Sommige planne hou langer

‘n Boer maak ‘n plan, sê hulle en die planne moet net nie opraak nie! Nou, hierdie boerkind het ‘n kop vol planne. Soms kom van hulle tog tot uitvoering, maar baie keer nie en soms kom daar goed tot uitvoering wat glad nie deel van die plan was nie. Soos al die Toortsieboeke wat sommer so op die sypaadjie begin gebeur het.

Soos die Argusplan. Dié het darem vier dae gehou. Nie soos my strandhuis verkoop en Motorhomekoopplan wat net een dag gehou het tot my man se groot verligting nie! Vuur en vlam het ek en die kleinkinders selfaangedrewe karavane op die internet nagevors en planne gemaak. Jong, daar is luukse goed daarbuite. Ons sou sommer ons en hulle en nóg almal saamtoer en mekaar seker raaktrap ook. Maar ja, daai plan is uit my kop uit. Of dalk nie. Wie sal ooit weet.

Die Argus. Nadat ek my arme hond amper gister uitgemoor het toe ek soos ‘n wildewragtag gejaag het teerpadlangs met my driewieletjie, het ek onthou. Dis nie waarvoor ek hom gekoop het nie. Nie vir onnodige lang uithouritte waarvoor ek maandelank moet oefen en gespanne raak en almal onder stres sit nie. Ja, ek sal graag soms saam met my man die teerpad wil aandurf en trap vir al wat dit werd is, maar eintlik wil ek sommer net rustig ry vir die lekker met my hondekind wat gemaklik saamdraf. Of saam met my kleinkinders stoprystopry. Vir die plesier daarvan. Sonder enige druk van ouma moet nou oefen en ver ry en ouma kan nou nie saam met julle ry nie. Dan mis ek die punt.

En niks met planne te make nie. Ek sou nie ‘n goeie padwerkepersoon gewees het nie. Kort voor lank sou my gedagtes dwaal en sou ek vergeet om te tel hoeveel karre verbygekom het en sou ek karre verkeerd laat ry. Chaos!

En die Camino? Daai plan broei nog steeds. Wag maar! Eendag op ‘n reëndag …

Toortsie

11 thoughts on “Sommige planne hou langer

  1. Jaaa Toortsie … ek het ook al baie sulke planne gehad (party broei nog in my kop), maar soms kan mens mos maar so bietjie droom. Ry jou driewiel wanneer jy so voel en doen dit so dat jy nog die skoonheid rondom jou kan geniet.
    En moenie ophou droom oor die Camino nie ….

    Liked by 1 person

  2. Stem saam met planne maak en dinge uitwerk en op einde word dit weggeskuif tot n volgende keer as daar behoefte is om weer die planne deur te gaan. Daar is sekere dinge wat mens logies moet uitwerk tog is dit lekker om groot te beplan. Die camino is ook steeds in my agterkop. Lekker planne alles.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!