Soms word ons getoets

Soms word ons getoets en weet ons nie eers daarvan nie, ander kere is ons ten volle bewus daarvan. Soms is dit net ‘n ligte toets van lojaliteit of integriteit, soms word ons soos Job getoets. Soms faal ons die toets, soms slaag ons dit, maar wanneer ons die toets geslaag het, is die beloning wat ons daaruit kry, meer werd as korale. Soms is die beloning sigbaar, soms besef ons nie eers dit nie. Maar dat ons getoets word, is waar. En dat die duiwel ons sal laat twyfel of ons die regte ding doen, is ook waar. En veral sal hy dit soms laat lyk of die verkeerde besluit eintlik die regte besluit is … ook waar.

Soms word daar van ons vreemde goed gevra, soos daar destyds van Naäman gevra is om hom vir sewe keer in die Jordaan te was om van sy melaatsheid genees te word. Soms word daar van jou gevra om sewe keer om jou huis te stap en te bid, soos die Israeliete om Jerigo moes stap. Soms word daar van jou gevra om om jou plaas te loop, te bid by elke ingang en uitgang, by elke hoekpaal. Soms is dit selfs dalk nodig om te bid dat, sou daar enige vloeke op jou besigheid wees waarvan jy selfs nie eers weet nie, dat God dit sal verwyder. Soms mag dit vir jou voel of die kalf regtig in die put is … Soms word ons maar net gevra om ‘n slag weer na Sy gebooie te kyk, wat Hy presies van ons vra.

Terwyl ek hier tik, besef ek hoe feilbaar ek ook is, hoeveel keer ek die toets druip. Soms uit my eie onvermoë, soms as gevolg van druk van ander. Soms staan ons voor uiters moeilike keuses – wat moet ons doen? Maar as ons dink, die Here het ons nog altyd gehelp, as ons aan ons lewe dink, hoeveel keer ons al heuphoogte in die moeilikheid was, neushoogte selfs en daar vir ons geen uitweg was nie het Hy ons gehelp.

When in doubt, leave it out. En soos ek deur my Bybel blaai om te soek na die stukkie waar dit staan dat ons almal in ‘n vuur gelouter sal word en ons getoets sal word, is ons soos hout wat sommer net tot as verbrand of soos goud wat deur vuur tot sy beste kom, spring hierdie woorde voor my oë in: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:9)

Sterkstaan, my maters. Spandeer tyd in God se geselskap – die antwoorde lê by Hom.

Toortsie

9 thoughts on “Soms word ons getoets

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s