Net ‘n klein stukkie been

My pa is dood nadat hy beesborsstuk geëet het en ’n stukkie been ingesluk het. Die beentjie het ’n gat in sy slukderm gesteek.

Ongelukkig het hulle nie dadelik besef wat die fout was nie. Hy is met ’n erge pyn in sy bors dokter toe. Die dokter het hom dadelik na ’n spesialis verwys wat hom laat opneem het in die hospitaal. Omdat hy ’n hart- en longgeskiedenis gehad het, het hulle hom daarvoor behandel. Hulle het nie besef dat hulle elders moes soek nie. Toe sy gesondheid soveel agteruit gegaan het, het hulle geopereer en afgekom op ’n klomp kos in sy buik. Kos wat deur die gat in sy slukderm ontsnap het.

Ons as familie is onmiddellik ingeroep en daar is aan ons verduidelik dat hulle niks meer vir hom kon doen nie. Hy sou van honger sterf.

’n Dokters-oom van die skoonfamilie het hiervan gehoor en dadelik opgetree: Daar ís iets wat hulle kan doen. ’n Spesialis was bereid was om te opereer. Daar is eers ’n pomp gekoppel wat kos met ’n vreeslike onophoudende gedreun direk na sy maag gepomp het. Die laaste operasie was ’n stent wat hulle oor die gaatjie in die keel gesit het. Dit was die eerste keer wat hulle so ’n operasie doen en hulle kon nie waarborg dat dit sou werk nie. Dit was suksesvol.

Die groot wonderwerk was dat my pa ontslaan kon word uit die hospitaal. Hy het egter ’n paar dae later gesterf. Vermoedelik het die stent geskuif.

Wat is my mening hieroor, twee-en-twintig jaar later?

Om die waarheid te sê, ek weet nie.

Omdat dit my man se oom was wat die ding gedryf het, was ek midde in die gebeure en die besluite. Ek, as jongste kind wat nie gewoonlik besluite in die gesin geneem het nie.

Ek weet tot vandag toe nog nie of dit die regte ding was wat gedoen is nie. Die spesialiste wat hom aanvanklik behandel het, het onttrek. Moes ek na die dokters luister wat gesê het dat ons moes los, of na dié wat gevoel het dat hulle hom kon help? Hy moes soveel onnodige ongemak verduur.

Maar, as ons nie dit probeer het nie, sou ek nie dalk myself vir die res van my lewe blameer nie? ‘Wat as’ kan jou mal maak.

Elke donker wolkie het ’n silwer randjie. Ek en my pa het altyd ’n wonderlike verhouding gehad. Die ses weke wat ek weekliks ’n paar dae my ma gaan aflos het en met hom tyd spandeer het, was so spesiaal. Ons was so naby aan mekaar en kon herhaaldelik ons liefde aan mekaar betuig.

Ek het ook ervaar hoe ek en my broers kon saamstaan in ’n krisis. Binne ’n halfuur nadat die spesialis ons ontbied het, was almal bymekaar om hom saam te gaan spreek.

Dit is juis in sulke tye wat ’n mens besef hoe God jou in die krisistye bystaan, maar ook wat in jouself steek. Dat jy tot meer in staat is as wat jy kan dink. Dat jy baie sterker is as wat jy dink.

Dit bly vir my moeilik om sulke lewensbelangrike besluite namens iemand anders te neem. Die verantwoordelikheid is net te groot. As enigste dogter moes ek later meermale besluite namens my ma neem. Sulke tye moet ‘n mens luister en hoor watter raad ander jou gee. Op die ou end is dit egter net jy wat die besluit moet neem met die inligting tot jou beskikking. Ná die tyd kan jy maklik twyfel, maar dan moet jy jou besluit aanvaar. Terugskouing is altyd maklik, want jy kyk met ander oë as tydens die krisis. Dis dan wat jy moet vertrou dat jy die beste besluit geneem het.

Hierdie ervaring het my voorberei vir ’n veel erger drama ’n paar jaar later en daarvoor is ek dankbaar.

Lewenskrisisse, drama kom oor ons almal se pad. Ons kan dit nie vermy nie, selfs al probeer ons ons bes. Met ons hand in God s’n kan ons egter sterker staan teen die storms en kan ons op die ou end deur die storm kom. Mag dit vir ook vir jou waar wees, liewe leser.

Toortsie

……………..

Soos gepubliseer by Ink. Die opdrag:

Gorrelskrywers: Skryf ‘n meningstuk oor ‘n dramatiese ervaring in jou lewe.

11 thoughts on “Net ‘n klein stukkie been

  1. Ek moes my onttrek aan n simposium wat 2 weke sou plaasvind na my pa n beroerte gehad het, want die dokters het gesê die grote is op pad. Dit gebeur toe nie en die skoolhoof vra my of ek n ander besluit sou kon neem. My antwoord: 2 weke gelede moes ek n besluit neem met inligting wat ek op daai stadium gehad het. Vandag, met dieslfde inligting, sou ek dieselfde besluit neem

    Liked by 2 people

  2. Toortsie, mens twyfel altyd aan sulke besluite. Ding wat my al baie troos gebring het is die feit dat mens besluit wat jy op daardie stadium voel is die beste ding met dit wat jy tot jou beskiking het. Daar is altyd dinge wat vir en teen sulke besluite tel. Daar is geen maklike of regte of verkeerde besluit nie. Julle het wonderlike oomblikke gedeel, dit is so blessing. Jy ken hom en weet wat sy gevoel was. Die feit dat julle so kon saamkom as familie is wonderlik, slegte situasie, maar wonderlik julle was daar vir mekaar. Ek is bly julle het nog meer spesiale tyd saam gehad. Jy dink ek het die regte besluit geneem,x

    Liked by 2 people

  3. Ek sukkel ook soms met daardie “wat as” … maar mens kan tog nie dit verander wat jy gedoen/besluit het nie, so in my opinie is dit dooie woorde. Wat ek wel glo, is dat ‘n mens “voorberei” word vir ‘n volgende uitdaging 💌.

    Like

  4. Mens weet nooit of enige besluit wat jy nee, hoe erg of hoe gering ookal, die regte besluit is nie. Maar dat dit deel is van jou lewensdoel en wat jy maak met die gevolge van daardie besluit, kan helaas jou pad vorentoe beinvloed.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s