Ná ‘n lang en besige tyd begin die Goue Vroue weer een vir een terugkeer Rebusfontein toe. Dalk om die batterye te laai, dalk nie. Wie weet? Volg hulle terugkeer HIER.
…………………..
Een vir een daag die Goue Vroue op by Rebusfontein. Ons was lank laas hier. Om die waarheid te sê, nog nie in hierdie jaar nie. Eintlik is die Goue Vroue regtig stil, selfs op hulle whattsapp-groep. Almal is besig. Té besig.
Ek lees dat Frannie gaan isoleer het op Rebusfontein nadat die groot C haar ook ‘n rukkie in sy kloue gehad het. Seegogga is ook daar ná haar lekker Italiaanse partytjie. Jong! Dit was heerlik, ek was mos daar. Ek en Aalsie ook. Jy moet kyk daar tussen Seegogga se foto’s, ons was daar! Heerlik gedans. Sjoe, daai Italiaanse sanger het sy ding gedoen, hoor! Om alles te kroon het Seegogga vrugtekoek gebak. Julle, my bantinghart sal dit beslis nie kan weerstaan nie. En Danie, Una se hond, loop blykbaar met ‘n sonbril op. As ek dit reg verstaan, dink hy dat ons hom nie raaksien nie. Una is ook daar.
Nou ja, soos ek reeds geskryf het, is my stadspitsverkeertyd amper verby. Dit sou eintlik al oor wees, maar ‘n simpel C-voorvalletjie het veroorsaak dat dit ‘n week aangeskuif het. Waaroor ek natuurlik op die ou end bly was, want ek kon die week net ietwat rustiger by die huis bly. ‘n Bietjie dingetjies afhandel, maar in ‘low gear’.
Ek sien regtig daarna uit om ‘n rustige tydjie op Rebusfontein te gaan hê. Maar ja, ek moet bysê, rustig bly nie lank rustig daar nie. As daar meer van die Goues opdaag … wel … ‘n mens weet mos nooit wat kan gebeur nie!
Ek het myself in ‘n besering ingeoefen verlede week met die kerkorrel. Die ding nou weer heeltemal oordoen. Dis nou as jy vir amper dertig jaar nooit ‘n ding doen nie en dan skielik weer begin. Uitgehonger, dis die woord! Elke dag een tot twee ure gaan oefen en ‘n ondraaglike pyn in die nek ontwikkel. Ja, dalk is ek die pyn in die nek, maar sjoe, was dit erg. Spasma in ‘n erge graad. Ek doen my rug- en nekoefeninge wat ook agterweë gebly het, maar tevergeefs. Sal ek sowaar hoor dat die probleem by my … BRIL … lê. Kan jy nou meer! Want ek dra ‘n multifokale bril en die ‘leesgedeelte’ is al baie klein en heel onder en die boekstaander is hoog. Die erg opkyk om in die boek te kan sien en dan weer af om my voete letterlik tussen die voetpedale te vind en my hande wat verdwaal tussen die klawers …
Ek het ‘n heerlike nuwe uietert wat ek wil saambring Rebusfontein toe. Met spek in. Iemand wat dit nie weet nie, sal nooit dink dat die tert van UIE gemaak is nie. Geurig verby.
En ek wil my klavier daar op Rebusfontein loop afstof en speel en speel totdat my siel en my liggaam weer mekaar gevind het.
Toortsie
Ons sienbsi uit na jou uietert. Net vanoggend gelees hoe gesond uie nou is. Jou nekspiere sal regkom op Rebus!
LikeLiked by 2 people
Ek wil juis gaan kyk – daar op Rebus staan mos so ‘n ou kerkie. Ek wonder darem of daar nie nog ‘n regte kerkorrel in is nie? Die muise en voëls het dalk al in die pype nes gemaak, maar mens moet dit net oopspeel. Appeltjie speel mos ook kerkorrel …
LikeLiked by 1 person
O dit sal mos heerlik wees as die orrelmusiek so oor die dorpie aangesweef kom!
LikeLiked by 1 person
Praat jy! En daar sal dit mos van die begin af reg klink. Geen gesoek na note nie.
LikeLike
Jou uietert! Wag, ek klim dadelik onder my bed uit!😉🤗
LikeLiked by 2 people
😘
LikeLike
Ek wag om te hoor van die uietert! Dalk is daar een van die Goue Vroue op Rebusfontein wat jou nek bietjie kan masseer …
LikeLiked by 1 person
Nek isklaar beter. 😁 Ek moes ’orrelbril’ kry.
LikeLiked by 1 person
Kook 8-10 uie in halwe koppie room. (Uie in skywe). Kook stadig met deksel op tot sag. Haal deksel af en laat bietjie droër kook
Braai pakkie spek in stukkies gesny.
Meng uie, spek, 4 eiers, koppie gerasperde kaas, 12,5 ml mayonnaise
Sout en peper
Gooi in vuurvaste tertbak.
Bak tot gaar (dalk40 min dalk nie. Moet nog vasstel)
Heerlik!
Jy kan gevlokte vis in plek van bacon gebruik.
LikeLiked by 2 people
So maklik! Ek het ook alles in die kombuis … ek kan nie wag om dit te proe nie!
LikeLiked by 1 person
Regtig so maklik. Hoop joune us ook lekker.
LikeLiked by 1 person
Gooi paprika oor. Kom vertel hoe dit gesmaak het.
LikeLiked by 1 person
Ek maak so … dis op more se spyskaart!
LikeLiked by 1 person
Ek hoop dit werk! Anders is julle môre sonder kos.
LikeLiked by 1 person
Haha 😁 … daar’s altyd eiers! Maar ek’s vol vertroue – sal jou laat weet!
LikeLiked by 2 people
Ooooooo, dankie tog jy bring tert, klink heerlik Toortsie. En speel suster dat ons kan hoor🌻🌻
LikeLiked by 1 person
Ek wonder of julle sal wil hoor wanneer julle regtig hoor. 😁🎈😎
LikeLike
Verseker🌻
LikeLiked by 1 person
🎈
LikeLike
Ek kom, ek kom, ek moet eers my stem gaan terugkry by die spesialis
LikeLiked by 1 person
Waar is die stem dan?
LikeLike
“Ek het myself in ‘n besering ingeoefen verlede week met die kerkorrel.” Ai Toortsie, regtig, ek is vol simpatie, maar jy vertel dit so snaaks! 😆 Dankie, dankie dat jy gekom het! Waa’s daai uietert?
LikeLiked by 1 person