Die jubeljaar skop af

Gister by die aandoordenking op RSG sê die prediker dat verbeelding baie belangrik is in die Christen se lewe en dat God selfs verbeelding gebruik het toe Hy die aarde geskep het. Net so moet ons ons verbeel, ons indink in die goeie dinge in en dit begin najaag. En toe ek vanoggend wakker word, besef ek: Hierdie jaar is ‘n Jubeljaar! Ja! 2022 is ‘n Jubeljaar. Vir myself, vir my gesin, my vriende, ons dorp, ons land … vir elke persoon! Onsself is die afgelope hele paar jaar deur groot krisisse en verlede jaar was reeds vir ons ‘n hersteljaar, daarom verklaar ek: 2022 is ‘n Jubeljaar!

Net daarna skryf WoordNoot dat sy ‘n goue handsak gekry het met dié briefie daarin:

“Goue vrou, hierdie is ‘n jaar van gee. Kies daardie een plek waar jy goue feëtjiestoffies wil laat val om iemand se hart bly te maak. Sodra jy die volgende kode intik op jou selfoon, sal jy alles kry wat nodig is om jou saak te help. KODEWOORD – Gaanvirgoud”

En net daar is ons klomp Goues in ons bus, wat nou gekamofleer is omdat die veiligheidspolisie en allerhande oranisasies op soek is na ons. Nie dat ons lank sal kan wegkruip nie, hulle sal ons mos sommer gou weer opspoor!

Die bus neem ons na Heilbron, waar ons by die ouetehuis die mense gaan bedien met ons liefde. Ek beland in die kombuis en verduidelik vir die kostannie dat die baie stysel wat hulle vir die oumense gee, regtig nie goed is vir hulle nie. Baie van daardie mense het diabetes of ander probleme wat deur te veel suiker en stysel vererger word. Sy verduidelik aan my dat fondse maar regtig ‘n probleem is, wat ek heeltemal verstaan, daarom kan ek nie te kwaai wees nie. Dit sal ook ‘n groot skok vir die mense se gestel wees as hulle nou sommer oornag oorslaan na ‘n ketogeniese dieet. Ek het wel vir haar ‘n bietjie idees te gee om dit tog ‘n bietjie te inkorporeer en steeds die begroting te laat klop.

Terwyl dit dan nou ons voorreg is om te gee en ek dit in elk geval wil uitgil dat dit ‘n jubeljaar is, seën ek hulle toe met ‘n feesmaal. Soveel van daardie oumense het hulle kinders jare laas gesien en het ook nie ‘n heerlike kers-ete gehad nie. So ek het vir hulle die spesiale koue souttert gemaak wat ek net op spesiale dae maak, dit is maar groot werk. Dit word in lae gemaak: ‘n Kors, tunalaag, gekookte eiers, maaskaas en nog ‘n paar geheime bestanddeeltjies om dit spesiaal te maak. Ek het die oorspronklike resep by ‘n vriendin gekry en moes toe self die hoeveelhede uitwerk en dit Bantingvriendelik maak. Omdat dit ryk is, het ons vir elkeen net ‘n kleinerige porsie gegee.

Vir soetigheid het ek die Goue Vroue Tiramisu Mousse gemaak – ryk en lekker. Ja, daar ís ‘n bietjie skop in, maar wat is ‘n ou bietjie skop nou tussen vriende en dit ís mos ‘n Goue Vroue projek, dan nie?

Wel, hierdie gebeure het slegs in die verbeeldingswêreld plaasgevind, maar soos daardie prediker gesê het, is dit nodig dat iets eers ‘n gedagte is voor dit ‘n werklikheid kan word. WoordNoot, hierdie oulike storie van jou het my gedagtes aan die gang gesit. Ek sal nou seker nie in die regte lewe vir Heilbron se ouetehuis gaan besoek nie, maar wat keer my om iets lekkers in my eie dorp se ouetehuis te doen? Ek sal jou laat weet, hoor jy!

Toortsie

9 thoughts on “Die jubeljaar skop af

Gesels saam, asseblief!