Scrapydo is tans besig om ‘n kursus te doen oor hoe om oor jou pyn, jou bangwees te skryf. Ek dink dit moet ‘n wonderlike kursus wees, want geen mens word pyn of vrees gevrywaar nie. Ja, ons kan dit ontken, of wegpraat, maar jy is ‘n supermens as jy geen pyn of vrese het nie, dink ek. Christa noem toe in die kommentare dat daar dinge is waaroor sy nie bang is om te skryf nie, maar versigtig is om te publiseer.
Ek kan my met albei vereenselwig. Soms is daar ook goed wat ek wil sê, wil skryf, glad nie bang is om te skryf nie, maar bang is om te publiseer om watter rede ookal. En soms is ek bang om my vrese in die oë te kyk. Tog het ek ook al geleer dat dit die moeite werd is om oor die pyn te skryf. En dat ek my heel beste skryfstukke skryf terwyl ek ‘in’ die pyn is. Terwyl ek die emosie ervaar en presies weet hoe dit op daardie oomblik voel. Die rouheid. Die egtheid daarvan.
Want as ek later daaroor skryf, het daar al weer ‘n velletjie oor gegroei. Is daar ‘n wasigheid. Kan ek net ‘vertel daarvan’ en nie meer in ware woorde uitdruk presies hoe ek gevoel het nie.
So ek het al geleer dat ek baie keer daardie blog skryf. Of ek skryf in my bidboek. Presies hoe ek voel. As dit té sensitief is wat ek in my bidboek geskryf het, skeur ek die blad op in klein stukkies, maar ek het die skryf daarvan gedoen. As ek dit op my blog skryf, stoor ek dit as ‘n konsep. (save draft.) Of as dit gaan oor ‘n sensitiewe onderwerp en iemand mag dalk voel dat ek haar pinpoint, stoor ek dit ook vir ‘n latere geleentheid.
En dan, wanneer ek later weer daarna kyk, skawe ek van die skerp hoekies af. Soos toe ek my kinderjareboek geskryf het, het ek dit aanvanklik rou en sonder filters geskryf. En elke keer wat ek daardeur gelees het, van die skerpigheidjies afgeskawe … en in die proses ook die pyn in my hart se skerp puntjies afgeskawe.
Om dit later te publiseer wanneer die tyd reg is.
Toortsie
Ai maar dit was nou n lekker eerlike skrywe. Ek is mal oor jou woorde van “skerp hoekies” en “velletjie”
Ons het die kere toe ons nog kampe met kinders kon hou, die neerskryf van jou eie sondes daar by die kampvuur gedoen. SONDE. Daarna n praatjie oor hoe God self jou vryspreek. VERLOSSING. Dan die opfrommel daarvan en in die vuur gooi. DANKBAARHEID. Die dankbaarheid is nie net dat die sonde vergeef is nie maar ook dat dit nie gepubliseer is nie. Selfde bevryding wat jy van praat.
LikeLiked by 2 people
Mnr Nel, dis lekker dat jy inloer! ‘n Vriendin van my het jare gelede vir my vertel dat sy vir haar ma ‘n openlike, eerlike brief moes skryf. En nie, soos ek sommer sou maak dit onmiddellik gestuur het nie. Nee, sy het dit laat lê en weer gelees en elke skerp stukkie of bytende stukkie wat daar nog kon wees, uitgehaal en eers tóé gestuur. Ek leer nog! Hierdie briefies van die kinders in die vuur en die verlossing en die dankbaarheid is wonderlik.
LikeLike
Ek stem saam daarmee om eers net te skryf soos jy dit beleef en voel. Dae of jare later as mens dit weer lees kan mens meer helderder daaroor dink. Dis wat ek ook bv doen as ek NaNoWriMo skryf doen oor my memoirs. Skryf alles neer en dan kom hersiening. Met my memory healing veral met tieners het hul ook alles neersgeskryf en dan hardop vir my gelees as hul wou, daarna het ons die papier aangesteek en verbrand.
