het.”

“Jaap? Ek kan nie? Ek het te veel verander. Ek sien nie meer kans vir die platteland en sy mense nie.”

“Nee, Anna-Sofie. Jy het nie verander nie. Jy is steeds die mens wat lief is vir mense. Jy het net hier in die stad kom wegkruip omdat jy nie geweet het wat jy anders kon doen nie. Omdat jy skaam was. Kom terug. Dis tyd. Jy het nou lank genoeg weggekruip. Ek het lank genoeg gewag vir jou.”

“Maar jy het dan my plaas gekoop. Waarheen moet ek teruggaan?”

“Ek het jou plaas vir jou gekoop. Om dit vir jou te beskerm en te behou. Sodat niemand anders dit onder jou kan uitkoop nie. Jy kan terugkom daarheen. Jy kan sê wat jy daar wil doen. Jy wou nog altyd ‘n gastehuis gehad het, mense onthaal. Jy kan die plaaswerf kry en daarmee maak wat jy graag wil terwyl ek steeds die plaas bewerk.”

Ja, hier is sy nou op pad terug. Terug na haar wêreld. Terug na haar mense. Sy besef dít wat sy so lank wou wegredeneer: Haar wêreld is ‘n oop wêreld. Oop om seëninge te ontvang én uit te deel. Dis mense met oop harte. En ja, hulle praat baie van mekaar, hulle skinder, maar eintlik is hulle omgeemense. Want platterlanders kyk na mekaar, dis hulle behoud. Hulle is mense met oop deure waar almal enige tyd welkom is. 

Jaap het vir haar haar ouers se huis gegee om in te woon. Sy gaan dit inrig en bedryf as ‘n gastehuis. Maar dit sal nie te lank wees nie, want ook haar hart is oop. Oop vir haar mense. Oop vir liefde. Oop vir Jaap om sy plek in haar hart vir ewig te kom opeis. Soos dit van die begin af bestem was. Saam met hom sal sy ook weer kerk toe gaan. Ook daar was haar plekkie heeltemal te lank oop. En met haar God sal sy weer tyd spandeer. Daardie deur was ook nog altyd wawyd oop. 

(Kortverhaal soos vir Ink se Oop projek)

14 thoughts on “Oop

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s