O genade, nee!

So iets het ek nog nie beleef nie! Toortsie se kreatiewe brein is heeltemal op hol en ek het nie ‘n idee hoe ons hom weer ingetoom gaan kry nie. En julle weet van perde en treine en osse en al daai derglike dinge, as hulle onbeheerst voorthol … maar nee, hier gaan NIE ‘n ongeluk kom nie, hoor jy? Nee!

Aan die een kant brei sy vir ‘n vale aan die outydse 1950 mansgholfhempie waaraan sy al sedert April verlede jaar brei en brei en brei en brei EN BREI! en dit voel of dit nie vorder nie. Maar skielik is die twee groot pante klaar en doen sy die moue en raai, nou gebeur dit vinnig. Daar is lig in die tonnel en dit wil net al hoe meer lyk of sy dit betyds gaan klaarkry voor Maart. As sy gelukkig is.

En dan is dit die bont skapies. Daai lap is nou sowaar heeltemal toe! Maar daar moet nog baie aan gedoen word. Skaduwees en dinge. En nee, sy trek wraggies nie nog een iets uit nie! Dit voel alreeds of sy daai lap drie maal oorgedoen het. Kan jy glo? Selfs daar is die einde van die tonnel sigbaar! Ook voor Maart moet dit klaar wees. Steeds voor Maart is die gehekelde rugsakkie vir ‘n kleuter. Die seekoeikop is darem al klaar, maar die sakkie moet nog gedoen word. In tapersseriehekelwerk …

Intussen oefen sy klassieke kitaar vir ‘n vale. Haar vingertjies frons net so af en toe vir haar. Want sien, sy moet haar dogter gaan help vir ‘n rukkie met haar musiekleerlinge. Kry gou in jou kop. Daai prentjie op die selfoon met sulke groot ogies. Ja! Oeeee maar ouma geniet dit, hoor!

En dan het Toortsie mos in ‘n oorbesige, oorwerkte ooomblik die wonderlike gedagte gekry van ‘n Banting Gewigsverlieskompetisie! Ai tog! Haar grootste vrees was dat daar net een persoon inskryf, want wie hou nou ‘n kompetisie met net een persoon? Dan eerder niemand inskryf nie. In haar hart hoop sy op drie inskrywings. As sy haarself goed strek, darem so vyf, maar sy moenie nou voorbarig wil staan en raak nie. Maar sjuut, julle moenie uitpraat nie … daardie verwagtinge is al verby gesteek, om die waarheid te sê, haar stoutste verwagtinge is oortref.

Toortsie geniet haar gate uit. Jy kan met haar toor. Eintlik ís sy getoor!

Want gister vra die orkesleier of sy nie môre eerder klavier wil speel nie, in plaas van kitaar? Natuurlik sê sy ja, hoe anders? Sy kry die liedjies en begin dit inoefen, maar haar kreatiewe brein, ek het mos gesê dis op galop … julle, haar kop is nou so vol note en vol verwerkings … ons sal nie daai trein gestop kry nie, kom ons hou maar net asem op!

Julle moet haar sien! Sy straal! ‘n Mens sou sweer sy is ‘n kat wat room gekry het!

I rest my case.

Ursula

27 thoughts on “O genade, nee!

  1. Dis nou vir jou ‘n besige lewe. Geen stil sit nie. Die lewe is te kort daarvoor. Soveel dinge om te doen en nie altyd genoeg tyd nie. Die artikel sprankel met energie.

    Liked by 1 person

          1. Dankie vir die raad. Dis iets wat ek nie geweet het nie en ek wou nie voorbarig wees deur my web adres by die kommentaar in te vul nie. Dankie baie

            Like

            1. Niks voorbarigheid nie. Ons wil jou mos graag leer ken en hoe gaan ons weet waar om jou te kry as jy nie vir ons vertel nie? 🙂 Toe ek destyds begin blog het, het Herriemerrie vir my gesê: Maak jouself bekend, veral deur by ander te reageer (wat jy doen) en natuurlik moet jou blogadres daar wees, want hier raak ons groot maats en kuier by mekaar.

              Like

Gesels saam, asseblief!