My blikkies vol lekkergoed bring my vanoggend in dele van die dorp waar ek nie gewoonlik kom nie. Amoré Bekker van RSG is aan die woord en sê: “As jy nou, vier minute oor nege, nog niks het om oor dankbaar te wees nie, wees dankbaar dat …” en ek besef: Ek het soveel om voor dankbaar te wees. Om sommer net mee te begin: Om ‘n lieflike, sagte, warm bed te hê waarin ek vanoggend kon wakker word langs my man, langs wie ek al vir meer as 36 jaar wakker word … en dis maar net die begin. Weet jy, en ek kry respek vir daardie mense wat te midde van moeilike omstandighede ook vir hulle ‘n lewe probeer maak na die beste van hulle vermoë.
Sy praat verder oor Afrikaans en die woorde begin in my kop rondmaal om hierdie bloginskrywing te skryf wat ek al so lank lus het om te skryf. Hoe verder ek dink, hoe meer besef ek dat ek dalk uit twee of selfs meer monde gaan praat. Want aan die een kant is ek so bly dat mense Afrikaans probeer praat, dis nou mense wat nie Afrikaans as moedertaal het nie en vir hulle vergewe ek regtig as die taal skeef uitkom. En dan is daar ander wat miskien nie ‘n goeie Afrikaans aan moederskoot geleer het nie, maar lief is vir ons taal. En dan is daar die goeie gemiddeldes waaronder ek seker ook val, ons wat probeer om nog ‘n redelike goeie Afrikaans te praat. En ja, ek moet bieg, ook my taal verswak as ek nie daaroor waak nie. Ook ek raak deesdae onseker oor spellings wat nog nooit vir my ‘n probleem was nie. Of die regte woord op die regte plek gebruik.
Maar ek raak wel moedeloos as ‘slangwoorde’ soms sommer net as algemene gebruikstaal gebruik word. As daar regtig baie mooi Afrikaanse woorde is, maar ons verval sommer net in Anglisismes of die Verafrikaansing van Engelse woorde en soveel keer deur mense wat ek sou dink in staat sou wees tot goeie Afrikaans. Ag, en dan vergeet ek self ook sommer die Afrikaanse woord of steek dit in my kop vas.
En dan is daar ook mense wat regtig goeie en groot Afrikaanse woorde gebruik. Soveel so dat ek nie altyd verstaan wat hulle wil sê nie. Hogere Afrikaans sommer as gewone spreektaal. Oeeee en dan voel dit of my ou koppie seker maar net verskriklik plat is. En of my ore sommer toeslaan en my gedagtes begin dwaal na dinge wat my ou kleine koppie wel sal verstaan.
Ek is baie bly as ons taal ontwikkel, veral as daar goeie Afrikaanse nuutskeppings ontstaan. Maar ek is nie seker of sommer swak Verafrikaansing van Engelse woorde regtig groei van my taal beteken nie. Iemand vra op ‘n Facebookblad wat ‘n Afrikaanse gedig vol Engelse woorde genoem word.
Nouja, soveel dae, soveel dinge. Soveel monde, soveel menings. Smaak verskil. En juis hieroor, mag ek seker maar my mening ook hê, of hoe?
Mag jy ‘n mooi dag hê.
Toortsie
Ek is saam met jou dankbaar dat Afrikaans steeds sy kop bo water kan hou al gaan dit met tye met n gespartel. Soms kom ek af op nuwe en dan jong skrywers en slaan my hande saam as ek woorde lees wat so hoogdrawend is en gladnie inpas by wat gese word nie.
LikeLiked by 2 people
Soms kry ek die gevoel dat hulle hard probeer om hoog te skryf … dalk wil hulle probeer indruk maak? Wie weet?
LikeLike
Hul robeer te hard en dan val dit eintlik plat omdat verkeerde woorde gebruik word. Dis hoekom ‘n redigeerder eintlik belangrik is.
LikeLiked by 1 person
EK stem saam.
