Die Argus roep!

Kyk, ek is nou só reg vir die Argus soos kan kom! Ek kan nou al mooi reguit ry. Gisteraand wou fietsie weer steeks begin en sommer links neuk, maar ek het mooi onthou wat manlief gesê het: ‘Draai die wiel!’ en raai, toe het hy sy nukke net daar gelos en ek kon die reguit stuk straat agter ons huis ry – op en af en op en af en …

Die grootste uitdaging was die spoedhobbels wat my behoorlik geskud het as ek hulle nie reg vang nie, maar verder ry ek al amper soos ‘n wintie! Sit glad al ratte oor en begin ontspan op my fietsie. En begin selfs al rondkyk. Man! Ek moes hom jare gelede al gekoop het. Bulte is maar net ‘n probleem. Ek dink nie hierdie cruiser-fiets is gemaak vir té steil oppe en awwe nie. So ek is tans redelik beperk tot die stukkie straat …

Maar die Argus roep! Iemand stel voor dat ek die mandjie vol Toortsieboeke laai en dit daar verkoop. Wat ‘n oulike plan! Of bossies blomme. Of wat van ‘n opkikkertjie of twee?

Sjoe! Laat ek loop oefen!

Toortsie

26 thoughts on “Die Argus roep!

    1. Liewe Marietjie, dis die lekkerste ding denkbaar. Ek was nooit regtig vaardig en gemaklik op ‘n tweewielfiets nie. Nou ja, vandag het ek die plaaspaaie aangedurf en moes begin leer om effense op- en afdraende te hanteer. Soms is die pad erg grof en dit in ‘n draai waar ek moet opgaan, dan têre dit maar. Vandag google ek toe sommer die verskil tussen ‘n tweewiel en ‘n driewiel. Ek is nie een oomblik spyt dat ek eerder drie wiele gekies het nie. Ek begin al klaar onstpan op my fiets. Ek ry rustig sodat die honde kan saamdraf. Ek wil nie ‘n marathon wen nie, ek wil dit sommer net geniet terwyl ek ‘n bietjie uitkom en tog ook oefening kry. Ek kan dit beslis aanbeveel. My fiets is ‘n Schwinn, ‘n Duitse fiets en is regtig stewig. Ek moes dit al jare gelede, toe ek ook die gejeuk vir ‘n driewiel gehad het, aangeskaf het. Nou is die idee mos om sommer saam met die kleinkinders te ry. Tot hulle vir ouma wegry.

      Like

Gesels saam, asseblief!