Melk, melk, melk!

Ons is ń groep vroue, die goue vroue, elkeen van ons het ń stukkie goud in haar. Ons flans woorde bymekaar en maak stories, ons elkeen het ń huisie in Rebusfontein. Dit is ons realiteit, weg van realiteit. Jy kan kom saam skryf, of andersins saam met ons, ons avonture beleef. Volg ons volgende verhaal op die onderstaande skakel.

https://fresh.inlinkz.com/party/58bfda52c1464dd6bd728872e5955344

………….

“Genade, Toortsie! Waar foeter jy nou met ons en die parmantige pers bus in? Kan die bus ooit hier ry?” Aalsie lyk benoud, dit voel seker vir haar of hulle al hoog in die berg is.

“Koeie net waar jy kyk! Ja! Ons is op pad na julle melkstal, né Toortsie? Is dit Jerseys?” Frannie het ‘n salige uitdrukking op haar gesig.

“Ja, ja. Kom, trek vir julle elkeen ‘n oorpak en ‘n paar waterskoene aan. My man het laat weet dat hulle hulp nodig het in die melkstal vandag.” Toortsie hou haar lag met moeite in. Party lyk opgewonde, ander minder. Hier en daar druk een haar neus toe toe sy die mis oral sien. Aanvanklik word daar versigtig getrap, maar sommer gou sê Appeltjie dat ‘n ou bietjie mis nog niemand kwaad gedoen het nie en ons vanaand lekker sal kan stort en hare was by die gastehuis. Net daar druk sy ‘n CD in die bus se CD speler en laat ons die ‘gum boot dance’ doen. Dis mos darem nie aldag dat die Goue Vroue die regte klere aanhet vir hierdie dans nie!

Ag, en dis toe wat Una die kalfies sien en is sy by om die werkers te help om hulle melk te gee.

VirgoC is dadelik op die perd om nog beeste op die land te gaan aanhaal terwyl Kameel sommer in die put in is om te help om die suiers aan te sit sodat die koeie gemelk kan word. “Komaan julle, die koeie dra swaar aan hierdie massiewe uiers vol melk, ons kan nie staan en wag vir die son om onder te gaan nie!” Sonell gryp die bottel speendoop en begin die spene behandel sodat daar nie mastitis of enige ander siekte van die een koei na die ander oorgedra word nie. Aalsie hou behoorlik wag om te sien dat die voerders vir elke koei genoeg voer uitlaat. Pedro se lieflike klavierspel uit die bus laat die koeie kalmeer en sak hulle sommer maklik en gou en gee ekstra baie melk.

Toe Christa van die rekenaarstelsel hoor, is sy dadelik by om daar hand te gee, te sien of alles reg werk, om koeie wat geKI moet word of siek is, uit te keer sodat Positief by die KI-stasie kan help. Sy weet mos van boerbokke, wat is nou anders aan Jersey-koeie?

Dis net toe wat Trommeltjies roep dat daar ‘n koei aan die kalf is. “Ai tog, as dit nie blouwildebeesklafies is wat ek vang nie, dan vang ek Jerseykalfies, maar kalfies moet ek vang!” En om alles te kroon, is dit nog ‘n versie daarby en kan Jackie die kalfie in elke oor merk en Christa die kalwing by die regte koei op die rekenaar aanteken.

“Julle … ek wil nou nie snaaks wees nie, maar daardie bul … nee! … ek glo dit nie! Het daardie bul nou … ?” Seegogga staan verdwaas. “Ja, Seegogga, oor so nege maande … :)” (Positief)

“WoordNoot, waarmee is jy besig? Wat wil jy met al daardie kanne maak? Kom ek help jou.” (Sonell)

“Dankie, Sonell, hier is so baie melk, ons kan onmoontlik nie niks daarvan maak nie. Ja, help my dan tap ons vir ons ‘n klompie melk. Dan maak ons vanaand melkpap.” (WoordNoot)

“Oeeee, kan ek ‘n melktert vir ons bak? Sal jy genoeg melk tap asseblief?” (Ora)

“En lekker volroom joghurt! Ek weet hoe om dit te maak.” (Jackie)

“En ek weet hoe om roomkaas te maak, dis glad nie moeilik nie.” (Ekmyselff)

“En botter! Joe! Wanneer laas het ek regte plaasbotter geëet? “(Appeltjie)

“Ja! Botter! Dan kan ons karringmelkpoeding maak van die karringmelk!” (Una)

“Dit lyk vir my dat ons vanaand ‘n hele melkbedrywigheid gaan hê by die gastehuis.” (Frannie)

“Mag ek sommer net ‘n glas vol melk drink dat my bolip spierwit is daarvan?” (Kameel)

Gelukkig is daar genoeg werkers wat die stal kan skoonmaak ná die melking en kan die Goue Vroue met hulle kanne melk rustig die pers bus betree. Hulle is vuil, maar gelukkig.

22 thoughts on “Melk, melk, melk!

  1. Hoop jy het koeksoda vir die nagevolge. En neeeee moenie deurmekaar raak en vir my Engelsesout (Epsan Salt) gee nie. My sus se dogter het oor naweek so by my deurgeloop…. gelukkig kan ek my kop blameer. Ek ken nie van so melkery nie…. heel interessant.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!