Eksperiment #5

Het ek nou die afgelope twee dae lekker gespeel met my sonoond! Dat ek vir my ‘n sonoond gekoop het, is eintlik vreemd. Jy sien, ek is nie een vir ‘gadgets’ nie. Ek het my stoof en my oond en my potte en panne wat lekker werk. En as ek dan nou ‘n gadget koop, hoekom nie eerder ‘n ‘air fryer’ soos wat almal koop nie? Nou koop ek ‘n sonoond van alle dinge! En wil ‘n resepteboek daarvoor skryf. Regtig? Maar ja, dis wat ek gedoen het. Want ek maak graag kosse wat lank in ‘n oond kan bly. Die elektrisiteit, sien. En toe bly dit sowaar tot in Desember verlede jaar winter by ons. Vreemd, die kos het wel met die beperkte son en die baie wolke, gaar geword!

Ek het Saterdag ‘n vark rolrib by Checkers gekoop en Sondagoggend dit hanteer asof daar geen geurmiddels op is nie. En Sondagoggend vroeg Toortsie se Varkribresep uit Toortsie 3 gehaal en die Checkers rolrib behoorlik met Toortsieliefde oorlaai. Dit was half 9 toe ek die oondjie buite gesit het, die son het nog nie heeltemal op hom geskyn nie. Een uur het ons die lieflikste, sagste, geurigste rolrib uit die sonoond gehaal.

En gister het ek hom weer so by half tien in die son gesit om ‘n piesangbroodjie te bak. Natuurlik nie met koringmeel nie, maar met amandelmeel en Daar was ‘n paar piesangs wat al baie ryp was en toe het ek die piesangmuffinresep in Toortsie 2 dubbeld gemaak, dit in ‘n oondplaatjie gegooi met nog ‘n oondplaatjie bo-oor en twee uur later het ek my piesangbroodjie uitgehaal! Te lekker!

Terwyl ek hier skryf, voel ek die heeltyd of ek dalk nog iets gaargemaak het oor die naweek, maar kan nou regtig nie onthou nie! Maar van die resepteboek gepraat. Ek is besig om my reseppies een vir een in die sonoond te toets en dit in ‘n e-boek te omskep … vir gewone oonde en sonoonde. Daar is noual so 10 reseppies reg en ek gaan dit binnekort by Smashword oplaai. Die interessantheid daarvan is dat dit ‘n groeiende e-boek gaan wees. Soos wat ek nuwe resepte uittoets, gaan dit by die ander gevoeg word, totdat ek by my standaardhoeveelheid van 60 uitkom. Die lekker daarvan is dat dit nou nog baie goedkoop gaan wees, soveel soos $1, dus omtrent R15,50 en as jy dit eers eenmaal gekoop het, kan jy elke keer die opdatering gratis aflaai. En die kans is goed dat die boek met tyd duurder gaan word soos wat die resepte meer raak.

Ek het sowaar al ‘n voorblad! Dankie Joh-Marie!

Toortsie

14 thoughts on “Eksperiment #5

  1. Dis nou ‘n oulike idee Toortsie! Ek hou ook nie van gadgets nie (is dit goeters?) … my vriendinne karring nou al lank aan my oor ‘n “air fryer”, maar as ek regtig kans sien vir meer as net ons (gewone) stoof, potte en panne, sal ek dalk ook na ‘n sonoondjie kyk – dit klink darem net vir my of kosmaak dan soveel lekker is!

    Liked by 1 person

    1. Die sonoondjie werk lekker as jy baaaaie tyd en geduld het en die son nie agter die wolke wegkruip nie. 🙂 Goeters klink vir my reg. En sal ons dit ‘n lugbraaier noem? Of is dit ‘n direkte vertaling?

      Liked by 1 person

      1. Ek dink jy’s reg met lugbraaier (klink vir my ek het dit al erens gehoor) … maar sonoondjie klink net sommer of dit lekkerder kos sal maak as ‘n lugbraaier – stem jy 😉. Ek het baaaaaie tyd, maar die son is net nie altyd so gewillig hier by die see nie … maar ek sal nie weet as ek nie probeer nie, ne. Ek dink die mense in die Karoo moet dit baie handig kan vind (daar waar die son meeste van die tyd skyn – of dalk Upington … en beslis in Vioolsdrif)!

        Like

        1. In die Karoo is daar blykbaar baie mense wat sonoonde het. En hulle bak beskuit en droog dit uit daarin. Sien, alles wat lang ure in die oond moet bly. Ek voel so lekker as ek iets wat ‘n paar ure in die oond sou wees met sonkrag kan gaarkry. Ag, ek speel lekker!

          Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!