Dankbaarheid en Afrikaans

My blikkies vol lekkergoed bring my vanoggend in dele van die dorp waar ek nie gewoonlik kom nie. Amoré Bekker van RSG is aan die woord en sê: “As jy nou, vier minute oor nege, nog niks het om oor dankbaar te wees nie, wees dankbaar dat …” en ek besef: Ek het soveel om voor dankbaar te wees. Om sommer net mee te begin: Om ‘n lieflike, sagte, warm bed te hê waarin ek vanoggend kon wakker word langs my man, langs wie ek al vir meer as 36 jaar wakker word … en dis maar net die begin. Weet jy, en ek kry respek vir daardie mense wat te midde van moeilike omstandighede ook vir hulle ‘n lewe probeer maak na die beste van hulle vermoë.

Sy praat verder oor Afrikaans en die woorde begin in my kop rondmaal om hierdie bloginskrywing te skryf wat ek al so lank lus het om te skryf. Hoe verder ek dink, hoe meer besef ek dat ek dalk uit twee of selfs meer monde gaan praat. Want aan die een kant is ek so bly dat mense Afrikaans probeer praat, dis nou mense wat nie Afrikaans as moedertaal het nie en vir hulle vergewe ek regtig as die taal skeef uitkom. En dan is daar ander wat miskien nie ‘n goeie Afrikaans aan moederskoot geleer het nie, maar lief is vir ons taal. En dan is daar die goeie gemiddeldes waaronder ek seker ook val, ons wat probeer om nog ‘n redelike goeie Afrikaans te praat. En ja, ek moet bieg, ook my taal verswak as ek nie daaroor waak nie. Ook ek raak deesdae onseker oor spellings wat nog nooit vir my ‘n probleem was nie. Of die regte woord op die regte plek gebruik.

Maar ek raak wel moedeloos as ‘slangwoorde’ soms sommer net as algemene gebruikstaal gebruik word. As daar regtig baie mooi Afrikaanse woorde is, maar ons verval sommer net in Anglisismes of die Verafrikaansing van Engelse woorde en soveel keer deur mense wat ek sou dink in staat sou wees tot goeie Afrikaans. Ag, en dan vergeet ek self ook sommer die Afrikaanse woord of steek dit in my kop vas.

En dan is daar ook mense wat regtig goeie en groot Afrikaanse woorde gebruik. Soveel so dat ek nie altyd verstaan wat hulle wil sê nie. Hogere Afrikaans sommer as gewone spreektaal. Oeeee en dan voel dit of my ou koppie seker maar net verskriklik plat is. En of my ore sommer toeslaan en my gedagtes begin dwaal na dinge wat my ou kleine koppie wel sal verstaan.

Ek is baie bly as ons taal ontwikkel, veral as daar goeie Afrikaanse nuutskeppings ontstaan. Maar ek is nie seker of sommer swak Verafrikaansing van Engelse woorde regtig groei van my taal beteken nie. Iemand vra op ‘n Facebookblad wat ‘n Afrikaanse gedig vol Engelse woorde genoem word.

Nouja, soveel dae, soveel dinge. Soveel monde, soveel menings. Smaak verskil. En juis hieroor, mag ek seker maar my mening ook hê, of hoe?

Mag jy ‘n mooi dag hê.

Toortsie

20 thoughts on “Dankbaarheid en Afrikaans

  1. Ek skroom nie om Afrikaans te praat nie (ek is immers in hierdie mooie taal groot gemaak) … en dan raak ek tog soms kwaad vir myself as ek ‘n Engelse woord gebruik!
    Kan ek gou ‘n vinnige Camino storie vertel?
    Ek onthou, op ons 2de Camino in Portugal, het ons vir ‘n paar dae saam met ‘n egpaar van Finland gestap. Dan en wan het ek en Berto in Afrikaans met mekaar gepraat wanneer ons iets mooi langs die pad sien en opgewonde is daaroor (ek kan nie so vinnig in Engels dink nie 😊). Die Finne het dan altyd vir ons oopmond aangestaar en gese dis ‘n vreeslike mooi taal en dat ons gesigte saam met die woorde praat … maar dan, die meeste Finne is mos amper emosieloos wanneer hulle praat, so vir hulle mos dit seker ‘n gesig gewees het as ons so beduie en lag terwyl ons praat!

    Like

  2. Afrikaans, soos Engels, is ‘n lewende taal. Ek het hierdie net vanoggend oor Engels gelees: It takes a village to raise a child, they say. The same can be said for a language. In the case of the English language, it took many countries. England is considered its home, but to nurture it and to help it thrive, the language had generous assistance from assorted Germanic tribes, the Vikings, and the French. Also, from people who spoke many other languages around the world. A global village raised it and made it what a good little language it is. Empires come and go, but languages last longer. Terloops, ek dink Afrikaans is ‘n baie mooi taal.

    Liked by 3 people

  3. My probleem lê by Kaaps. Dis wat my kinders praat. Die hoog-geleerdes in ons bruin gemeenskap probeer dit as taal vestig dmv woordeboeke en praatjies en literatuur. Dis soos my kinders se ouers praat en ek moet hulle “reghelp”

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s