Baie meer

Ek lees tans in 2 Kronieke en geniet so al die ou verhale en die wonderwerke wat gebeur. Tussendeur kom die boodskap oor en oor – bly by die Here, hou jou by Sy bepalings.

Koning Amasia van Juda wou dapper Israelietiese krygers huur toe ‘n man van God hom keer. Nee moenie, want by God gaan jy baie meer kry as by hulle. (2 Kron 25:9) En Hy hét vir hulle baie meer gegee.

Hoeveel keer veg en wen God oorloë vir die Israeliete op die vreemdste maniere. Soms vlug die vyand voor daar enigsins geveg is, of hoor hulle iets soos strydwaens of kry hulle ‘n boodskap van die huis af dat hulle moet teruggaan oor riviere wat loop …

Vir vyf jaar lank kan ons alreeds nie boer in die Klein Karoo nie. Almal weet van die knellende droogte. Soms reën dit bietjies-bietjies, maar nie genoeg om lusern te verbou waarvoor die plaas eintlik uitgelê is nie. Die dam waaruit ons moet besproei het tans net 11 persent water in en hulle gee nie leibeurte daaruit voor dit omtrent 22 persent vol is nie. So, keer op keer verdamp die dam sommer droog …

Maar God weet van maniere waarop ons nie reken nie. ‘n Ánder dam, waaruit ons geen leiregte het nie, kry reën in sy opvanggebied. Soveel so dat die dam begin oorloop, verby ons plaas wat wel die oorloopwater mag benut en dat ons, vir die eerste keer in vyf jaar die lieflikste lusern daar afhaal. En Hy stuur reën na ánder gebiede en die riviere begin loop, ook oor ons grond …

Baie meer as wat ons kan dink of droom sê Efesiërs 3:20. En Hy verdien ál die eer!

Toortsie

22 thoughts on “Baie meer

  1. Fijn hoe Jullie daar in Zuid-Afrika gelovig blijven.
    Hier in België is het spijtig genoeg anders.
    Kerken lopen leeg, veel kerken worden tegenwoordig zelfs ontwijd om er andere bestemmingen aan te geven, ja zelfs danszalen.
    Gezegende Groet uit Vlaanderen
    Theo

    Liked by 1 person

  2. Hemelse Vader,
    Ons bid Ps 20:6 NLV saam met Toortsie-Ster en haar mense:
    Mag ons juig oor U oorwinning, en baniere hys in die Naam van ons God.
    Ons juig Here, oor die water en die lusernoes.
    U Naam Jesus Christus, is oor ons uitgeroep en ons hys U banier.
    Dankie Hemelse Vader vir U sorg, amen.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!