‘n Menslike benadering

Sjoe, het ek nou Dr Robert Cywes, ‘n pediater as ek reg is, se praatjie ongelooflik geniet en baat daarby gevind! Dit is deel van die Nutrition Network Advisor Training kursus wat ek tans doen wat grotendeels handel oor diabetes en vetsugtigheid. Hy het vetsugtigheid en insulienweerstandigheid en alles wat daarmee saamgaan, nagevors. Ek hou veral van die menslike manier waarop hy die kursus aanbied. Jy weet, dit is nogal iets wat ek die hele kursus ervaar: menslikheid. Geen Banting Polisie wat jou die hele tyd in ‘n blik wil druk nie. Eerder deernisvolle mense wat jou graag wil help.

Nadat hy verduidelik het hoe diabetes en vetsugtigheid vorm en al die belangrike feite daaromtrent genoem het, gaan haal hy die vetsugtigheidprobleem op ‘n heel ander plek: By ons emosionele status. En ja, dit verstaan ek baie goed. Want ek was nog my hele lewe lank ‘n emosionele eter. Ek eet as ek bly is. En as ek hartseer is. Of as ek opgewonde is. Of kwaad is. In my hele lewe was ek nog net twee keer sonder eetlus en dit was toe my pa die gat in sy slukderm gekry het en my broer die gif gedrink het. Nie eers Covid kon my eetlus of smaak by my steel nie.

Ek hou van die manier wat hy vetsugtige mense hanteer. Dat die persoon eers die probleem moet eien. En dat hy nie verwag dat ‘n mens oornag sommer alles sal reg doen nie. Nadat jy jou probleem verstaan en geëien het, is die eerste stap om seker te maak dat jy niks in jou mond druk wat koolhidrate bevat nie. Een stap op ‘n slag. Hy kyk na hoe gereeld jy iets in jou mond druk, maar veral die emosionele waarde daarvan. En hy hanteer dit nie as ‘n dieet nie, maar as ‘n leefstylverandering wat stappie vir stappie gebeur. Remove and replace. Remove and replace.

Maar veral ook sy gedagtes rondom emosies het so in my kraal geval. Hoekom eet jy? Hoe voel jy? Dat jy jou emosies op die naam noem (soos ons in TPM doen). Dat jy iewers in ‘n dag mediteer of bid. Stil word. Dat jy jou ‘issues’ sal hanteer. Ook goed doen wat lekker is. Goed doen wat jou TROTS laat voel. Stadig maar seker aktiwiteit begin insluit in jou program. Jou emosies voed. En gevoelswaarde het, empatie, sagwees vir ander en jouself.

Toortsie

14 thoughts on “‘n Menslike benadering

    1. Baie dankie. Jy weet, die Banting Polisie kan soms erg wees, dus vermy ek groepe waar hulle rondloop. Maar tog het hulle hulle merk gemaak, want toe ek op die Nutrition Network groep (wat bestaan uit dokters, spesialiste, dieetkundiges, en gewone mense soos ek) iets vra oor my groep en hulle vra of ek nog kunsmatige versoeters gebruik, was ek bang vir ‘n pak slae, wat ek toe nie kry nie, want die mense daar wil regtig mense help, nie pak gee nie. alhoewel almal sê ‘n mens moet kunsmatige versoeters heeltemal uitlos, sê hierdie laaste dokter nogals soos ek: Gebruik die kruk as jy dit nodig het. En hy sê ook nogal, soos ek doen, om nie brood en rys en pasta te probeer vervang met iets anders nie, maar dit net uit te los. Of, as jy dan fyn blomkool maak, moenie dit rys noem nie. Moet glad nie goed doen wat skakel aan die verbode kosse nie. Interessant. (En hy sê mens moenie koek bak nie, nie eers banting koek nie …. oeps!)

      Like

Gesels saam, asseblief!