As ouer vrou

Yahweh-Nissi het vanoggend ‘n bloginskrywing repost wat absoluut bevestig het waarin ek glo. Ons as ‘ouer vroue’ het ‘n roeping. Dit is geen verlies dat ons nie meer so mooi en so jonk is soos ‘n twintigjarige vrou nie, selfs al wil die media ons dit soms laat glo. Ons liggaam het al ‘agteruit gegaan’, maar het dit? Is die grys hare nie juis ‘n kroon op ons kop nie? Die plooie ‘n bewys dat ons al die lewe geleef het en lewenservaring het nie? Dat ons juis uit ons ervaring iemand anders van hulp kan wees as hulle dit sou wou hê?

Amy Carroll skryf so mooi oor haar vriendin se onsekerheid toe hulle as ouer vroue tussen ‘n klomp jonger vroue by die kantoor instap. En dan die wete dat hulle daar is om daardie jong vroue te help. Dat hulle hulle kán help, kan bemoedig, kan raadgee en help om die pad van die Here te volg. Soos Elisabeth destyds as ouer vrou vir Maria kon bemoedig en versterk in haar geloof toe Maria swanger was met Jesus.

Ja, ek het ook mentors gehad, het nog steeds. Vroue wat my hand gevat het op my pad. Ouer vroue wat my gehelp het om die regte keuses te maak. Soos my ouma Lenie, ‘n wonderlike kind van die Here. Tannie Mags vir wie daar nie grys areas was nie, die keuse was reg of weg. Daardie juffrou wat in die koshuis ingekom het toe ons die brose ouderdom van 12 was en ons gelei het tot ‘n baie opwindender lewe in Christus. Tannie Etta wat vandag nog vir my ‘n mentor is. Anél. Ronel. Tannie Vonnie. Stranddienstannies en -leiers. ACSV kringleiers. Die vroue in my bybelstudiegroep. Dora-Marí. Elkeen van die Goue Vroue.

En noudat dit my beurt is om ander te lei wanneer hulle daarom vra, kan ek dit met liefde doen in die wete dat God my toerus. Moet ek dit doen omdat ek die aflosstokkie nou in my hand het en ek dit nie moet laat val nie, maar veilig oorgee aan die volgende geslag. Kan ek hulle, danksy lewenservaring wat ek al opgedoen het, bemoedig en help om die beter pad te kies. En kan ek, selfs as ouer vrou, steeds by hulle ook leer.

Wat ‘n voorreg om ‘n ouer vrou te wees en te weet Wat Jesus al in my lewe vir my beteken het en te kan weet dat Hy leef en elke dag betrokke is in ons lewe.

Toortsie

9 thoughts on “As ouer vrou

  1. Dit is beslis n voorreg om as ouer vrou te kan help met insig uit eie ervaring. Ons ervaring is baie ryk egte regte voorbeelde omdat ons dit self beleef het. Jy het dit regtig mooi gestel. Ook dat ons steeds elje keer verryk word deur ander persone jinger as ouer vroue.

    Liked by 2 people

  2. Dit is mooi geskryf Toortsie ❣️. Ek dink ook met liefde terug aan my (vroue) mentors en besef soms eers nou wat hulle werklik vir my beteken het terwyl ek “groot” geword het. Met jou hart wat so vol is van Jesus se liefde, is ek seker jy is nou daardie sonskyn vir ander!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s