‘n Dag in die mall

My dogter sal vir julle vertel dat ek en sy vinnig kan koop. Ons kan in minder as ‘n uur se tyd ‘n hele winterskas koop. Ons soek doelgerig en vinnig, weet waar ons wat soek, kyk vinnig, kies vinnig, betaal vinnig. Want ons het gewoonlik nie ‘n dag mall toe gegaan nie, ons het dalk ‘n vinnige uurtjie op pad iewers anders heen tot ons beskikking.

Toortsie kort ‘n rok vir Camilla se troue. En dit gaan ‘n deftige geleentheid wees. Toortsie moet nou nie wéér uitstaan as die enigste een wat nie ‘reg’ aangetrek is nie. Soos nou die dag by die troue wat die tema ‘black tie’ was en sy semiformeel in die bontste van bont daar opgedaag het nie. Die enigste bont blommetjie tussen swart rokke en pakke nie.

Eintlik hét Toortsie al iemand gevra om vir haar ‘n rok te maak, maar sy ís nou vandag toevallig by ‘n mall en het meer as net ‘n driekwartier om te soek. Maar dis ‘n winkelsentrum wat sy nie eintlik ken nie. En die sentrum het meer as twee gange en twee verdiepings ook. Sy loop van winkel tot winkel. Kry warm, want die weervoorspelling het ‘n koue Kaapse dag voorspel, sy is winters aangetrek. Amper ook die enigste wintersblommetjie tussen die lenteblomme. Sy soek. Iets koelers om aan te trek en ‘n rok vir Camilla se troue.

Loop die sentrum deur en deur en deur. Verdwaal. Dan is dieselfde winkel aan haar linkerkant, dan aan haar regterkant, nie op dieselfde plek wat hy netnou was nie. En daar is ménse. Mense wat sommer net vir die lekker daar is. Vir die dag. Wat drentel in groot groepe. Wat staan en foto’s neem. Wat dwaal, want hulle het dalk nie eintlik iets anders om te doen nie.

Ja, Toortsie het ‘n rok gekry, maar sy vermoed dit is weer eens verkeerd. Want later koop jy net om te koop. Net om iets te hê. Daar het dan sulke mooi rokke in die venster gehang?

Nee kyk! Die Goue Vroue sal maar eerder vir Toortsie die regte uitrusting moet kies vir die troue! Voel ek. Dink ek.

Toortsie

En nee, dit is regtig nie my manier van ‘n dag lekker omkry nie. Rêrig êrig nie.

8 thoughts on “‘n Dag in die mall

  1. Die woord drentel is vir my ‘n baie goeie beskrywing van die ‘skare’ wat in ‘n winkel sentrum die dag/ure deurbring. Ek is ‘n in-uit mens en sal saam met jou kan vinnig stap. Ek weet wat ek soek en wil so gou as moontlik huistoe gaan – met of sonder wat ek gesoek het.

    Liked by 2 people

    1. Die eerste blog wat gister in my gedagtes was, was dat ek dankbaar is dat dit nie my lewensbestaan is nie. Ek sien nie neer daarop nie, maar die tweede Saterdag sou ek al mal geraak het. Ek ken mense wat uit die platteland Saterdag vir Saterdag mall toe kom. Sommer vir die lekker.

      Liked by 1 person

  2. Nee wat Toortsie, ek’s met jou … as ek die mall kan vermy, dan doen ek so! En weet jy, partykeer het daardie “black tie events” ook so ‘n bietjie bont nodig om die besigheid bietjie op te kikker 😉.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s