Fietsry is nie vir sissies nie.

Of is dit vir sussies? Ook nie!

Ek het fiets gery skool toe. Dit was maar ‘n spanningsvolle besigheid en ek het nooit baie gemaklik daarop gevoel nie. Ek besef nou dat my maag elke dag op ‘n knop getrek. Vermoedelik het my ouers s’n ook! Net ‘n gewone fiets. Sonder ratte. Eintlik het ek my blou driewieletjie wat ek kleintyd gery het, die meeste geniet.

My laaste fietsrypoging was op universiteit in 1981 wat ek gewaag het om iemand se fiets te leen en op ‘n besige Saterdagoggend Stellenbosch se nou strate in te vaar. My broer het my in baie duidelike terme gewaarsku dat ek dit eerder nie weer moet doen nie. Sien, hy was bang dat hy my moes graf toe dra. Hy hét seker geweet waarvan hy praat.

Jare later, toe ek hoor van die Argus, sê ek: “Ek sal die Argus ry as ek heel laaste mag wegtrek en dít met ‘n driewiel.”

Daarvandaan krap ‘n driewiel aan my. Dink hoe lekker sal dit wees as ek eendag afgetree sit by die see en elke dag my vis en tjips en ander kruidenierswaretjies met my driewiel kan gaan koop?

Eintlik het ek maar die idee laat vaar om ‘n pienk driewiel te koop, saam met die idee van ‘n rooi helikopter. Tot verlede week wat die gogga skielik ernstig byt. Ek bel ‘n fietswinkel en ja, hulle het een wat hulle sommer die volgende dag kom aflewer. Ewe die padfietsbande afgehaal en dikwielbande opgesit, net reg vir die plaas. Want op die dorp gaan ek nie ry nie, hulle sal mos myle ver sien dat ek nie weet wat ek doen nie!

Manlief moedig my aan om ‘n stukkie te gaan ry, hy ry saam met sy fiets. Net op die gelykpad agter ons huis. Ag toggie! Solank ek reguit ry werk dit. Die oomblik as ek draai, beland ek in die sloot of op die sypaadjie. ‘Draai die wiel!’ roep manlief en ‘moet net nie by die afdraend af ry nie!’ Die huis was ver toe ek terugdraai.

Wel, ek het die huis gehaal met my rooi driewiel. Met baie gesukkel. En nog meer gelag. En die afstand wat ek afgelê het was beslis minder as ‘n kilometer.

Nee, nee, ek gaan nie die Argus ry nie. Is jy laf? Ek wil nie my fiets onder sulke spanning sit nie! Eerder piekniekkos in die mandjie sit en lui-lekker op die plaas rondry. Iewers sal ek mos leer om die fiets in die pad te hou en te draai, of hoe? Ek moet net nie skandes maak en afval nie!

Toortsie

21 thoughts on “Fietsry is nie vir sissies nie.

    1. Man! Vanaand het ek sommer lank gery. Sy wou my weer heel aan die begin sloot toe vat, toe sê ek nee. Toe raak ek sommer behoorlik wintie! Die volgende is nou effense bulte en afdraende. Dink nie sy is gemaak vir rowwe bulte nie.

      Like

  1. Ai, lekker lag ek nou! Ek het ‘n fiets, maar is nie baie opgewonde om met hom (of is dit ‘n haar?) te gaan ry nie … teen die opdraande moet ek altyd afklim en stoot of anders val ek om. Dis hoekom dit so lekker is om te stap, as jy moeg raak teen die opdraande, kan jy net stilstaan en rus en jy val nie om nie 😁.
    Dink nou net hoe lekker sal dit wees as jy met jou driewiel aan ‘n pretrit kan deelneem en allerhande lekkergoete uit jou mandjie kan uitdeel 😍.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s