Ek is dwars

Skielik besef ek: Ek is dwars. Ek dog ek is uniek, maar nee, ek is dwars. Ja, dwars. Nie stroomop soos ek altyd gedink het nie, maar dwars.

Iemand vir wie ek baie lief is vra my vandag hoe dit met my gaan. Ek dink ‘n bietjie oor die saak en laat weet dat dit goed gaan, dankie. Ek is keelvol vir my hees gansstem wat nou al aankom van verlede jaar Maart af, maar die ergste van alles is ek sommer op vir myself, want ek is dwars.

Kyk, ek weet ek dink anders as ander mense, maar REGTIG!? Soos nou oor die virus en die inenting en alles. Hulle sê jy kry twee groepe: Die vír ent en die daarteen. Ek was nie in een van hulle nie, want ek was dwars. Want ek het met my kop probeer redeneer. Jajaaa ek ís geënt. Maar steeds dwars.

Oor ek Bant en nie stysel eet nie. Die meerderheid mense met wie ek te doen kry, verstaan die konsep glad nie. Behoorlik dwars. En nou het ons Banters nog ‘n verkeerdom uitgangspunt oor sekere belangrike bloeduitslae ook, wat ek beslis nou nie hier gaan skryf nie. Dwars, man! Behoorlik dwars. Soos om vasgevang te wees tussen twee verskillende skole. Dit maak mens MOEG.

Hierdie artikel oor die New Age beweging het my koue rillings gegee. Dit is so om ons, tussen ons … ek sien hoe mense vasgevang word daarin sonder dat hulle dit besef en ek raak bang, beangs, want sonder dat ons dit besef raak ons geinfiltreer daarmee en ek voel dwars omdat ek wil skree: NEE! IS EK DAN AL EEN? Maar ek weet ek is nie al een nie en soos die spreker vandag by die VLV gesê het: Ons is juis geskep vir ‘n tyd soos hierdie. Dit beteken maar net méér bid spesifiek hiervoor: Dat God ons oë sal oopmaak sodat ons paraat sal wees en nie ingetrek word hierdeur nie, al is dit so mooi en lyk dit so goed en so vreedsaam … Laat ons nie weggelei word van Jesus Christus af nie. Hy is die Weg en die Waarheid en die Lewe, die Enigste manier om by God uit te kom.

Toortsie

29 thoughts on “Ek is dwars

  1. Ek dink ek verstaan. Het mense nie al hoeveel keer vit my ook gesê dat ek dwars is nie- en dit net omdat n mens net ‘n ander opinie het as die massa nie? Of omdat jy iets weet van iets waaroor die meeste ander nog nooit gedink het nie? Wees maar dwars wat. Ons hou van jou so.

    Liked by 2 people

            1. Ek bly sê: die antwoord is 5, maar jy kan op verskillende maniere by 5 uitkom, soos 2+3 of 4+1 of 7-2. Die feit dat ander nie my som in hulle koppe het nie, beteken nie dat my kop deurmekaar is of dat ek verkeerd is nie.

              Liked by 1 person

  2. Ek dink nie om te kan onderskei tussen reg en verkeerd op grond van jou geloof en dit uit te leef is dwars nie. As jou kennis jou help om te onderskei, is dit nie dwars nie. Dis feite! As jy jou punt en opinie kan bewys, doen jy meer as die grootmonde wat net agter die klank van hulle eie stem aanloop. Vra hulle om te bewys wat hulle sê en wat gebeur?

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!