Eksperiment #3

Ja-nee, dis al weer Maandag en vandag moes my ou sonoondjie weer uithaal en wys. En ja, ek het beslis te veel van hom verwag, dit het ek van die eerste oomblik af geweet.

Vanoggend 9 uur het ek ‘n bevrore stukkie ‘pork belly’ in my sonoond gesit. Ek weet, ek weet, ‘n mens moet eerder ontdooide kos insit. Ag, en dit lyk toe of die sonnetjie lekker gaan skyn en oondjie sommer warm gaan word en toe sit ek sommer nog twee beessterte ook in. Bevrore, let wel. En skielik raak dit bewolk, sonnetjie bly wegkruip en die oond se temperatuur val tot by 40 grade Celcius. Wel, met ‘n wolk voor die son en 3 bevrore stukke kos, wat anders kan jy verwag? Dit, terwyl ‘n mens eintlik een ding op ‘n slag moet gaarmaak.

Maar Toortsie pendel mos en moet maar die son gebruik wanneer nodig.

Iewers het son weer sy kop uitgesteek en het hy die vark lieflik gaar gekry. Sag, sag, sag. Ek sou dit graag ‘n bietjie wou gebraai hê ook en ek is seker dat as dit al was in die oond en dit nie met ‘n beesstert of twee moes kompeteer nie, dit sou gebraai het ook. Die beesstert was al gaarderig, maar nog ver van sag af.

Die uitslag van my eksperiment? Ek dink dit was geslaag. Vir wat alles van die oondjie verwag is, beslis, want die vark was gaar en daar is baie ure se kooktyd by die beesstert verkort – kooktyd waarvoor die gas betaal moet word. En ek het weer heelwat kos vir die volgende paar dae. Wat meer kan ek vra?

Ek sal nie aanraai dat soveel kos op een slag gemaak wordnie. Mens oorlaai die oond onnodig.

Toortsie se reseppies werk sowaar in enige tipe oond – elektriese oond, gasoond, sonoond …

Toortsie

30 thoughts on “Eksperiment #3

        1. Ja, ek verstaan! My inkopies werk nog op die boeremanier – so, wanneer ek die slag ‘n beesstert of beestong sien, koop ek sommer twee en sit dit in die vrieskas tot wanneer ek dit dan nou weer dáár ontdek en dan maak ek gewoonlik sommer 2 op ‘n slag gaar, dis een keer se moeite. En dan is ek klaar vir baie lank voor ek dit weer eendag raakloop. 🙂

          Like

    1. https://sungenius.co.za/patio-solar-oven/

      Christa, kan jy glo? Terwyl almal nou vir hulle air fryers koop, koop ek ‘n sonoond, presies die teenoorgestelde!
      Die rede hoekom ek ‘n sonoond gekoop het, is omdat ek hou van kos wat lank en stadig gaar word. Dit veroorsaak natuurlik baie elektrisiteitsverbruik. En met Eskom wat nie aldag ewe betroubaar is nie … kyk met die son weet ek mos dat dit sekere dae skyn en ander nie. 🙂
      Die elektriese oond is beslis makliker, die sonoond staan buite en ek moet hom maar deur die dag draai agter die son aan. En ek dink ek oorlaai hom maar, maar tot dusver is ek baie tevrede met hom.

      Liked by 1 person

            1. Christa, hy is nogal groot. En diep. So, ek sit onder in sy vloer met gemak een van daardie swart oondplate waarin ons altyd die plaatkoek gebak het. Mens kry dit gewoonlik saam met ‘n nuwe oond. Dan sit ek een onderstebo bo-op om as deksel te dien, want daar moet altyd ‘n deksel op wees. Dan bo-op dit het ek ‘n medium swart kasserol met die ander kos. Die ding is, die son moet op die bak self skyn, so sodra ek twee goed insit, kry die onderste bak nie soveel son nie.

              Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!