Vandag bly die prentjie in my kop van ‘n dogtertjie wat langs haar pappa stap, haar hand veilig in sy hand. En ek sien my eie pappa langs my en dink hoe verskriklik veilig ek altyd by hom gevoel het.

Sien, ek is ‘n impulsiewe persoon wat baie keer eers doen voor ek dink en lank nadat my doen reeds aan die gang is, die dink inskop. En wanneer ek op my besigste is en regtig geen tyd het nie, is dit of die impulsiwiteit sommer vlam vat en die idees gebeur en ek doen, doen, doen … en later dink.
So kry ek verlede week een aand skielik die gedagte van die gewigsverlieskompetisie gegrond op die Bantingleefstyl waarvan julle nou al tot vervelens gehoor het. Onmiddellik is my gedagtes aan die gang: Hoe kan ‘n mens dit doen? Binne sekondes is dit redelik presies uitgewerk in my kop met net hier en daar ‘n vraagteken – hoe weet ek die persone praat die waarheid oor die begingewig?
Ek vra vir my man wat hy dink, en anders as soveel kere wat hy maar net die gedagte laat verbygaan, antwoord hy, nes my pa my destyds geantwoord het toe ek iets wou doen en ek sy opinie gevra het: “Hoe sal jy weet as jy nie probeer het nie?”
Ek stuur net daar ‘n paar whattsapps uit vir mense om te bedel vir pryse, sit die moontlikheid op faceboek en daar is die bal aan die rol en soos die tyd aanstap word dit verfyn.
Maar ja, die mense skryf sowaar in! Nou nie in hulle honderde nie, maar al heeltemal genoeg om ‘n volwaardige kompetisie aan die gang te sit. En ek staan in verwondering.
Want sien, my hand is mos in die Groot Hand. En nee, ek het nie vooraf eers vir Hom gevra wat Hy daarvan dink nie, maar ek het wel al vir Hom gevra om my hiermee te help en dat dit suksesvol sal wees, veral noudat mense inskryf.
En ek voel veilig daar met my handjie in die Groot Hand. Nes ‘n kindjie wat net moet saamstap. My werk is om my deel te doen na die beste van my vermoë en verder op Hom te vertrou. Kalm in die wete dat Hy die beste weet. Intussen kan ek wag vir ‘n klomp lekker verrassings.
En sou daar niemand inskryf nie, was dit ook nie die einde van die wêreld nie. Maar dit lyk my of Hy my wil gebruik om mense te help, of hoe?
Toortsie
As ons onthou dat Sy hand altyd oor ons hand gevou is, is die pad soveel makliker (al is daardie pad ook steil). Sterkte met die organisering van die kompetisie Toortsie – jy’t ‘n wil wat ek bewonder ☺️.
LikeLiked by 1 person
Man, ek vergeet soms self van daai Hand! Dankie vir die moed inpraat.
LikeLiked by 1 person
Dis vir my so lekker om jou dop te hou as die idees posvat, ek het groot bewondering vir hierdie vermoë van jou.
LikeLiked by 1 person
Smile ek nou vir jou, iemand wat self groot planne het en maak en daarby hou. Maar baie dankie! Ek vat dit vir my.
LikeLike
Ja- nee dis Toortsie op haar beste; spring in en doen en doen nog,en nog. Tog is dit soos jy se aan Sy hand loop jy n menigte storm. Baie trots op jou vriendin, jy mag maar hoor.
LikeLike
Baie dankie! Die pad is vol verrassings. Ek loop hom net.
LikeLiked by 1 person