LikeLiked by 1 person
Maar voor jy dit verbrand het, het jy dit verwoord en dís waar die goud lê. 🙂
LikeLike
Dis presies hoe dit is. Daardie tiener kinders het verligting gekry net omdat hul kon sê hoe hul voel. Dit gaan nie oor oplossing nie dit gaan oor vrede vind.
LikeLiked by 1 person
Ek stem heelhartig saam, maar daar is ‘n paar in my konsepte boks gestoor wat ek nie gaan publiseer nie. Dit is geskryf en dit was goed om te skryf.
LikeLiked by 1 person
Dis die lekker daarvan. Jy hoef dit nie te publiseer as jy nie wil nie. 😁❤️
LikeLiked by 1 person
Dis goed en nodig ook vir jou eie ontwikkeling en groei.
LikeLiked by 2 people
Dit kan seker net verligting bring! Dalk moet ek dit probeer!
LikeLiked by 2 people
Wat kan jy verloor deur dit te doen? 😁 en jy kan dit opskeur ook as jy wil.
LikeLike
Kan niks verloor nie, dankie Toortsie.
LikeLiked by 1 person
❤️
LikeLike
Toortsie ek maak juis so. Skryf en stoor onder konsepte. Soms net die titel, soms halfpad en somes volledige artikels. Ek beleef wat tans in die wêreld aangaan as ‘n oorlog waarby die hele wêreld betrokke is. En die burgers word tans in twee groepe gedeel. Aangesien geskiedenis my vak op skool was, het ek die nare gevoel dat daar eintlik drie groepe mense gaan ontstaan. En daarom skryf ek en publiseer ek dit nie.
LikeLiked by 1 person
Ja, drie groepe. Dit maak sin. 😁
LikeLiked by 1 person
Toortsie, dis ‘n baie waar ding wat jy nou hier skryf! Ek het so baie joernale (en sommer net papiere) waarin ek my emosies en gevoelens neergepen het … ek sit en wonder nou wat van dit gaan word … jy weet, eendag wanneer ek nie meer hier is nie …
Maar hoe dit ookal sy, baie daarvan is net neergeskryf omdat ek dit uit my gestel moes kry – soms was dit nie eens ‘n moeilike ding nie, maar mens kry perspektief. Ander kere was dit hartverskeurend … ek is glad nie terughoudend daaroor om oor ons verlies van 5 miskrame (en geen kinders) te praat nie … en al hoe ek dit reggekry het (behalwe nou met die genade van Bo), was om daaroor te skryf – oor en oor en oor. Die pyn vloei letterlik uit jou lyf soos jy skryf … ja, dit vat maande (en dalk soms jare), maar om terug te kyk na hierdie joernale en te sien jy’t oorleef … sjoe, dit is ‘n grootse ding 💌.
LikeLiked by 1 person
Sjoe 😢 vyf miskrame en geen kinders. Dit moes regtig verskriklik wees. So wonderlik dat jy daaroor kon skryf.
LikeLiked by 1 person
Ja, ek kan maar ruiterlik erken, dit was beslis nie ‘n maklike pad nie … maar om uiteindelik ook as oorwinnaar aan die ander kant uit te kom (deur so baie daaroor te skryf en te praat), is juis ‘n bewys dat dit werk (vir my altans).
LikeLiked by 1 person
Ek is dankbaar dat jy dit kon verwerk deur daaroor te praat en te skryf.
LikeLiked by 1 person
In ‘n seisoen van verlies en rou, is ek nét op my blog regtig emosioneel eerlik. Om daaroor te skryf vorm ‘n belangrike bousteen van my herstelpad. Ek is steeds verstom oor die meelewing wat ek in reaksie op my skribbels van vreemdelinge ontvang. Dit is helend. Dankie.
LikeLiked by 1 person
Ek het sulke wonderlike mense in blogland leer ken.
LikeLike