Die Bantinggroep is op dreef! En hoe! Tans is daar 20 deelnemers en op gereelde basis haak daar nog een aan.
Intussen het die groep mekaar reeds gevind en ondersteun hulle mekaar en help mekaar, gee raad. Deel resepte. Te lekker!
Gister was maar rowwerig toe die Carb Flu sy tande kom inslaan het hier en daar. Ai, die skielike verandering van spyse is nie altyd maklik nie. Want ewe skielik word daar nou ekstra ryk kosse belaai met kaas en room geëet waaraan ons nie heeltemal gewoond is nie. Maar terselfdertyd vra die liggaam, ‘waar is die stysel en die suiker waaraan ons so gewoond is, heen?’ Onttrekkingsimptome is nie maklik nie.
Maar die wonder? Dit gaan verby! Anders as toe ek destyds begin het, het ek mos by die Nutrition Network kursus geleer van sout! Ja, sout! Want sout is nie die nare ding soos wat daar vir ons vertel word nie. So, deur ‘n bietjie sout sommer op jou tong te sit en baie water, help jy om die Carb Flu se tande uit te trek. En as dit regtig erg is, kan jy sommer Rehidrate drink om jou liggaam te help. Dit het wondere verrig en ek kan met dankbaarheid sê dat dit lyk of die meeste van ons groep reeds deur die nare tonnel is, anderkant uit!
Dit gaan goed met die deelnemers. En met die aanbieder, terloops. Want nie net vir die meeste van hulle is dit ‘n heel nuwe ervaring om volgens die Keto-reëls te leef nie. Vir my is dit ook ‘n heel eerste, want ek het nog nooit so-iets aangebied nie.
En vanoggend begin hulle skielik gewigsverliese aantoon! En dit na net 2 dae op die oggend van dag 3! Die opwinding is groot! Die vreugdevure brand hoog! En intussen eet ons lekker, want wie het gesê kos moet sleg wees? Daar is nie tyd vir slegte kos nie! Die lewe is te kort daarvoor!
Vir meer inligting rakende die kompetisie en die inskrywingsvorm, kliek op die gemerkte woorde.
Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.
Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word. (Hierdie inskrywing is ‘n dag later, so die groep van 18 het reeds begin! Hou vir hulle duime vas asseblief.)
Toortsie
Ek is so bly om te lees dat jou kompetiesie so ver vlot loop: goed vir jou en baie goed vir die deelnemers.
LikeLiked by 2 people
Dannie Anne. Ja dis meer ‘n ondersteuningsgroep s ies anders en dis heerlik!
LikeLiked by 2 people
Oee, ek onthou hoe erg daardie eerste ruk was (mens soek net ‘carbs’ en sommer alles wat jy nou juis nie mag eet nie) … maar dan begin jy bietjie vir bietjie gewig verloor … en dis wanneer dit begin lekker word. So nou en dan wou-wou die treintjie ontspoor, maar ek het vasgebyt … tot Nieu-Zeeland gekom het. Maar dis ‘n ander storie vir ‘n ander dag (die kort weergawe is dat alles net so duur was in Kiwi-land en vir 4 maande kon ons eintlik net brood, aartappels en pasta met ons Suid-Afrikaanse Rand bekostig) … nou ja, nodeloos om te se, die kilogrampies het stadig maar seker aangepak (og, en hulle aartappels is net in ‘n ander klas – luuks lekker 😊) … en toe ons terugkom in SA, het die melktert en braaibroodjies darem net so lekker gesmaak dat ons (amper) nie wou ophou nie!
Maar Toortsie, sonder dat jy dit seker jou bedoeling was, help jy nou ook sommer weer ‘n ou “banter” om beter te begin eet … julle klompie spoor mens behoorlik aan!
LikeLiked by 2 people
So bly die ‘oue’ kom ook op die spoor. Oe in Australië was roomkaas al wat ek kon as wegneemete koop. Hulle gewone kaas is mos erg duur. So ek het roomkaas met ‘n teelepel geëet kan jy glo!
LikeLiked by 2 people
Wat ‘n klomp geesdriftige mense! Die eerste paar dae is altyd die ergste. Sterkte vir almal – ingesluit die aanbieder.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie! Almal is oor die carb flu en verloor mooi. Ek sukkel steeds om by jou kommentaar te lewer. Sal weer probeer. Dankie vir die inloer.
LikeLike
Toortsie, ek moet eers net gou weer inloer. Het gister daardie heerlike spinasietert van jou gemaak wat in “Hier’s die Toortsie weer!” verskyn … mensig, maar dit IS lekker! Ek hoop jy deel hierdie resep met die deelnemers, want as mens so lekker kan eet (en dis gesond), dan is dit ‘n fees om by die tafel te gaan aansit 😄.
Dankie, ons het dit vreeslik geniet … daar is nou nog net 3 klein blokkies oor vir vandag!
LikeLiked by 1 person
Dankie vir jou!
LikeLiked by 1 person