Terwyl ek deur die Ou Testament dwaal

Terwyl ek tans deur die Ou Testament dwaal, kan ek nie help om herhaaldelik die liefde wat God vir Sy mense het, raak te sien nie. Sy amper smeking dat ons aan Hom gehoorsaam moet bly, Sy gebooie moet nakom. Die belofte dat as ons aan Hom getrou bly, Hy ons sal seën. En hoe Sy mense (ons steeds vandag) keer op keer wegdwaal. Sy verwagting dat ons aan Hom ook getrouheid moet bewys soos Hy elke sekond van die dag aan ons getrou is en bly.

Hier en daar kom ek op vreemde gebeure af wat ek nie verstaan nie. Soos die dag toe Dawid die ark laat bring het na Jerusalem in 2 Sam 6. Iewers struikel die osse en Ussa probeer keer dat die ark iets oorkom en hy sterf net daar, want hy mag nie aan die ark geraak het nie. Genade! Hy wou net help! Ek sou ook gekeer het! Maar hoor net hier: Ek wonder toe in my hart daaroor, praat met g’n mens daaroor nie, net die Here weet dat ek daaroor wonder en Hy stuur die antwoord vir my saam met Minister Altric Johnson van Be Blesstified dat as God sê Hy wil nie hê ons moet iets doen nie, dat Hy dit bedoel. Ja, danksy Sy genade val ons deesdae nie meer dood neer elke keer wat ons iets verkeerds doen nie, maar ook vandag nog wil Hy eintlik regtig hê dat ons Hom eerder moet gehoorsaam.

Maandagoggend lees ek in 1 Konings 13 van die profeet wat vir Jerobeam moes gaan waarsku teen sy verkeerde dade. Die opdrag van God was dat hy nie brood of water sou inneem op daardie dorp nie. Wat hy gehoorsaam. Daar was egter ‘n ander, ouer profeet wat hoor van hom en hom terugroep met ‘n liegstorie en sê dat hy ‘n boodskap van God af gekry het dat die jonger profeet wel by hom moet kom eet. Die jong profeet sterf toe. Vreemd. Die vraag in my hart was, hoekom sou die ou profeet lieg en die jonge om die bos lei om om te draai en by hom kom eet? Die Bybellennium wys my toe iets waaraan ek ook skuldig is. Hul skryf niks oor die ou profeet se bedrog nie, net dat hy daarná besef het dat God se waarskuwing nie ligtelik was nie. Van die jong profeet skryf hulle dat hy gehoorsaam was, maar net tot op ‘n punt. En dít het my die heeldag bygebly: Ook ek wil gehoorsaam aan Hom wees, maar soms is die druk van buite so fel en gee jy maar toe al weet jy dat dit eintlik nie reg is nie … Ek sal my sokkies moet optrek.

Gelukkig is Sy genade genoeg. Ook vir my.

Toortsie

10 thoughts on “Terwyl ek deur die Ou Testament dwaal

    1. Maar regtig. Wat wou daai ou profeet bereik deur die jonge terug te roep selfs nadat hy gehoor het dit was ‘n opdrag van God? Of het hy hom nie geglo nie en toe word hy tog reg bewys?

      Like

  1. Dankie vir die deel. Ek wonder ook baiemaal oor goed wat in die Bybel staan en dan, soos ‘n goeie Pa, stuur Hy vir my die antwoord ure of paar dae later.
    Ongelooflik hoe getrou ons God is en sal bly!

    Net soos jy wonder oor die ou profeet, wonder ek dikwels oor mense in vandag se tyd en waarom hulle sekere dinge doen of nie doen nie. Seker maar die ‘eie ek’ of die vader van die leuen wat inspring en voorskryf . . . Ai tog. Dit sal maar ‘n daaglikse stryd bly tot die dag wat ons huis toe gaan.

    Like

Gesels saam, asseblief!