LikeLiked by 1 person
Of dalk weerspieël dit onsekerheid?
Dan is dit ook so dat die woord wat dalk vir my nog gewoon is, vir ‘n ander ou hoogdawerend mag klink … en andersom.
LikeLike
Mag wees. Ek dink dis eerder dat dit onkunde is omdat die betekenis en woord nie reg gebruik word nie. Skryf kom nie sommer vanself nie. Dis nie verniet ‘n kuns om te skryf nie.
LikeLike
En met oefening raak ‘n mens tog fikser … skryf fikser.
LikeLike
Goed gestel. Skryf fikser is ‘n goeie beskrywing om te kan verbeter.
LikeLiked by 1 person
Ek skroom nie om Afrikaans te praat nie (ek is immers in hierdie mooie taal groot gemaak) … en dan raak ek tog soms kwaad vir myself as ek ‘n Engelse woord gebruik!
Kan ek gou ‘n vinnige Camino storie vertel?
Ek onthou, op ons 2de Camino in Portugal, het ons vir ‘n paar dae saam met ‘n egpaar van Finland gestap. Dan en wan het ek en Berto in Afrikaans met mekaar gepraat wanneer ons iets mooi langs die pad sien en opgewonde is daaroor (ek kan nie so vinnig in Engels dink nie 😊). Die Finne het dan altyd vir ons oopmond aangestaar en gese dis ‘n vreeslike mooi taal en dat ons gesigte saam met die woorde praat … maar dan, die meeste Finne is mos amper emosieloos wanneer hulle praat, so vir hulle mos dit seker ‘n gesig gewees het as ons so beduie en lag terwyl ons praat!
LikeLike
Ek hou van jou Camino-storie. Ja, ek dink ons uitgelate, spontane Afrikaanssprekendes is vir baie mense iets om te aanskou. Of hulle altyd daarvan hou, weet ek nie, maar ek gee ook nie om nie! 🙂
LikeLiked by 1 person
Net so Toortsie 😁
LikeLiked by 1 person
Afrikaans, soos Engels, is ‘n lewende taal. Ek het hierdie net vanoggend oor Engels gelees: It takes a village to raise a child, they say. The same can be said for a language. In the case of the English language, it took many countries. England is considered its home, but to nurture it and to help it thrive, the language had generous assistance from assorted Germanic tribes, the Vikings, and the French. Also, from people who spoke many other languages around the world. A global village raised it and made it what a good little language it is. Empires come and go, but languages last longer. Terloops, ek dink Afrikaans is ‘n baie mooi taal.
LikeLiked by 3 people
Ja, en ons ‘oueres’ moet dalk maar aanvaar as die taal met tyd in ‘n ander rigting gaan as wat ons geleer is. 😁
LikeLiked by 1 person
En Engels is ook ‘n mooi taal.
LikeLiked by 1 person
My probleem lê by Kaaps. Dis wat my kinders praat. Die hoog-geleerdes in ons bruin gemeenskap probeer dit as taal vestig dmv woordeboeke en praatjies en literatuur. Dis soos my kinders se ouers praat en ek moet hulle “reghelp”
LikeLiked by 1 person
Ja, want Kaaps is behoorlik ‘n dialek op sy eie en hoe jy die reghelpding gaan doen, weet ek amper nie.
LikeLike
My vakadviseur sê in die werksomgewing moet Standaard Afrikaans gepraat word, maar die aktiviste sê daar bestaan nie so iets nie. AfriKaaps ontwikkel net soos Afrikaans ontwikkel het
LikeLiked by 1 person
Maar eintlik, in die skool neem hulle Afrikaans wat sekere taalreëls het. Hulle neem nie Kaaps nie. Moeilik!
LikeLike
Ek is net bly om dit te hoor, hoe dit ookal klink, ek meng nog altyd, gaan nie verander nie, masr waardeer die klanke baie
LikeLiked by 1 person
Ek meng ook maar. 🙈
LikeLike