Voor ek weer vergeet om te skryf en daar weer ‘n week verbygaan … Scrapy daag ons hierdie week uit om oor weer te skryf. Of die weer.
Vanoggend, toe ek die blindings oopmaak in ons kamer, sien ek die pragtigste prentjie. Om die waarheid te sê, ek sien elke oggend as ek die blindings oopmaak, die pragtigste prentjie. En die wonder is dat die prentjie elke oggend anders lyk. Wat ‘n geskenk is dit nie! Om die waarheid te sê lyk dit nou al weer anders as ‘n paar minute gelede, want die son is nou besig om sy kop uit te steek. Swellendamberg op die horison is ‘n blougrys, die lagie miswolkies wat bokant hom is, ‘n rooipienk. Die lug is ‘n wasige blou, ek is besonder bewus van blou lug op die oomblik, want my borduurprentjie moet die regte blou gewerk word. Dit is ‘n massiewe stuk lap wat lug moet kom, maar Seegogga gaan my help om die regte blou te kies en wys hoe om te skakeer. In die laagliggende dele lê nog mis, en dit is nou al weer minder as ‘n paar minute gelede.
Dan, die graan. Die graan, julle. Die graan! Die graan is fantasties vanjaar. Dis groenste groen en die goudgeel canolaspatsels oral is prentjieboek mooi. Ons is die Here so verskriklik dankbaar. Vanjaar het ons regte outydse Kaapse weer gehad. Dit voel vir my of dit amper elke week gereën het. Goed gereën het. Nie tiptiptip nie, sommer shorrrr.
‘n Mens kan so maklik vergeet hóé afhanklik ons van die weer is. Dis deel van ons elkedagse bestaan. Ons het elke druppel reën so nodig – nie net die boere nie, maar elke liewe mens. Reën was skoon, die omgewing, ons siele. As dit die jaar goed reën, ervaar ‘n mens ‘n ander atmosfeer onder die boere as wanneer dit ‘n droë jaar is. Maar nie net die boere nie, elkeen van ons het reën nodig. Want elke stukkie kos wat ons in ons mond druk, is afhanklik van reën. Van water. Ons gesondheid is afhanklik van water.
En ons hier in die graangebiede het die wind nodig sodat ons graan bestuif kan word. As die wind nie waai nie, kan die graan nie bestuif word nie. Kan daar nie graankorreltjies kom nie. Die wind is ook nodig om die wolke aan te dryf wat die reën bring.
En ons het sonskyn nodig. Sonskyn om ons harte te verwarm en om plante te laat groei. Vanjaar kon ons letterlik hoor hoe die graan groei op ‘n sonskyndag ná die reën.
Ek weet nie van jou nie, maar ek het ‘n verbintenis met die weer. Ag okay man, ek is deur die weer, as jy dit nou so wil noem!
Toortsie
Ek stem saam met jou. Die weer is die belangrikste deel vir lewe. Baie bly jul het n outydse reenseisoen beleef. Hier is dit ook so. Reen is nodig vir alle lewe. Nou gaan ons die somer met n glimlag tegemoet. Dankie vir jou skrywe.
LikeLiked by 1 person
Jou beskrywings is so lekker om te lees.
LikeLiked by 1 person
Dankie
LikeLike
My het weer met jou skryftalent vir ons die weer uit ‘n ander oogpunt laat sien. Weereens uitstekend!
LikeLiked by 1 person
Dankie. 😁
LikeLike