Die krulkopmeisie se vriende

Soos wat baie mense wat al op my blog of my boek oor my kinderjare gelees het, is/was ek sensitief oor my hare. Want ek het krulhare en dit het soms vir my gevoel dat almal beter as ek weet hoe ek my hare moet hanteer en dat dit wat hulle sê, nie noodwendig die beste raad vir my is nie. Omdat ek nie vaardig met my hare is nie, het dit my lewenslank die beste gewerk as hulle my hare sommer net so kort as moontlik knip. Kort, kort, kort. Pennetjiekort. Want dan kon ek dit was en die borsel vinnig deurdruk en klaar. G’n gesukkel met ‘n haardroër nie. Soms het ek net ook lus gehad vir iets anders, soos enige ander mens. Ek bedoel, om 58 jaar met dieselfde haarstyl te loop … en dan laat groei ek dit en ek SUKKEL daarmee, veral as ek in die noorde van die land gaan vakansie hou, want dan doen die ander tipe klimaat as hier by die see nare goed met my hare en as ek terugkom by die huis is die eerste wat ek doen om dit weer so kort as moontlik te laat afknip.

Plaas dat ek al dáárdie jare na my krulkopdogtertjie geluister het wat gesê het: “Mamma, ‘n mens borsel nie krulhare nie.”

In hierdie jaar het ‘n paar interessante goed gebeur: 1) Ek het ‘n nuwe haarkapster gekry. En dít is een van die grootste krulhaargeheime – die haarkapster wat weet hoe om jou hare te knip, maar jou ook oplei om dit op ‘n maklike manier te hanteer. 2) Ek het iewers op die TV ‘n akteur gesien, gehou van haar hare en gedink dat dit my sal pas en ‘n foto geneem en vir my haarkapster gewys. Dit was die begin van die transformasie. 3) Ek het die volgende gegoogle: ‘grey curley hairstyles’. Grys, want my hare is grys, dus oulike haarstyle vir ouer dames. Foto’s afgelaai en neem dit saam haarkapster toe. Sy knip dit daarvolgens.

Nog krulhaarwenke wat ek uit my eie ondervinding kan gee? Goeie haarprodukte. 1) Goeie shampoo en ‘n treatment om mee te begin. Salonshampoo as jy dit kan bekostig. 2) Argan Oil om op jou hare te spuit nadat jy dit gewas het. 3) Gel vir KRULHARE! Vra by Clicks vir die persoon wat daar werk met die krulste hare, sy wéét watter produk om aan te beveel. Aunt Jackie’s don’t shrink flaxseed enlongating curling gel.

Nadat jy jou hare gewas het: 1) Moenie dit te vreeslik droogvryf met die handdoek nie. 2) Spuit Argan oli op hare. 3) MOENIE JOU HARE BORSEL of KAM en te veel hanteer nie. 4) Smeer jel aan. 5) Gebruik jou haardroër met ‘diffuser’ (die een met die punte in sy bek). Op sy WARMSTE en STADIGSTE stelling. Druk die diffuser letterlik in jou hare in en maak dit behoorlik droog. Moenie vreeslik hanteer nie.

En dit is dit.

Nou is my hare oral in almal se gesig en in my eie. Baie. Krullerig. Lekker. Lig.

Toortsie

28 thoughts on “Die krulkopmeisie se vriende

  1. Ek het ook daardie geleer, geen kam of borsel nie. Was nogal snaaks met my kleindogters, ek moes ń borsel gaan koop want hierdie ouma besit nie ń kam of borsel nie. Ek gebruik glad en geheel en al nie ń haardroeër nie, nie eers met ń diffuser nie. Goedkoop geheim is Palmers se olive oil conditioning spray. Dan natuurlik gel, sommer Flex se gel, goedkoop en maak nie jou hare hard en taai nie, want ek was net 2x per week hare. Die grootste geheim is die regte haarkapster wat krulhare verstaan en dit reg kan sny.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!