‘n Sneeuvolle Golden Gate

Wet and Dusty Roads se heerlike toer van die weskus na die ooskus van ons land en hulle oornagrusplekkie by Golden Gate laat my gedagtes verheen terugdink. Ai, ek kom deesdae so min by die blogs uit! Twee mense het my genader om hulle te help om hulle skrywes in e-boeke te omskep. Die een is ‘n ongelooflike ware verhaal, ‘n getuienis van die pad wat hulle gestap het toe haar man die uiters ontstellende nuus van ‘n baie erge kanker gehoor het, die wonderwerke wat plaasgevind het, die pad wat hulle met God geloop het. Die ander is tog te lekker kontreistories! Ek sal die skakels kom gee sodra dit beskikbaar is. Albei is heerlike leesstof.

Terug by Wet and Dusty Roads en Golden Gate. Baie, baie jare gelede, ons kinders was sommer nog klein, toer ons so die land deur. Hier en daar oornag ons by vriende of familie en vir almal sê ek: “Ons gaan by Golden Gate oornag en ek hoop dat dit sneeu, want ek sal graag Golden Gate wit met die sneeu sien.” Dit was darem in Junie.

Ons arriveer in Sodwana in gietende reën. Die water loop behoorlik. Al wat ons kan doen, is skuil in ons huisie. Intussen is ek benoud dat ons nie die volgende dag sou kon ry nie, dat die pad te nat is. Intussen hoor ons die een na die ander nuusberig van verskriklike reën en sneeu. Die Van Reenenspas is gesluit. Hope voertuie is vasgekeer in die pas. En die sneeu en reën hou net aan en aan. Stappers is vasgekeer in die Drakensberge. Dis erg, erg, erg. Helikopters vlieg rond om mense te help in hierdie sneeuval wat die ergste is in jare.

In Durban moes ek loop warm klere koop vir die kinders. Die klere wat ek ingepak het, was glad nie geskik nie en Durban het nie regtig warm klere nie, selfs nie in die winter nie. Of, dalk het ek op verkeerde plek gesoek! Daar sit ons amper vasgekeer in Natal!

Die dag toe ons moes ry in Durban, was die pas steeds gesluit. Manlief ry maar die roete wat ons moet ry – na die pas wat gesluit is. Ons is mos op pad na Golden Gate, onthou jy? Gelukkig kondig hulle aan: die pas is oop. Van voor af kom vragmotors met sneeumanne op hulle neuse. En Golden Gate? Toegesneeu, soos ek dit graag wou hê.

Die seuns het heerlik in die sneeu baljaar, ag, ons Kapenaars weet eintlik ook nie regtig wat om met die sneeu te maak as ons dit wel die slag kry nie. Dogtertjie was ‘n jaar oud en bang. Sy wou nie eers op die sneeu staan nie. As ek probeer om haar neer te sit, trek sy haar beentjies op!

Ag, dit was ‘n wonderlike belewenis. En my een seuntjie se opmerking? “Dis alles mamma se skuld. Mamma wou hê dit moes sneeu, nou het soveel mense vasgesit en weggeraak in die berg!”

Maar ja, ons wens was sowaar vervul!

Toortsie

4 thoughts on “‘n Sneeuvolle Golden Gate

  1. Ag Toortsie, wat ‘n mooie storie! Ek sal beslis nie omgee om Golden Gate wit te sien nie … maar ek het dit wel in GIETENDE reen gesien – en dit was nog steeds so mooi! Ek ken nie sulke rots formasies soos daar by Golden Gate nie, dit was werklik ‘n “oee” en “ahh” oomblik! En Sodwana – dit bly ‘n wonderlike afslaan plekkie vir ons!
    Dankie, nou’t ek sommer weer lekker saam met jou getoer!

    Liked by 2 people

Laat 'n boodskap na Toortsie Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s