Die spitsverkeer raak dunner

Dit het mos amper ‘n statussimbool geword van hoe verskriklik besig jy is en jy moet besiger wees as die persoon langs jou, want om te sit en niksdoen is ‘n aardsonde. Sjoe! Ek het nou die dag gehoor van ‘n vyfjarige wat gevra het dat hy ‘n ‘gap year’ wil hê, want hy kan net nie meer byhou met al die aktiwiteite wat sy ma hom wil laat doen nie. Ja nee, ons moet besig wees en hoe besiger hoe beter.

Ek is die laaste een om te praat. Dit is mos my swakplek. Ek laai mos op en op en op en OP. Ek WIL mos graag vir almal help. En ek WIL mos graag my eie duisend en tien belangstellings ook aan die gang hou. En nee, nie klein projekkies nie, grotes. Ek is verslaaf aan die uitdagingswaarde daarvan – sal ek dit regkry? Sal ek dit voltooi kry? Sal ek sal ek sal ek? Behalwe dit, is dit vir my LEKKER om besig te wees. Dit maak my soms baie moeg, maar al my baie aktiwiteite, alles wat ek doen, my kreatiwiteit, my gevroetel gee vir my soveel energie en plesier, ek wil beslis nie ophou nie

Ek het mos vertel dat ek in Februarie en Maart deur woeste spreekwoordelike stadspitsverkeer sou ry. Rof. Want op 1 Maart moes ek al daardie massiewe handwerkuitdagings wat ek vir die VLV WOU doen, inhandig. Die borduurwerk wat ek oor en oor gedoen het, die outydse 1950 handgebreide mansgolfhempie, die gehekelde rugsakkie vir ‘n kleuter, die skinderbrief en so tussendeur nog ‘n makrame muurbehangsel ook. Want dit is vir my lekker om dit te doen. En ja, my goed is maar weer aweregs ook … So daardie goed moes AFGEHANDEL word. En ouma het haar dogter gaan help om haar musiekleerders aan die gang te hou so saam met die babatjie. Dit alles saam met die normale dinge waarmee ek my mos besig hou. En die res van my familie is OOK besige mense, dis nie net ek nie!

Ek kon net op een manier deur hierdie spitsverkeer kom sonder dat daar verkeersknope met erge gevolge sou kom en dit was deur my oë op my Navigator te hou. Want Hy kan mos die hele prentjie sien. En vir Hom is iets wat vir my soos ‘n massiewe verkeersknoop lyk, nie eers ‘n kolletjie op Sy kaart nie.

Ek is amper DEUR die spitsverkeer. Ek sou nie hierdeur kon kom as ek nie op gereelde basis vir ‘n goeie tyd by my God stilgeraak het nie. Totaal tot stilstand by Hom gekom het nie. Met Hom gepraat het terwyl ek by Sy voete sit nie. As ek nie krag uit Sy Woord geput het nie. Daar is nie ‘n MANIER wat ek die sonder Hom kon doen nie. Nie ‘n manier nie. Daarom gee ek aan Hom al die eer. Ek moes net my lewenskarretjie bestuur in die wete dat Hy die pad ken. Ek moes my deel dankbaar en voluit doen en dit geniet en vreugde daaruit put.

Ja, spitstyd is amper om.

Toortsie

12 thoughts on “Die spitsverkeer raak dunner

  1. Kan jy dink hoe besig jy sou wees as jy nog hierdie afgelope naweek op jou fietsie die Cape Town Cycle Tour ook moes ry 😉. Dis wonderlik, dat jy ten spyte van jou spitsverkeer, nog genoeg tyd vir ons groot Navigator het … ‘n mens kan so maklik se “ek’s net te besig”.
    Te danke aan Eskom (kan jy glo ek gebruik die woord “te danke” in een sin saam met Eskom) en sy “sit af, sit aan, sit af” het ek hierdie naweek doodstil op een plek gesit en Chanette Paul se opvolg boek van Maanschijnbaai se mense (Nan & Jeannie) van begin tot einde gelees – ja, al 560 bladsye. Ek het ‘n jaar gelede die eerste boek (Jo & Sue) gelees en het gesmag daarna om die 2de een te lees. Ek kan nie verstaan hoekom dit so lank geneem het nie – dalk het ook net nie tyd gemaak nie.

    Like

    1. Ek is MAL daar die boeke. Het dit baie geniet. En ja, daar was dalk net nie tyd nie. Eskom het my al baie keer gered, kan jy glo! Dan MOES ek sit en borduur want ek kon niks anders doen nie, ens.
      My man het die Argus gery en ek was maar dankbaar dat ek dit nie met my driewiel in die reën moes doen nie. Ai, ek het probeer, maar op my topspoed is my gemiddeld 15 km per uur op plat wêreld … Minstens 16,5 per uur gemiddeld is nodig vir die Argus. Ek haal so 30 km per uur as die wind van agter waai en dis ‘n effense afdraende, dan begin ek bang raak vir uit beheer raak! En die topspoed vir trap is so 22, dan sny dit uit. Dit het mos net drie ratte.

      Liked by 1 person

      1. Ja-nee, ek dink dis dalk ook maar beter om jou driewiel net vir ontspanningsritte te gebruik … ek raak ook maar benoud as ek bietjie te vinnig by ‘n afdraand gaan. Ry maar eerder lekker daar op die plaaspaaie rond 🚴‍♀️.
        Ek lees dit was blykbaar gister die eerste keer in 11 jaar dat die Argus in reenweer plaasgevind het – jou man is braaf! Ek wonder wat die fietsryers verkies – reen & nat of droog en winderig?

        Liked by 1 person

    1. Oor slim weet ek nie, wel erg aandagafleibaar. Ek vermoed dat ek so al die jare kinders grootgemaak het en vir die boerdery hard gewerk het aan adminsake, dis nou die eerste keer wat al hierdie goed aandag kry en nou skree almal vir ‘n bietjie aandag.

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s