Wasdaguitdaging: Ry + loop = Ryloop

Scrapydo is so getrou om die wasdaguitdagings te plaas en dan dink ek dadelik wat ek wil skryf, maar voor ek my kom kry is die week, of weke, al weer om! Haar laaste uitdaging was: Ry + loop = ryloop.

Ryloop is nie iets wat ek al vreeslik in my lewe gedoen het nie. Eintlik nog gald nie. Want ryloop is gevaarlik vir meisiekinders. Ek het wel baie keer gehoop dat iemand my sal optel op pad skool toe, maar dan was dit húlle idee en in daardie jare heel veilig, maar nie ek wat my duim gegooi het nie.

Deesdae is al ry wat ek ry, met ‘n motor. Ek is lief vir ry, maar veral vir saamry, want dan kan ek langsaan sit en brei of die wêreld bekyk. Ek gee nie om om self te bestuur nie, maar dit maak my eintlik maar moeg as ek die langpad alleen aandurf. Saamry is lekkerder.

As kind het ek fiets gery skool toe. Ek was nooit ‘n goeie fietsryer nie en stel glad nie meer belang om fiets te ry nie. Ek het wel op ‘n stadium gesê dat ek vir my ‘n pienk driewielfiets wil koop. My gedagte was om, wanneer ak afgetree het en op die dorp of by die see woon, elke dag ‘n entjie met my driewiel te ry en my stukkie gebakte vis gaan koop met my fiets. Maar ek moet erken: dit sal nie gebeur nie. Nie sommer nie. Want ons woon teen ‘n liederlike bult en om daardie bult uit te trap, is nie kinderspeletjies nie. Nee wat, dan loop ek eerder.

As kind het ek ponie gery. My pa het Shetland ponies gehad. Ek dink nie ek het baie gery nie, toe ‘gooi die ponie my af’, waaroor ek nou baie wonder. Het dit regtig gebeur of het die verbeelding ‘n groot rol gespeel? Hoe sal ek ooit weet? Ek het nooit weer gery nie. Later wou ek graag perd ry. Ek was reeds in die koshuis en my pa het gesê dat ek mag, maar dan moet ek elke naweek ry. Die probleem is dat perde steeks raak as jy net soms ry. Ek het toe nooit aan die gang gekom nie. My pa het my seker maar te goed geken!

Loop. Stap. Dit kan ek ure lank doen. Staproetes. Stap in die berg. Gou oorstap na iemand toe. Ek is mal oor stap. O in die natuur te wees, die son op my vel te voel. Om sommer net diep in my eie gedagtes te wees, dinge deur te wek in my kop. Planne te maak. My twee ou voetjies is nie onwillig nie. Ek moet sê, berg-op is nie altyd maklik nie! Maar as ons eers bo is, is dit ‘n ander storie.

Toortsie

10 thoughts on “Wasdaguitdaging: Ry + loop = Ryloop

  1. Dit gaan met my ook so. Ek dink nog aan n onderwerp om te gebruik dan is die week reeds verby as ek wil skryf. Loop is vir my ook lekker. Dis soos jy se, mens se kop kom oop as jy so loop. Buite in die natuur se loop is natuurlik die lekkerste. Dankie dat jy geskryf het jy maak dat ek sommer die nuwe uitdaging moet bedink.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!