Wat is die minimum vereiste

Hoeveel keer het ek al in my lewe hierdie vraag gevra: Wat is die minimum vereiste om ‘n sekere iets te bereik. En as ek nou krities wil wees, hoekom vra vir die minimum? Moet ek dan nie strewe na my beste nie? Beslis! Maar tog het ek dit al baie gevra, soos in die Bybel ook staan, ‘n bouer moet mos darem eers die koste bereken voor hy begin bou, of hoe?

Soos toe ek baie jare gelede die Voet van Afrika halfmarathon wou stap. Wat is die minimum vereistes? In daardie dae was daar slegs 2 3/4 uur toegelaat om dit te voltooi. Stappers was beslis nie in die visier nie. 7,8 minute per kilometer.

En as my kind dalk eendag B Mus sou wou studeer, het ek uitgevind dat die minimum vereiste Gr 7 Prakties en die nodige teorie daarmee saam. Dit sou beteken dat sy vroegtydig met die nodige musiekeksamens moes begin, selfs al in die laerskool.

Vandag loop my kop weer heeltemal wye draaie. Wat is die minimum vereiste om die Argus met my driewiel te voltooi. Kyk, laat ek dadelik vuur doodslaan: Ek maak net die somme! Dis glad nie te sê dat ek dit sal doen nie! En as ek die somme maak, hoef ek dit ook nie te doen nie.

Maar terwyl ek nou aan die somme maak, is … die afstand is 109 km waarvoor jy maksimum 7 ure het, dus moet jy teen 15,4 km per uur ry. Nou ja, Toortsie, hoe lyk jou vertoning met jou driewiel tans? Toortsie ry al heel mooi. Omtrent so 10 km op ‘n slag op ‘n baie gaterige grondpad. Naastenby in ‘n uur. Vir ontspanning. Twee keer op die dag wat ek wel ry. Maarrrr die Argus is op ‘n teerpad, né?

So, om die Argus enigsins te wil voltooi en nie in 2022 nie, sal ek …

… heelwat vinniger moet trap

… heelwat langer en meer ure in die saal moet spandeer

… bulte moet oefen … baie bulte, ook om steil bulte te stoot, want my driespoeddriewiel kan nie sommer ENIGE bult uittrap nie … en oefen om nie oor my eie voet te ry met die linkeragterwiel nie

… afdraende gemakliker te ry … amper vreesloos … nee, nie vreesloos nie, maar minder versigtig … want dis daar waar ek ‘n bietjie tyd sal moet inhaal.

Baie keer het ek al my lewe sulke somme gemaak waarvan niks gekom het nie, en dit maak nie saak nie. Net soveel keer het ek sulke somme gemaak, die wilde besluit geneem en gewaag en myself en ‘n hele lot ander op hulle neuse laat kyk. Maar deur sulke somme te maak, begin ek met ‘n ander bril na ‘n situasie te kyk. Hierdie gedagtes rondom die Argus, laat my met nuwe oë kyk na paadjies waar ek moontlik kan ry wat ek tot nou toe nog misgekyk het. Lyk hierdie angswekkende afdraend langs ons huis dalk ‘n bietjie minder angswekkend en kan ek dalk planne maak om by hom verby te kom om tóg by die meer gemaklike paaie uit te kom. Deur sulke somme te maak, verskuif jy jou eie bakens, kry jy moed om dalk dinge aan te pak wat voorheen totaal onmoontlik was.

En, as jy mooi daaroor dink, wat is die ergste ding wat kan gebeur? Behalwe dat jy dalk kan val en seerkry? Om halfpad moeg te raak en op te hou. Of dat mense jou gaan terg en dalk lelike goed vir jou sê. Rêrig? Is dit AL?

Toortsie

41 thoughts on “Wat is die minimum vereiste

  1. Ek wou nou presies dieselfde se as Frannie … daai Kaapse wind is jou nr.1 faktor! En die ergste wat kan gebeur – jy gaan beslis op die voorblad van ‘n koerant beland (maar dit kan natuurlik weer ‘n hele klomp positiewe dinge tot gevolg he as jy my vra)!

    Liked by 2 people

        1. Ek dink ons was so beskermd grootgemaak. Ons geslag is nou di emense wat uitspring en goed begin doen. Wat waag. Dalk is dit juis die beskermende grootmaak wat ons gehelp het om stewige wortels te groei en nou op ons ouer dag die gutz gee om dinge aan te pak.

          Like

Lewer kommentaar op Tannie Frannie Kanselleer antwoord