Kreatief in die kombuis

Sjoe, was ek nou woelig in die kombuis, ek is skoon opgewonde!

Ek doen mos die Banting Coach kursus by Nutrition Network en elke keer praat hulle van vleisaftreksel (broth). Ja, ek weet, toe ek sewe jaar gelede Tim Noakes se rooi boek gelees het toe ek begin Bant het, hét hy gesé ek moet my eie vleisaftreksel maak, maar dit het net na so baie moeite gelyk. Terloops, ek dink dat ek ‘n slag deur die resepte in daardie boek ook moet blaai, want ek het mos darem ook al intussen ‘n paar ‘nuwe’ bestanddele begin gebruik.

En net soos dit moes wees, kom vleisaftreksel nou die dag op ons Goue Vroue se Whattsappgroepie ook ter sprake. Ek loop soek oom Tim se resep en ons eie gesondheidskenner, VirgoC bevestig dat dit regtig ‘n gesonde iets is om te eet. Ek onthou nog as kind het ons sulke beesvleisblokkies in kookwater gegooi en dit was heerlik. Nie die beesvleisblokkies wat ‘n mens deesdae koop nie en eintlik is dit op die rooi lys …

So maak ek toe ‘n klomp bene bymekaar, gaar bene en ek wonder by myself of die voedingswaarde nie al uitgekook het nie. Onder andere ook ‘n skaapboudbeen. Bedek dit met water, laat dit vir twaalf ure uiters stadig prut op die stoof, dit moet eintlik nie kook nie, voeg daarby ‘n ui, ‘n geelwortel en ‘n handvol vars pietersielie en laat dit prut en prut en prut en … Dan moet dit blykbaar deur ‘n sif gedruk word, maar ek dink nie ek was heeltemal suksesvol daarmee nie en gooi dit toe in klein bakkies om te vries. Al wat ek kan sê, mense, dit is heerlik! Ek drink nou elke dag so ‘n halwe koppie daarvan. Sommer vir die lekker. Dit smaak soos sop. Lekker sop. Sies tog, die hond het sy neus opgetrek vir daai bene, daar was niks meer geur in nadat sy noi daarmee klaar was nie!

My man het mos ‘n groentetuin. Vandag staan die mandjievol grenadellas en die mandjievol soetrissies vir my en kyk. Sjoe, ek kan dit maar weer eens uitdeel, maar my man doen soveel moeite daarmee. Toe probeer ek sommer grenadella-soetrissieblajang. Natuurlik met xylitol sodat ek dit kan gebruik. Wat ‘n fonds! Ek het sommer die blatjangresep in my Toortsie 3, is dit nie? gebruik. En terloops, die drukkers het laat weet die boeke is klaar! Dit word môre verpak en gekoerier … hiehaaaa! As alles goed gaan het ek hulle DV Vrydag!

En asof dit nie genoeg is nie, het ek sommer ‘n heerlike nuwe koolresep ook gemaak vir die tweede keer … so ‘n klein bietjie verander sedert die eerste een, maar dit is mos wat ek my hele lewe lank doen – verander aan reseppies.

O, die Intermittent Fasting raak al makliker, hoor! Ek probeer om nie meer ontbyt te eet nie en eers middagete vir die eerste keer te eet. En dan eet ek weer aandete. Toe ons nou ‘n bietjie rondgery het, het ek van die wa af geval, maar nou is dit al amper ‘n gewoonte. Saam met Banting werk dit wonderlik, want jy raak mos nie so gou honger nie.

Julle moet ‘n mooi dag hê.

Toortsie

Die lieflike blatjangresep soos dit in Toortsie 3 is dit nie, verskyn. Tamatieblatjang, wat ek al met soveel ander vrugte of groente gemaak het.

37 thoughts on “Kreatief in die kombuis

  1. O mapstieks maar dit lyk te lekker en die aftreksel klink sommer baie lekker. Ek sal my man daarvan se – hy maak die heerlikste soppe en elke keer se ek hom om die hoeveelhede van die bestanddele neer te skryf – maar te veel moeite! Ek het hom gese hy moet eendag ‘n sop-restaurant begin. Hy het net juis gister ‘n hele hoender bewerk en ek gaan hom se om volgende keer hoenderaftreksel (op die Toorts manier) te maak!

    Liked by 2 people

  2. Ag Toorts…jy laat dit so maklik klink..het ook begin met die intermittent maar ai, die Oom gee my gas daaoor…jou resepte klink heerlik verfrissend en interessant

    Liked by 2 people

  3. Ooooooo, jou gut gaan so bly wees oor daai broth. En is wonderlik vir al die joint pyne, help met immuniteit en baie goeie bron van protein…en kollageen. Kan sommer sien hoe spring jy in kombuis rond. Dit klink heerlik al die resepte🌻🌻

    Liked by 1 person

        1. Jong, ek is glad nie een vir gadgets nie. Maar ek maak graag kos wat vir ure in die oond staan en met ‘n huis wat noord vront (front? deesdae twyfel ek oor f en v) het ek net gedink dat ek dalk baie ure se elektrisiteit kan spaar met so iets. Sy hitte kan glo tot 170grade gaan, seker afhangende van die son. Ek sal moet leer om die kos vroeg in te sit en vir die son die kans gee om die werk te doen. Kyk bietjie hier: https://karooplaas.co.za/sonoonde/

          Like

  4. Dit lyk baie cool, ek dink dit is ‘n great idee en dalk wat ons almal aan moet begin dink. Die idee dat dit werk in Skandanawiese lande het my laat besef dat ons in SA dan eintlik in ‘n droomplek bly vir die. Daai groot geel son skyn vir ons almal, verniet, elke dag. Ek kom nog by jou heerlik eet wat in daai oond gemaak is en daarna kan jy klasgee hoe sy werk🌻🌻☀️☀️

    Liked by 1 person

        1. Ek is steeds in afwagting vir die sonoond. Ek sal Maandag gaan uitvind of hy al opgedaag het. Met ons heerlike sonnige weer en soveel van my geregte wat in die oond gaargemaak word het ek gedink, hoekom kan dit nie sommer op my stoep in die son gaarword nie? Ek sal beslis kom beriggee hieroor. 🙂 https://sungenius.co.za

          Like

Gesels saam, asseblief!