November – ’n warrelwindmaand aan die einde van die jaar. ’n Maand wat jou amper onverhoeds betrap, want hy voorspel Desember, vakansiemaand, krismis.
As ’n mens aanvanklik aan November dink, is daar eintlik niks wat jou opgewonde maak nie. Ja, dis nog lente, maar nie meer ‘heerlike lente, die winter’s verby’ nie. Ook nie die mooiste, mooiste maand van Oktober wat waaragtig die mooiste maand hier in die Overberg is met sy rypwordende graan en sy fynbos in volle blom nie. Tog het November ’n bekoring van sy eie.
November vertel van rypheid. Dis ’n maand van afhandel, seker die mooiste Afrikaanse woord wat daar is. Ja, die dolle menslike gejaag om die jaar afgehandel te kry voor Desember aanbreek en almal see toe gaan, maar ook ’n maand van afsluiting in die natuur. Die blomme raak uitgeblom en skiet saad. Ook op die graanlande kondig die natuur ‘die einde van ’n seisoen’ aan. Soos die ou FAK-liedjie beaam:
‘As eens weer die akkers vol geelrype graan
met die gloed van die aandhemel straal,
sal juigende harte, van vreugde voldaan,
die oes van die lande gaan haal.
Die gerwe swaai op teen die geurende mied –
Dis die lente se einde en kroon.
En suisende sonbesies sing saam die lied:
die oes is die arbeid se loon.’
En wát ‘n beloning is dit nie! Veral in ’n wonderlike oesjaar soos vanjaar. Voorwaar ’n beloning op ’n jaar se arbeid! ’n Genadegawe van Bo. ’n Geskenk direk uit die hemel. En selfs al saai ons nie meer self nie, oes ons nie meer self nie, het ek genoeg oesjare in my lewe beleef om die opwinding daarvan te ken. Die vreugde. Die lang ure werk – dag-en-nag werk om alles afgehandel te kry. Die moegheid.
In November begin ons regmaak vir die see. In my kinderdae het tannie Mags kom help en is daar koekies gebak, blikke en blikke vol. Vrugtekoeke, ook blikkevol. En lang beskuite in sulke regop, vierkantige parrafienblikke wat omskep is in beskuitblikke. Ek berei steeds gaar kosse vooruit soos my ma: beesstert, beestong, Frikkadelle en ander geregte om sommer net vinnig uit die vrieskas te haal. By die see wil ons tog nie so hard werk nie, maar wel lekker eet. Of hoe? Hierdie jaar oefen ek Lentegeritsel deur Sinding om op my vriendin se verjaarsdag te speel. En ek ry met my driewielfiets op die plaas.
Vir skrywers is November ook NaNoWriMo-maand waar jy vyftigduisend woorde moet neerpen in die een maand as jy ’n NaNoWriMo-wenner wil wees. ’n Marathonmaand. ’n Fokusmaand. Want om dag vir dag eenduisendseshonderdsewe-en-sestig sinvolle woorde te skryf is meer as ’n marathon. Dis eerder ’n Camino. ’n Skryf-Camino!
November, jy is glad nie ’n maand wat ongesiens verbygaan nie. ’n Maand wat geïgnoreer kan word nie. O nee, jy is ’n maand waarmee rekening gehou moet word. Al wat ek van jou kan vra is, November, moenie té haastig wees om klaar te kom nie, hoor jy?
Toortsie
Goeie genugtig … 40,000 woorde in een maand (ek weet nie of ek eens so baie woorde praat in ‘n maand nie 😉)! Om soveel tree te stap, klink vir my net baie makliker!
Maar jy’s reg, November is die maand om baie dinge af te handel of klaar te maak of gereed te maak. En weet jy wat: November is die maand wat ek my laaste vak in die matriek eindeksamen geskryf het … ek sal dit altyd onthou! Toe was November my beste maand ooit!!
LikeLiked by 1 person
Laaste vak! Wraggies jou beste maand ooit. Ek kon Nanowrimo ern keer voltooi, maar toe het ek oor myself geskryf. Die volgende jaar get ek oor Trauma tot Triomf geskryf en halfpad gekom. Dis net te veel druk, navorsing en skryf om oorspronklik te bly.
LikeLiked by 1 person
Ek dink die dae is ewe skielik ook korter!
LikeLiked by 1 person
Beslis! En jou energie minder.
LikeLike
Pragtig geskryf, Toortsie!
LikeLiked by 1 person
Dankie liewe Perdebytjie
LikeLiked by 1 person
So bring elke Novemder tog sy eie oeste in. Die jaar loop afdraende einde toe as jy November bereik het. ( Net n regstelling dis nie 40000 woorde nie maar 50000 wat in Nov geskryf word. Ek trek reeds by 42000 op oomblik. My go is hierdie keer bietjie uit. Kom nie in n skryfritme nie.)
LikeLike
O aarde! Ek maak dadelik reg! Dankie. En jy is by 42000! Net 8000 om te gaan. Sjoe well done!
LikeLike
Soos my ma sou sê: die laaste lootjies weeg die swaarste dws die laaste is meestal die moeilikste om klaar te maak.
LikeLiked by 1 person
O ja, want dan is jy al moeg en jou idees is min, maar voor jy jou kom kry is dit sommer oor en verby. Jy kan dit maak! Slegs 800 woorde per dag …
LikeLike
Ek weet, maar ek loop sulke wye draaie om my rekenaar op oomblik. Gelukkig het ek so baie om oor te skryf dat as ek gaan sit laat waai ek. Dankie vir die aanmoediging waardeer dit baie.
LikeLiked by 1 person
Nog net die laaste 100 meter van 800. Jy kan dit doen! ❤️
LikeLiked by 1 person
Ek gaan dit wen. Sal nie sommer tou opgooi nie.
LikeLiked by 1 person
En toe wen jy! Veels geluk!
LikeLike
Dankie, ja ek was self verbaas om die sertifikaat te sien. Gedink ek moes nog geskryf het.
LikeLiked by 1 person
Vir my is november n nagmerrie . Laaste toetse, druip of nie en papierwerk daarmee saam. Gaan dit reen in oestyd of nie.
Mooi geskryf Toortsie
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die ‘mooi geskryf’. Ja, November is vir my ook nog altyd ‘n woeste maand. Ek dink dit is omdat ons boerdery van Jan tot Desember werk.
LikeLike